Het jy gehoor? / Have you heard? - Feb2015 PDF Print E-mail
News - Het Jy Gehoor
Thursday, 19 February 2015 22:24
Untitled Document

Die volgende Landelike Beveiligingsvergadering is op Donderdag 19 Februarie om 6.30 nm by Farm Inn. Verteenwoordigers van al die landbouhoewes wat onder SAPD Boschkop val is welkom om dit by te woon.

~*~

Die Nasionale Prestige Inheemse Veldbok-veiling word op Saterdag 28 Februarie om 10 vm by die Pretoriase skougronde gehou. Inheemse veldbokke, wat eie aan Suid-Afrika is, bestaan uit vier soorte: Noord-Kaapse skilderbokke; Oos-Kaapse Xhosa lob-oor, wat soms appelbokke genoem word; Mbuzi (‘n Nguni-tipe); en die Kunene-tipe (uit die Kaokoland). By die veiling word 200 ooie en 30 ramme aangebied. Vir meer inligting bel George Groenewald by 082-564-2533 of Louis Lourens by 082-853-1758.

~*~

Ons hoor dat die beplande mark by Bronberg Wynlandgoed, waaroor ons verlede jaar berig het, nie in Februarie afgeskop het nie. Annette Saayman het laat weet dat die mark op ys is vir moontlik later in die jaar.

~*~


Digter, sanger, kitaarspeler en skilder, Gert Vlok Nel, tree op 28 Februarie om 7.30 nm op by Asbos Teater langs Karoo Café in Lynnwoodweg. Gert het 15 jaar gelede ’n debuut digbundel vrygestel, opgevolg deur ’n debuut album. Hy het sedertdien grootskaals in Suid-Afrika en Europa getoer en kultus-agtige volgelinge verkry. Kaartjies vir sy vertoning is R120. Skakel 082-564-0999.

~*~

‘n Ontstelde leser het die Bronnie gebel om te sê dat mense moet oppas vir die groente en kos wat langs die Ou Bronkhorstspruitpad naby aan die Willem Prinsloo Landboumuseum verkoop word. Die leser sê sy vermoed die mense gaan laai groente, vrugte, brode en koeke, wat verby hulle vervaldatum is, by ‘n supermark op as voer vir varke. Hulle kies dan dit wat nog goed lyk, verpak dit saam en herverkoop dit spotgoedkoop langs die pad. Sy sê dat die koeke besig is om te muf, die aartappels papvrot is en ‘n gesondheidsgevaar inhou.

~*~


Dié varke is vroeg in Februarie betrap waar hulle druk besig was om die gras in en om Rayton se begraafplaas om te dolwe. Geen eienaar of varkwagter was in sig toe Antionette Coetzee die foto geneem het nie.

~*~

In die nag van 22 Januarie het inbrekers by vier hoewes in Shere toegeslaan. By twee hoewes is die inbrake gefnuik en by een het die boewe ‘n 9 mm pistool verloor. By een plot is ingebreek en by ‘n ander is ‘n vrou en haar dogter vasgebind en goedere geroof. Niemand is in die voorvalle beseer nie.

~*~

Johann Broodryk sê daar is ‘n beperkte aantal plekke vir die Gekkedag (April Fools) vierings wat op die malste dubbeldekker partytjiebus gehou gaan word. Die gekke-en-dwase aandmakietie op Saterdagaand 28 Maart moet in jou lafste of oudste kleregewaad bygewoon word. Die pret skop teen 5 nm af by Mimmos in Moreletapark, waarvandaan die bus vertrek. Gratis buswynproe word op die rit, wat by LJ’s in Tierpoort eindig, aangebied. Dansmusiek en ‘n ete word verskaf en grapjafels kan hulle staaltjies om die vuur met ander gekke en dwase deel. Bel Johann by 083-432-9052.

~*~


Leë kosrakke by die Boeremark wat by die Pioeniersmuseum in Silverton gehou word, het besoekers aan die hart gegryp. Dié leë kosstalletjie was ter bewusmaking van plaasmoorde, dat die uitwissing van boere wat produktief kos voorsien uiteindelik tot hongersnood sal lei, en die ‘Treurgrond’-film wat in Mei daarop gaan fokus. AfriForum en TLU SA het tot die vervaardiging van die film bygedra. Die twee organisasies het ook in Januarie skokstatistieke vir plaasaanvalle en -moorde bekend gemaak. Volgens die statistieke was daar verlede jaar 277 plaasaanvalle en 67 plaasmoorde. Akteurs wat in ‘Treurgrond’ te sien sal wees is Steve Hofmeyr, Erica Wessels, Jana Strydom, Shaleen Surtie-Richards, Andre Frauenstein, Barbara-Marie Immelman, Boikie Pholo, Richard Lukunku, Graeme Kriega, Deon Coetzee en Richard van der Westhuizen.

~*~

‘n Paas-toneelstuk, Via Dolorosa, word op Vrydag, 13 Maart by die Hervormde Kerk in Cullinan opgevoer. Al die rolle word deur lede van die gemeenskap vertolk en hoewel dit blykbaar aanvanklik gelol het om iemand te kry wat bereid was om Judas te speel, is die rolle gevul en is die mense geesdriftig vir die Passiespel aan’t oefen. Kaartjies, teen R30 vir volwassenes en R20 vir kinders, kan bespreek word by Alta: 082-682-1252.

~*~


Author Lynne Lexow’s new book, ‘Fallen Angel’, has been marketed overseas for months now. As a South African she wanted to introduce her books to fellow countrymen and the first venue she chose is at Rayton’s Coffee Café on Saturday 7 March. Lynne has ordered 200 copies of her books to market locally at a special price. She will give a talk on herself, her experiences, her books and her future projects. She will also answer questions on her books and the process of getting your book published. Aspiring authors will be welcome to bring pen and paper for handy tips. Each person attending will receive a free bookmark. To book your place, phone Magda from Coffee Café at 082-694-4873.

~*~

Ons het gehoor dat die Boschkopse Polisiestasie ‘n aantal nuwe voertuie bygekry het. Adjudant offisier Wynand van der Merwe sê egter dat daar een nuwe voertuig vir die speurders is. Die ander is die ou voertuie wat uit die werkswinkel terug gekom het.

~*~

Inbrekers het op die aand van 8 Februarie by die Harmony Stalle op Bashewa ingebreek en sowat 20 saals gesteel. Onder die gesteelde saals is Wintec spring- en skousaals, twee saals van ‘UK Saddle Company’ en ‘n Pessoa-saal. Mense wat moontlik dié verdagte saals te koop aangebied sien, word gevra om Cindy by 082-564-9617 te bel.

~*~


Jannie du Toit se opvoering, ‘Doep is nie dood nie’, word op 22 Februarie om 4 nm by Atterbury Teater gehou. Dit is ’n eenman-aanbieding met teks- en musiekgrepe oor die lewensbeskouing en werk van Koos du Plessis. Kaartjies vir ry A-K is R140.00 en vir ry M-Q en galery R120. Skakel 012-471-1700.

~*~

Elsabé Maré sê daar moet ‘n regstelling kom by haar berig, ‘Groentetuin op oop hoekerf geskep’, in ons Januarie-uitgawe. Die tuin is die handewerk van Tobie Crause van Gholf Crescent nommer 7. Die tuin word op ‘n organiese wyse bedryf.

~*~


Steve Hofmeyer tree op 27 Februarie om 9 nm by Rafters oorkant Mooikloof op. Toegang is R170 per persoon. Bel Arline by 082-600-3469.

~*~

Lakelands Aarbeiplaas vier Wêreldwaterdag op 22 Maart. Spandeer die dag saam met hulle langs die Pienaarsrivier. Bring jou eie vleis, stoele en sambrele. Vure en bykosse sal verskaf word. Die koste is R35 vir volwassenes en R20 vir kinders onder 12. Skakel 072-942-5111.
 

~*~


Kunstenaar Anet Booyens se uitstalling, genaamd ‘Figures and Refractions’ is tot 28 Februarie by Johann van Heerden se Kunsgalery langs Farm City op die hoek van de Villebois Mareuil en Atterburyweg. Die galery is daagliks van 9 vm tot 4 nm oop. Vir meer inligting, kontak Johann van Heerden by 082-445-3917 of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

~*~


‘n Nuwe boeremark begin buite Rayton by GetAway Farms. As jy jou produkte daar wil verkoop kan jy ‘n staanplek gratis vir die eerste drie maande kry. Die mark is op Saterdae van 8 vm tot 1 nm. Bel Annamarie by 082-421-0661 of Trevor by 083-777-0095.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online