Nancy maak amper 100 jaar ná haar dood ‘n draai in Boschkop PDF Print E-mail
News - Artikels
Monday, 26 January 2015 21:35
Untitled Document

Nancy, ‘n Eerste Wêreldoorlogse springbok gelukbringer, het bykans 100 jaar ná haar dood ‘n draai op Boschkop gemaak. Nee, sy het nie daar gaan spook nie. Nancy is deur ‘n Bronbergse taksidermis opgeknap voor sy Suid-Afrika by die eeu-herdenking-seremonies van dié oorlog in Skotland gaan verteenwoordig het.

Nancy was vanaf 1915 die Suid-Afrikaanse Infanterie Regiment (Transvaal Scottish) se gelukbringer. Die SA Infanterie se kenteken was ‘n springbokkop, met die slagspreuk: “Eendracht Maakt Macht”.


Nancy, voor sy opgeknap is, met gebreekte hoewe, yl haartjies en minus ‘n horing

Dié springbokkie is op 26 November 1918, twee weke ná die wapenstilstand, op Hermeton-sur-Meuse in België aan longontsteking dood. Haar dood is in die algemene bevele aangekondig, waarskynlik die eerste keer in militêre geskiedenis wat so iets gedoen is. Alle parades is gekanselleer. Sy is met volle militêre eer in ‘n geallieerde oorlogsbegraafplaas begrawe.

Haar kop en vel is na London gestuur om behandel te word en van daar af na Sir William Dalrymple in Suid-Afrika. Dié Skots-gebore Witwatersrandse myneienaar was die stigter van die regiment. Hy het Nancy laat monteer en aan die regiment geskenk.

Sy het vir jare by die offisiersmenasie van die Transvaal Scottish regiment se hoofkwartier gepryk en is in 1958 aan die Ditsong Militêre Museum in Johannesburg geskenk.


‘n Nuut opgeknapte Nancy by die uitstalling in Skotland

Boschkop
Richard van Zyl van Magnum Taksidermie in Boschkop verduidelik hoe dit gebeur het dat ‘n Bronbergse maatskappy gekies is om Nancy op te knap. Hy sê dit het alles begin toe die Ditsong Sammy Marksmuseum op die Ou Bronkhorstspruitpad vir hulle gevra het om te kwoteer vir die opknapping van 40 van hulle opvoedkundige opgestopte voëls.

Dié voëls word met skooltoere gebruik; baie van die kinders het nog nooit enige van Suid-Afrika se voëls uitgestal gesien nie.


Nancy met ‘n jassie wat die regiment se kleremaker vir haar uit een van hulle
Skotse rokkies gemaak het
Foto: Delville-woud-museum

Richard is sedert sy kinderdae mal oor die natuur en het ‘n agtergrond in die rehabilitasie van diere, natuurbewaring en as veldgids. Hy is ‘n entoesiastiese voëlkyker en wou die opknapping vir ‘n goeie saak doen.

Richard sê dat hulle kwotasie meer as R30 000 was, maar dat hulle besluit het om nie die kwotasie te stuur nie en ‘n vaste koers van ‘n paar duisend Rand te vra om die koste van materiaal te dek. Hy het gedink dat dié projek die einde van sy kontrak met Ditsong Museums sou wees.


Nancy se plek in die uitstalling

Opknap
Vroeg in 2014 het Ditsong Militêre Museum uit die bloute vir hom ‘n e-pos gestuur. Hulle het vertel wie Nancy was en gevra of hy haar kan opknap tot ‘n standaard waar sy verskeep kon word, die streng Britse inspeksie vir tydelike invoer sou kon slaag, en trots deel van ‘n museum-uitstalling kan wees.
Nancy sou deel word van die Nasionale Museum van Skotland in Edinburgh se Eerste Wêreldoorlog-uitstalling.

Richard vertel dat dit ‘n reuse uitdaging was, maar dat brawe Nancy se storie hulle almal se harte geraak het en dat hulle haar sonder vergoeding opgeknap het. Hy sê dit is die minste wat hy en sy span kon doen.


Nancy in Delville-woud in Februarie 1918
Foto: IWM Versameling

Hulle timmerman, Frank Zangle, het ooreengekom om ook teen geen vergoeding nie, vir Nancy ‘n soliede hardehout basis te maak. Emiac het gehelp met die verskeping.

Die span by Magnum het Nancy eers skoongemaak en ontsmet, haar vel gerestoureer, hare oorgeplant, vir haar ‘n nuwe horing gegee, gebreekte gewrigte reggemaak, hoewe vervang en het haar oorgeverf.

Nancy is toe op haar hout voetstuk geplaas, in ‘n krat gesit en direk na die museum in Skotland verskeep.


Nancy met ‘n foto van haar graf, en die SA Brigade se kenteken agter haar, by die Militêre Museum in Johannesburg

Militêr
Nancy het haar militêre loopbaan in Maart 1915 begin toe haar eienaar, ‘n mev McLaren Kennedy van die plaas Vierfontein in die Vrystaat, dié springbokkie na Potchefstroom geneem het. Sy was die gesin se troeteldier en was maar net ‘n jaar oud.

In ‘n brief aan genl Tim Lukin het mev Kennedy geskryf dat Nancy, as springbok, die ideale gelukbringer vir die Suid-Afrikaanse Infanterie Regiment sou wees. Die generaal het per telegram geantwoord dat Nancy asseblief na hom gebring moes word.


Richard van Zyl en sy span by Magnum Taxidermy in Boschkop

‘n Troep genaamd A E Petersen het Nancy vir die volgende ses maande geleer hoe om op al die regiment se roepe te reageer en hoe om saam met hulle doedelsakke op die paradegrond en by seremoniële geleenthede op te tree.

Toe die regiment Kaapstad toe opgeroep is voor hulle met die HMT Balmoral Castle vir diens oorsee vertrek het, is mev Kennedy na Potchefstroom genooi om Nancy te groet


Richard van Zyl

Oorsee
Met hulle aankoms in Engeland het die regiment voortgegaan met opleiding voor hulle die jaar daarna na Egipte vertrek het, waar Nancy altyd die skares se aandag getrek het.

Nancy is saam met die regiment na Frankryk. Hulle het in April 1916 by Marseilles geland. Daar was hulle in kwarantyn, oor ‘n aansteeklike siekte wat op die Oriane uitgebreek het.

In Mei het hulle na Steenwerck, die regiment se hoofkwartier, vertrek en ‘n maand later na die dorpie Sailly-le-Sac, omtrent twee myl van die voorste linies. Dit is hier waar Nancy haar horing in 1917 gebreek het.

Naby Armentieres het ‘n bom in die vervoerlyn ontplof, naby die plek waar Nancy vasgemaak was. Sy het so groot geskrik dat sy weggespring het en haar linkerhoring teen ‘n muur gebreek het. Dié horing het later afwaarts begin groei.

Die hoogtepunt van Nancy se militêre loopbaan was op 17 Februarie 1918 toe sy vier bataljonne van die Suid-Afrikaanse Brigade na die eerste diens by Delville-woud gelei het.

Die gemonteerde Nancy word vroeg vanjaar na Suid-Afrika gerepatrieer wanneer die uitstalling in Skotland verby is

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online