Groen lig vir nuwe Hazeldean-pad gegee PDF Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 20 February 2015 00:50
Untitled Document

Hazeldean Boulevard is die naam van ‘n nuwe pad wat deel gaan word van die paaie-infrastruktuur wat ‘n nuwe afrit van die N4-snelweg gaan insluit.

Konstruksie van dié pad van R90 miljoen, wat beplan word om verkeersdruk op Silver Lakes-rylaan te verlig, gaan dalk vroeg volgende jaar begin en sal glo 12 tot 18 maande neem om te voltooi. Meer as
20 000 voertuie gebruik Silver Lakes-rylaan op ‘n daaglikse basis.

Hazeldean Boulevard gaan omtrent parallel met Silver Lakes-rylaan loop en gaan by Lynnwoodweg-verlenging/Grahamweg aansluit.

Volgens Hendrik van Zyl van Abland, die maatskappy wat die pad gaan bou, het die Tshwane Metroraad die omgewingsbepalingsverslag reeds goedgekeur.

Die grootste deel van die pad gaan gebou word op grond wat deur die Hazeldean Ontwikkelingskonsortium (Abland en Sable Homes) besit word en die res gaan deur verskeie private eiendomme in die omgewing van Lynnwoodweg loop.


Die N4-snelweg met die Hans Strijdom-rylaan (Solomon Mahlangu/M10)-afrit onder en Silver Lakes Gholflandgoed regs van die snelweg

‘n Toekomstige snelweg, genaamd die PWV17, is beplan om die N4-snelweg met die R21 naby die Irene Country Mall te verbind. Hazeldean Boulevard is die eerste fase van die N4/PWV17-wisselaar en ‘n gedeelte van die PWV17 snelweg in ‘n suidelike rigting, wat by ‘n beplande verlenging van Silver Lakes-rylaan gaan aansluit.

Daar is ook planne om Hazeldean Boulevard verder noord oor die N4 te bou om aan te sluit by Hans Strijdom-rylaan (Solomon Mahlangu).

In Die Bronberger van Julie 2007 reeds het ons berig dat ‘n N4-afrit oos van Hans Strijdom-rylaan en wes van die Donkerhoek-Boschkop-afrit die groen lig gekry het van die Nasionale Padagentskap (SANRA) en die Gautengse Departement van vervoer (Gautrans).

Konstruksie van die eerste fase van dié afrit sou in 2008 begin het en daar is gesê dat Sable Homes en Abland, ontwikkelaars in Hazeldean, ‘n groot bydrae tot die koste van die projek sou lewer. Die beraamde koste van die projek het van R50 miljoen in 2007 tot meer as R200 miljoen in 2008 gespring.
Dit blyk of die huidige R90 miljoen kosteberaming net die konstruksie van Hazeldean Boulevard insluit en nie dié van ‘n nuwe N4-afrit nie.

In 2008 het Abland se Jurgens Prinsloo gesê dat dit verskeie jare kon neem om die volle wisselaar te ontwikkel en dat dit kon beteken dat die PWV17 eers voltooi moet word, voor ‘n N4-afrit gebou sal word.


Silver Lakes-rylaan waar dit by die Hazeldean Winkelsentrum in Lynnwoodweg-verlenging (M6) aansluit

K54
Intussen is niks verder oor die beoogde K54-roete, wat beplan is om in ’n suidwestelike rigting vanaf Donkerhoek deur Mooiplaats, Zwavelpoort en dan tussen Mooikloof en The Wilds in Rietvleidam se rigting te loop, bekend gemaak nie.

Die 80 km lange roete is deel van die groter Gauteng-padnetwerk en strek van Pad 25 noord van Cullinan. Dit loop suid tot by Mamelodi, en dan in ’n suid-westelike rigting deur die Bronberg-gebied en verder wes, parallel met die R28, tot by pad P79-1 naby Krugersdorp. Slegs die deel van die K54 wat deur Mamelodi loop, is voltooi.

In Oktober 2003 het Die Bronberger berig dat die res van die K54-roete nie in Gautrans se vyf-jaar beplanningsraamwerk geval het nie.

In 2008 het ons berig dat Gautrans se Klaus Schmidt by ’n byeenkoms van eiendomsagente in die nuwe ooste van Pretoria, gesê het dat Gautrans nie geld het om met die bou van beplande paaie in die gebied voort te gaan nie.

 

© 2019 Die/The Bronberger