Gebrek aan sosiale gewete |
|
|
News -
Kommentaar
|
Wednesday, 15 October 2008 22:39 |
Untitled Document
Hoe kry jy ‘toestemming’ van Kungwini om ‘n konstruksiekamp op jou
grond op te rig wat indruis teen bykans elke munisipale regulasie en
riglyn in die boek? Geen pryse vir die regte antwoord nie.
Langs die Boschkop-teerpad is só ‘n tydelike konstruksiekamp opgerig
sonder enige inagneming van die gevolge wat dit op die lewens van die
gemeenskap en die omgewing sou hê. Net nog ‘n “glorified” plakkerskamp
in ons gebied, maar hierdie keer met die seënwense van die owerheid
en tot die voordeel van een kontrakteur wat oënskynlik nie ‘n snars
omgee vir die gemeenskap wie se lewens hy in die proses ontwrig en
versuur nie. (Lees die berig op bl. 10.)
Die blikhutte is bloot staangemaak en meer as ‘n 100 konstruksiewerkers
en hulle gaste het hulle intrek geneem. Tereg is inwoners van die
omgewing erg omgesukkel oor gebeure sedert die ontstaan van die kitskamp.
Drade word geknip om gerieflike kortpaaie deur hoewes te maak;
diefstal en inbrake het skielik kwaai toegeneem; die paar verskuifbare
toilette kry nie veel aftrek by die nuwe intrekkers nie en die nodige word
oral in die veld en ten aanskou van almal gedoen; rommel word dié
wêreld vol gestrooi en dit word tot diep in die nag in lawaai. ‘n Nagmerrie
vir die permanente inwoners van die gebied.
Die kontrakteur het duidelik sy gebrek aan sosiale gewete ten toon gestel
deur basies sy bas af te vee aan die georganiseerde pogings van
inwoners om ‘n oplossing vir die ongewenste toedrag van sake te vind.
Sy houding blyk te wees dat hy toestemming van Kungwini het en basta.
Hierdie is nie ‘n uitsondering op die reël van wat die afgelope aantal jare
in die Bronberg-gebied gebeur nie. Te dikwels word toestemming vir
projekte (groot en klein) toegestaan wat skynbaar indruis teen alle
sosiale en omgewingsriglyne, -ordinansies en selfs –wette.
En dit is telkens die gevestigde inwoners van die gebied wat die onaangename
gevolge moet dra. ‘n Mens hoef nie te diep te delf om ‘n antwoord
te vind op die vraag oor hoe só iets dan moontlik is nie.
Dit het tyd geword dat nie net ontwikkelaars en hulle kontrakteurs nie,
maar ook die owerheid wat veronderstel is om waghond te speel, tot
verantwoording geroep word. En dit gaan bes moontlik net gesamentlike
regsaksies deur die gemeenskap wees, wat dit kan vermag. |
|