Kameel-nefie uitgeknip vir goeie plot-boerdery PDF Print E-mail
News - Artikels
Thursday, 19 February 2015 22:49
Untitled Document

Spoeg alpakkas regtig? Hoe mak kan hulle word? Sal jy self ‘n alpakka kan skeer en die vesel verwerk? Vrae soos hierdie, wat oor dié wollerige lang-nek diere gevra word, gaan op Saterdag 4 April by die heel eerste Nasionale Alpakka-dag beantwoord word.

Die Suid-Afrikaanse Alpakka-vereniging het gereël dat alpakka-boere landswyd op dié dag hulle plase vir besoekers oopstel en goeie nuus is dat daar ‘n hele paar Alpakka-boere in ons kontrei is.

Zani en Jan Gouws, alpakka-boere van Kleinfontein, sê dat dit jou kans is om ‘n baba Alpakka, wat ‘cria’ genoem word, van naderby te sien, om te leer oor die diere se fassinerende geskiedenis en hoe hulle fyn hare as ‘vesel van die Inka-gode’ bekend geword het. Daar is selfs plase waar jy kan sien hoe die vesel gespin en geweef word.


‘n Alpakka met ‘suur-mond’ nadat hy gespoeg het

Kameel
Alpakkas, vicugna pacos, is deel van die Camelidae-familie. Die kameel se Suid-Amerikaanse neefs is die guanaco, lama, alpakka en vikoenja. Nie een van hulle het die kameel se kenmerkende boggel nie. Die lama en alpakka is mak diere, terwyl die guanaco en vikoenja wild voorkom.

Alpakkas is 6 000 jaar gelede deur die Inkas makgemaak. Lamas is as pakdiere gebruik, maar alpakkas is vir hulle vesel geteel.

Ná die inval van die Spanjaarde, is skape in Suid-Amerika ingevoer en het die Inkas met hulle alpakkas al hoe hoër in die Andes-gebergtes opgetrek tot alpakkas amper uitgesterf het. Eers onlangs is die waarde van alpakka-vesel herontdek en na die Verenigde State, Brittanje en Australië uitgevoer. Dit word beraam dat daar vandag vier miljoen alpakkas in die wêreld is.


‘n Alpakka-wyfie en haar ‘cria’
Foto: Alpakka Vereniging

Boer
In Suid-Afrika het die teel van alpakkas en die verwerking van hulle luukse vesel ‘n groeiende landboubedryf geword en baie mense verkies om met dié diere te boer omdat jy hulle nie hoef te slag om ‘n inkomste te skep nie.

Hulle kan goed saam met ander vee op ‘n plot oor die weg kom en is geharde diere wat lank in droogtes met min voer kan oorleef. Tog is sulke omstandighede nie ideaal vir die beste veselproduksie nie.

Oor die algemeen lewer ‘n hoë-proteïen dieet beter vesel. As hulle te min minerale en spoorelemente inkry, word alpakkas se vrugbaarheid, beenstruktuur en konformasie beïnvloed.

Alpakkas kan vrylik in die veld wy, maar die meeste veldsterftes word aan Suid-Afrikaanse giftige plante toegeskryf. Hulle kan ook in ‘n klein kampie woon, maar hoë-digtheid kan spanning veroorsaak.


Luukse vesels van ‘n alpakka-boerdery

Ruimte
Stalle moet omtrent 2 m hoog wees en daar moet 2 m² ruimte vir elke dier wees. Afhangende van beskikbare weiding, kan jy omtrent agt alpakkas per hektaar aanhou. Heinings moet ten minste 1,2 m hoog wees en dit is belangrik om seker te maak dat hulle genoeg skadu het om in te skuil.

Dit mag nodig wees om hulle toonnaels te knip, hulle tande kan aandag nodig kry en ontwurming, inenting en insekbeheer is nodig.

Jy kan nie net een alpakka aanhou nie. Hulle is tropdiere en in die natuur lewe hulle in familiegroepe wat uit ‘n gebiedsgebonde Alfa-mannetjie met wyfies en hulle kleintjies bestaan. Hulle is saggeaarde, nuuskierige, slim diere, maar omdat hulle prooidiere is, kan hulle senuweeagtig raak as hulle bedreig voel.

Alpakkas maak ‘n soort neurie-geluid wat gerusstellend is en die ander in die trop laat weet waar hulle is. Dié neurie kan baie verbuigings aanneem en hulle waarsku die trop dat ‘n indringer op pad is deur skerp, hoë-frekwensie geluide te maak.


Só word ‘n alpakka geskeer
Foto: Steven Lane

Spoeg
Die trop sal kleiner roofdiere met hulle voorpote aanval en hulle kan spoeg en skop. Omdat hulle nie hoewe het nie, is ‘n skop nie lewensgevaarlik nie, maar hulle toonnaels kan skade aanrig.

Nie alle alpakkas spoeg nie, maar almal kan as hulle wil. Eintlik is ‘spoeg’ die verkeerde woord. ‘n Alpakka braak sy suur maaginhoud, gewoonlik ‘n groenerige vloeistof, en spoeg dit dan na ‘n gekose teiken. Dié proses het ‘suur-mond’ tot gevolg, waar die dier se onderlip hang en die mond oop gaap. ‘n Hangende onderlip is ook ‘n teken van spanning.

Sodra ‘n alpakka sy eienaar ken, is die kanse goed dat hy sal toelaat dat sy rug en nek aangeraak word. Hulle kan opgelei word en geleer word om uit jou hand te vreet en dié wat as troeteldiere makgemaak word, sal jou toelaat om hulle te vryf, alhoewel hulle nie daarvan hou as hulle voete, onderbene en maag aangeraak word nie.


Twee alpakka-mannetjies baklei
Foto: Alpakka Vereniging

Om aan te dui dat hy vriendelik is, maak ‘n alpakka ‘n kliek-geluid terwyl hy sy stert oor sy rug heen en weer ruk.

As jy ‘n alpakka moet vang, is die maklikste manier om hom om die nek vas te hou, met sy kop onder jou een arm en jou een hand op jou ander gewrig.

In ‘n beperkte spasie, sal alpakkas ‘n gemeenskaplike mishoop hê. Hulle hou daarvan om in sand te rol en selfs as jou kamp uit pragtige groen gras bestaan, sal hulle self daar ‘n sandput grou.


‘n Alpakka kleintjie staan as ‘n ‘cria’ bekend
Foto: Alpakka Vereniging

Mannetjies
Wanneer mannetjies baklei, gee hulle ‘n voëlagtige skreeu, waarskynlik om die teenstander bang te maak. Mannetjies word gewoonlik van mekaar weggehou. Hulle kan vanaf een tot drie jaar oud begin voortplant, maar is eers op vyf jaar oud volwasse. Die wyfies kan vanaf een tot twee jaar oud volwasse wees, maar ‘n mens moet eers met haar begin teel as sy omtrent 42 kg weeg.

Sy sal omtrent 11 en ‘n half maande dragtig wees en ‘n enkele kleintjie, bekend as ‘n ‘cria’ kry.

Tweelinge is baie skaars. Crias kan na omtrent ses maande gespeen word as hulle omtrent 25 kg weeg.

Alpakkas word gewoonlik 20 jaar of ouer.


‘n Geskeerde alpakka
Foto: Imgur

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online