Ou Pokket se groot sonde PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Thursday, 19 February 2015 22:46
Untitled Document

Pokket Oosthuizen en Basjan Basson was al die jare buurboere in die bosveldwêreld van die Groot Marico.

Toe die twee nog blote kannetjies was, was hulle reeds die beste van vriende. Dawid en Jonathan, het die grootmense van destyds graag gesê.

Pokket se pa, oom Streepsak en Basjan se pa, oom Johannes, het ook op die einste aangrensende erfplase grootgeword. Oom Streepsak en oom Johannes was self van kindsbeen af tot enduit vriende en goeie bure. Saam het hulle die swaarkry en vreugdes van boer in die Marico-bosveld gedeel.

So het die onvermydelike toe gebeur: Eers het oom Streepsak aanbeweeg en net ‘n paar maande later het oom Johannes sy vriend gevolg. Die twee seuns, altwee die oudstes van die onderskeie krose, het die buurplase geërf en die goeie buurmanskap en samesyn is tot in die volgende geslag voortgesit.

Landman
Dinge het begin skeefloop toe ou Pokket op ‘n dag besluit om ‘n kortbeen Geldenhuys-bul van die Vrystaat af in te voer.

Soos hulle vaders voor hulle, het Basjan en Pokket met rooi Afrikanerbeeste geboer. Nie groot geboer nie, maar darem. Die kuddetjies Afrikaners, ‘n lappie mielies of twee en die stookketels (‘n amperse voorvereiste vir boer in die Marico) het die Oosthuizens en Bassons deur die jare se droogtes in dié ongenaakbare kliprantgebied gedra.

Die Afrikanerkuddes was van die langbeensoort uit die Landman-bloedlyn: Geharde, lenige bosveldbeeste wat kon blaarvreet, rantklim en draadspring soos ‘n koedoe. Maar toe laat ou Pokket hom een aand ná ‘n paar proesels maroelamampoer deur ‘n kuiergas uit die Vrystaat ompraat en hy koop ‘n kortbeenbul.

Verraad
Basjan was teleurgesteld en geskok deur die verraad teen die getroue Landman-Afrikaners deur sy ou vriend Pokket. Hy het probeer mooipraat en keer, maar op ‘n mooi dag word die kortronde, Geldenhuysbulletjie op Pokket se plaas afgelaai en die koeël is deur die kerk.

Basjan het kopgeskud, tong-geklap, gekla en geskinder, maar hom naderhand by sy vriend se waansin berus.

Toe die kortbeen-bulletjie die eerste keer deur ‘n grensdraad breek om by Basjan se langbeenkoeie te kom vlerksleep, het die vriendskap sy eerste knou gekry. Die laaste ding wat Basjan wou hê, is dat sy Landmanbeeste se edele bloedlyn deur Pokket se pokkelbulletjie besoedel word.

Drade is versterk en op plekke selfs verdubbel, nuwe hekke is in die bekslaners se plek aangebring, beeswagters is op nagskof gesit, maar die Geldenhuysbulletjie het telkens weer sy vrypad na Basjan se koeie en verse oopgebreek. En die vriendskap het algaande verflou, verdwyn en naderhand in openlike twis en vyandskap verander.

Biltong
Selfs nadat ou Pokket se bronstige bulletjie die ongeluk oorgekom het en uiteindelik biltong geword het, het die twee buurboere mekaar vermy en vir jare nie met mekaar gepraat of vir mekaar selfs op die koöperasiestoep en by die Nagmaalsdiens die hoed gelig nie.

Hoe dit gebeur het, het niemand presies kon sê nie, maar die bulletjie is blykbaar op een van sy nagtelike draadbreektogte op ‘n manier en op ‘n plek beseer wat veroorsaak het dat hy vir ewig as teelbul onskadelik gestel is. Pokket het nie weer ‘n uitheemse bul aangekoop nie, maar die vriendskap was oënskynlik, soos die bulletjie se aanteelwaarde, onherroeplik beskadig.

Baie jare het verbygegaan en toe word ou Pokket op ‘n dag baie siek. Basjan het gehoor sy vriend van weleer was ongesteld en hy was bekommerd oor die ou en het gewroeg oor hulle mooi vriendskap wat deur die toedoen van ‘n vreksel van ‘n bul verongeluk is.

Verloopte jare
Dis toe Basjan hoor dat Pokket nou baie ‘ernstig’ is en dat ver familie die tyding laat weet is om te kom ‘groet’ dat hy die besluit neem.

Op ‘n dag daag Basjan toe uit die bloute van baie verloopte jare by Pokket se siekbed op: “Ek het kom vrede maak. Ek het kom groet en ek het jou vergifnis kom afbedel,” het Basjan gesê.

Pokket het sy verswakte hand uitgesteek en die twee ou vriende het op ‘n manier blad geskud. “Praat,” het Pokket met moeite gesê.

“Jy onthou jou Geldenhuys-bullletjie se ongeluk,” sê ‘n bewoë Pokket. Hy onthou, ja, sê Basjan.

Joseph Rodgers
En toe vertel ou Pokket, hoed-in-die-hand, hoe dit nie die draadbreek van die ketoolse bulletjie was wat destyds die balspel uit die bul gehaal het nie, maar ou Pokket se Joseph Rodgers. Hy het dit reggekry om die Vrystaatse indringer op daardie nag die drukgang in te jaag en die ‘ongeluk’ met die knipmes maak gebeur, het Pokket vertel.

Hy staan nou vandag hier om vergifnis van sy ou boesemvriend te vra en om te pleit dat Basjan nie die storie oor die bul daar bo sal loop oorvertel, as hy nou eers deur die poorte beweeg het nie. Want dit kan Pokket se kanse dalk net beduiwel om ook deur die poorte te mag beweeg, as sy tyd nou sou aanbreek, het Pokket gesê.

Hulle sê ou Basjan het die eerste keer in jare weer gelag, al was dit die sukkellag van ‘n siek man. “Dis reg so, ou Pokket,” het Basjan gesê. “Maar net as jy belowe om jou bek daar bo te hou oor jou stookketel wat per ongeluk ontplof het so ‘n rukkie ná my bul se ongeluk. Ek het die dinamiet by die dambouers gekry,” het Basjan gesê.   

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online