Kuier en knuppel-eet op Kakiebos se stoep PDF Print E-mail
News - Vreethans
Thursday, 19 February 2015 22:50
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Kakiebos, noem hulle die nuwe kuierplek wat op Kaalfontein kom wortelskiet het. Vlak langs die teerpad tussen Rayton en die ou Bronkiepad, staan dié Kakiebos – net daar waar die Portugese groentewinkel eens was.

Ons sit op ‘n hittegolwende Sondag in Februarie af Kakiebos toe om te loop kyk en te loop eet – met die bykomende hoop op ‘n koeltetjie teen die versengendheid en ‘n kouetjie vir die afkoel van die innerlike. En dié hoop het nie beskaam nie:
Jy ry tot agter, half om die Kakiebos na die ruim parkeerplek, maar vandag staan al die besoekers se rygoed in die diep koelte van die groot naaldbome neffens die inrypad. Dis waar ons ook stilhou.

Ons neem plaas op die onderdakdek. Die dak is hoog en goed geïsoleer teen die son se aanslag en dis alkant oop, sodat die luggie wat trek, sy welkome verkoelingswerk kan doen. Jy kan binne loop sit in die eetlokaal, waar ‘n snuisterywinkel ook sy staanplek gekry het.

Van ons stoeptafel af kan ons die bedrywighede in die kombuis gade slaan, waar eienaar, Theunette, self agter die potte bontstaan. Ek hou van ‘n plek waar hulle nie wegsteek wat in die kombuis gebeur nie. Dit gee my ‘n rustigheid oor dit wat ek gaan eet.


Kakiebos se gesig wat pad se kant toe wys. Agter is ruim parkeerplek en ‘n kinderspeelpark

Die Duitse bruisdrankie wat ‘n vriendelike kelnerin aanbring is yskoud, soos dit hoort. Vriendelike kelnerin bring ook twee redelik lywige spyskaarte aan. Dis lekker gesellig hier op Kakiebos se stoep.

Die ander gaste is duidelik op hulle gemak en dit lyk of die meeste mekaar jare reeds ken. Die verkeer op die teerpad pla aanvanklik ‘n bietjie, maar, soos die kreef, raak ons ook gewoond daaraan.

Die spyskaart is anders as dié wat ‘n mens deesdae as reël by eetplekke kry: Dit is tweetalig. In die taal wat die meeste van die gaste (ook as ‘n reël) by die gebied se kuierplekke praat – en in Engels.

Ontbyt by Kakiebos kos vanaf R25 vir potbrood met botter, konfyt en kaas, tot R68 vir die ‘plaasontbyt’ met wors, spek, eier, maalvleis, sampioene, roosterbrood met kaas en konfyt en koffie of vrugtesap. Teen R30 kan jy eier, spek, tamatie en roosterbrood bestel en skilpadjies met pap en gebraaide tamatie kos R45.

Die nege verbuigings van hamburger kos R40 en ‘n wisselende paar rand daar verby. Die keuse van 12 soorte roosterbroodjies kos tussen R15 en R30. Onder ligte etes is happiemandjies, quiche, jafel en vleispastei en meer te kry. Voorgeregte sluit die te-verwagte hoenderlewertjies in en die sampioene word gedoen met biltong room en kaas.


Sondagmaal by Kakiebos

Ek raak amper nostalgies as ek ‘n goeie, outydse ‘mixed grill’ op die spyskaart sien, al noem Kakiebos se mense dit verkeerdelik ‘gemengde braai’ in Afrikaans. Die allegaartjie (kug, kug) bestaan uit wors, skaaptjops, ‘steak’, varkrepies, eiers, skyfies en slaai en dit kos R85. Vark kaiings met pap kos R45.

Kakiebos se hoofgeregte bestaan uit agt vleiskeuses, waarvan vark sy plek met vier vol staan: Eisbein teen R110, varkribbetjies (375 g) teen R68, varktjops teen R68 en ‘n varkfillet met knoffelroomsous, ook teen R68. Die T-been kos R80 vir 350 g en R98 vir 500 g en die kruisskyf R68 vir 250 g en R80 vir 350 g. Ek maak my somme en vind dit vreemd dat die T-been meer kos as die ‘rump’. Maar die pryse blyk baie billik te wees. Alles kom saam met ‘n keuse van stysel en slaai of groente.

Buite op ‘n swartbord het ons gesien dat jy vandag (Sondag) ‘n bord kookkos by Kakiebos kan kry – met poeding en dit teen R80. Ons vra en die kelnerin sê dit is gebakte varkboud, gebakte hoender, rys of stampkoring, pampoenkoekies, aartappel en roerbraaigroente. Ons bestel (Metgesel sonder die varkensboud) en wat later voor ons neergesit word, is twee borde tot oorlopens toe vol met regte Sondagkos, soos by jou ma se huis.


Alkant oop op Kakiebos se stoep, sodat die luggie lekker koel kan deurtrek

Die netjies gesnyde, skywe varkboud is met ‘n lekker dik bruinsous bedruip. Tog vra ek vir Engelse mosterd vir die vark en kelnerin kom terug met ‘n potjie Duitse mosterd. Ek besluit, dis seker ‘n Duitse vark en dis maar reg so.

Ons het lekker en knuppel geëet dié Sondag by Kakiebos. Vir my pas halfgaar, roerbraaigroente nie by só ‘n Sondagmaal nie, maar dis net ‘n persoonlike voorkeur vir goed soos goedgaar groenbone, patats en kapokwortels. Metgesel was gaande oor die groente.

Die nagereg was malvapoeding met vla. Dié vat ons in brakbakkies huis toe om te geniet as die knuppels effe gesak het.

Jy kan Kakiebos bel by 083-766-2963.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online