Rioolpyplyn vir nywerheidspark sny deur hoewegebied PDF Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 19 February 2015 22:27
Untitled Document

‘n Nuwe afvoerrioolpyp van 7,4 km lank gaan deur gedeeltes van Mooiplaats, Zwartkoppies en Barendshoek loop. Dié pyp is vir die industriële ontwikkeling  wat langs die Boschkop/Donkerhoek-afrit van die N4-snelweg beplan word.

Die suidelike grens van die park is die N4-Witbank-snelweg en die noordelike grens die Ou Bronkhorstspruitpad (R104). Die kompleks gaan vir kommersiële-, kantoor-, voertuigdienssentrum-, monteersentrums-, huis-opgraderingsentrums- en verwante kleinhandel-geriewe wees.

Die rioolpyp sal strek vanaf die hoofrioolnetwerk op gedeelte 160 van die plaas Barendshoek 630-JR tot by die bestaande Baviaanspoort rioolsuiwersingsaanleg se rioollyn op gedeelte ses van die plaas Zwartkoppies 364-JR, suid-wes van die Pienaarsrivierbrug oor die Ou Bronkhorstspruitpad.


Die Boschkop/Donkerhoek-afrit van die N4-snelweg

Kennisgewing van ‘n basiese omgewingsimpakstudie vir die voorgestelde industriële park se afvoerrioolpyp is deur Interdesign Landskapargitekte (ILA) uitgestuur. Inwoners in dié gebied word genooi om voor 27 Februarie as belanghebbende partye by ILA te registreer om sodoende deel van die openbare deelnameproses te word.

Die raadslid vir wyk 101, André van der Walt, en vir wyk 100, C Mahlase, is in kennis gestel van dié beoogde ontwikkeling en die openbare deelnameproses.

Die Nasionale Omgewingsbestuurswet identifiseer die voorgestelde rioolpyp-ontwikkeling as een wat ‘n beduidende skadelike uitwerking op die omgewing kan hê.


Die afvoerrioolpyp se roete is in groen aangedui en die N4-snelweg in rooi

Die wetgewing stipuleer dat ‘n basiese omgewingstudie gedoen moet word as deel van so ‘n aansoek. Die studie wat gedoen gaan word sal die biofisiese sowel as die sosiale gevolge van die ontwikkeling ondersoek. Versagtingsmaatstawwe sal bepaal word om die nadelige invloed te beperk en te probeer verhoed.

Buiten die aansoek vir omgewingsmagtiging gaan ‘n aansoek vir watergebruikmagtiging gedoen word in terme van Afdeling 21 (c) van die Nasionale Waterwet, vir die gedeeltes van die pyp-roete wat deur vleilande of vloedvlaktes gaan loop. Dié aansoek sal by die Departement van Water en Sanitasie ingedien word.

Om as belanghebbende party te registreer, bel ILA se Thuledu Ntshingila by 012-348-1922, stuur ‘n faks na 012-348-7154 of ‘n e-pos na This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

© 2019 Die/The Bronberger