Veelsydige sonneblom deur eeue heen gebruik Print E-mail
News - Ons Omgewing
Friday, 20 February 2015 00:28
Untitled Document

‘n Sonneblom dra nie altyd net een blom nie, maar 34 aan een plant is merkwaardig. So ‘n plant het in Cullinan se oudorp grootgeword tot die blomme te swaar geword het en die plant ontwortel het.

In hulle botselstadium is sonneblomme heliotrope of sonsoekers, wat hulle koppe na die son toe draai. Dié kopdraaiery word deur ’n buigsame segment van die stingel net onder die botsel moontlik gemaak. Soos die blom groei, verstyf die stingel en is die sonneblom nie meer sonsoekend nie.

Tog is dit streng gesproke nie reg om van ‘n blom te praat nie. Die blomkop is ’n saamgestelde blom met baie klein blommetjies wat binne-in die kop in ’n spiraalpatroon saamtros.

Die blommetjies aan die buitekant is steriele straalblommetjies wat oranje, geel of ander kleure kan hê. Net die blommetjies in die binnedeel ontwikkel tot sade.


Dié sonneblom wat op ‘n dorpserf in Cullinan se oudorp grootgeword het, het 34 blomkoppe gevorm
.
.

Heidi Pretorius wys ‘n lang sonneblomplant wat per ongeluk op Die Perdeplaas in Tiegerpoort, net agter Nkwe op Lynnwoodweg-verlenging, opgekom het. Heidi is self 1,8 meter lank en dié sonneblom troon bo haar uit. Heidi sê dat die hele Perdeplaas-span graag Die Bronberger lees.

Oorsprong
Die Amerikaanse Indiane het sonneblomme ongeveer 3 000 vC in die omgewing van Arizona en Nieu-Mexiko begin ‘makmaak’. Dié plant is waarskynlik uit Mexiko na Spanje geneem van waar dit na ander dele van Europa versprei het en die Russe was die eerste nasie wat die reuse sonneblom ontwikkel het. Die saad van die reuse sonneblom is in 1893 weer na Amerika uitgevoer.

Die Europeërs het sonneblomsaad medisinaal teen verkoues en hoes gebruik. Die Portugese het die saad in ‘n middel vir die behandeling van infeksies en wonde gebruik. Die saad is ook as ’n ontwateringsmiddel en slymafdrywer gebruik en as ’n plaasvervanger van kinien in die behandeling van malaria.

Sonneblomme bevat glo ’n bestanddeel wat hulle teen vernieling deur sekere insekte beskerm en ‘n aftreksel van die blomme word gebruik om vlieë dood te maak.


Die blomkop is ’n saamgestelde blom met baie klein blommetjies

Sonneblomstingels word as veevoer, kuilvoer en brandstof gebruik, en in Rusland word die as van gedroogde blomstingels, wat as brandstof gebruik is, in die grond ingewerk. Die saaddoppe maak ook ‘n goeie kompos en kan selfs tot brandstof verwerk word, gebruik word om gis te kweek en om etielalkohol te maak.

Die Chinese maak weefstowwe van die plant se stingels en daar word geëksperimenteer om die vesel te gebruik om papier te maak.

 

© 2020 Die/The Bronberger