Zwavelpoortse stoet nou beste in die wêreld PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 26 January 2015 23:34
Untitled Document

Zwavelpoort se Doorndraai is as die beste Friesperd-stoet in die wêreld bekroon. Die stoet het dié maand geskiedenis gemaak deur die eerste stoetery buite Nederland te word wat as teler van die jaar aangewys is.

Die lys van die top 50 Friesperdtelers in die wêreld word jaarliks deur die Koninklijke Vereniging Het Friesch Paarden Stamboek (KFPS) in Nederland bekend gemaak. Dit is vir enige teler ‘n buitengewone groot prestasie om op die lys geplaas te word, omdat die organisasie lede in meer as 50 lande met 70 000 geregistreerde perde het.


Tweede van regs is Marlise Botes, eienaar van Doorndraai Friesperd Stoet, en derde van regs is Altie Clark, Doorndraai se stalbestuurder, saam met beoordelaars en hanteerders. Die perde is Titske fan Kolderveen Stb Kroon, wat senior supreme kampioen-in-hand was, en Karien van Doorndraai Stb Ster, wat reserwe kampioen merrie-in-hand was
Foto: H2

Doorndraai Friesperd Stoet is ‘n lid van die Friesperd Stamboek van Suider-Afrika (FPSSA), geaffilieer met die KFPS. Die stoet behoort aan Marlise en Danie Botes van Zwavelpoort, en is een van die grootste stoeterye in die wêreld met meer as 100 perde.

Doorndraai se beplanning en werk van die afgelope 17 jaar het in Januarie by die hingste-keuring wat deur die KFPS in Leeuwarden, Nederland gehou is, vrugte afgewerp. 


Lourens van Doorndraai Vb Star by die 2014 FPSSA Nasionale Skou in die ‘Strictly Come Showing’-klas waar hy reserwe kampioen was. Hy word deur Lisa Sue Hoffmann gery
Foto: H2

Die skouspel, waar die beste perde, telers en ruiters vereer word, is deur byna 10 000 mense bygewoon en vorm die hoogtepunt op die internasionale Friesperd-kalender.

Marlise Botes is as die beste teler van 2014 aangewys op grond van resultate wat bereik is by twee keurings wat in Februarie en Oktober 2014 in Suid-Afrika gehou is. Konformasie, beweging, ontwikkeling en rasegtheid vorm die riglyne wat gebruik word om die kwaliteit van jong en ouer perde te bepaal. Punte word toegeken en bepaal die wenner.


Marlise Botes met haar toekenning in Nederland

In 2012 was Doorndraai derde en in 2013 tweede in die wêreld. Die stap na nommer een in 2014 is ‘n groot tree vooruit vir ons land se Friesperdtelers en wys dat Suid-Afrikaanse Friesperde met die beste in die wêreld kan kompeteer en heel bo kan uitkom.

 

© 2019 Die/The Bronberger