Kalahari Windpomp in die koelte van ‘n ou papierbas PDF Print E-mail
News - Vreethans
Monday, 26 January 2015 21:34
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Die vorige keer wat ons by ‘n Kalahari windpomp vir ‘n lafenis aangedoen het, was dit in die hetige son kort duskant Witsand. Toe was die watertjie wat met tussenposes deur die gehawende ou windpomp die dammetjie ingespoeg-spoeg is, louwarm en brak.

Met ons onlangse draaimaak by die nuwe Kalahari Windpomp neffens Lynnwoodweg-verlenging in Shere, is ek bly om te kan berig, het die biertjie yskoud en heerlik in die diep koelte van ‘n groot papierbasboom afgegaan.

Jy ry slap links om die Plantland en parkeer in die koelte aan die agterdeurkant van die Kalahari Windpomp. Met die intrapslag in dié eiesoortige kuierplek aan die voetenent van die Bronberg, word ons vriendelik en in perfekte Afrikaans deur ‘n kelner ontvang.

Jy kan op die onderdakstoep plaasneem of in die tuin onder die papierbasse. Die kwekery met sy kleurryke blomme lê aan die een kant uitgestrek en aan die ander kant staan die Bronberg. Plek-plek is blink ornamentele windpompe staangemaak. Dis lekker stil en rustig. Die agtergrond musiek gelukkig ook.


Sago- en malvapoeding; genoeg en lekker genoeg om oor huis toe te skryf

Die kelner bring die spyskaarte aan en is sommer gou weer terug met my koue Duitse bruisdrankie en Metgesel se moerkoffie. Die eienaar, Ockie, besoek die tafels sporadies, verneem na sy gaste se welstand en knoop gemaklike geselsies aan.

Dié windpomp se spyskaart praat van ‘Brekfis. As jou tarentaal jou wakker roep’. Een van die vier keuses wat my opval, is die ‘Kalahari brekfis’. ‘Tuisgemaakte Kalahari boerewors, krummelpap, ons eie tamatiesmoor en twee gebakte eiers.’ Dit kos R55.

Die vier hamburgerkeuses kos ook R55 elk. Jy kan kies uit die Kameeldoring, Hotazel, Askam steak en die Kekkel en kraai, wat uiteraard ‘n hoenderburger is.

Dis ‘n redelike lywige spyskaart met ‘n uitsonderlike verskeidenheid van verbeeldingryke geregte. Vir die kortvolk is daar goed soos ‘n boesmanburger en baba ribbes met tjips en daarby ‘n uitgegroeide speelpark om die aptyt op te werk. Die boesmanburger kos R25.

Slaaie en aptytwekkers – ‘terwyl die kok sy tyd vat’, mandjies wat belowe om ‘propvol lekkerte te wees’, soos die Kathu- of Kuruman-mandjie, en voorgeregte soos Kleinzee oesters en Viskind se biltongroomsop, kan jy by Kalahari Windpomp bestel.

Heel bo aan die afdeling vir ‘Hoofspyse – kom ons kap hakke in’ – is die Suidwes Eisbein. Dit kom saam met tuisgemaakte sauerkraut, appelsous en kapokaartappels of tjips.

Die varkensskenkel van 500 g kos R95 en een van ‘n volle kilogram net R20 meer. Die spyskaart sê dis ‘n ‘Swakopmunder se vlagskip-dis. Ockie het genoem dat hy van Swakop af kom en dat sy vrou eintlik die Kalahari-mens is.

Onder die ander vleisdisse sien ek die Kalahari kreef. Dis ‘n beeshaas (filet) van koedoe of regte bees, in spek toegedoen en gevul met murg. Dit kos R135 vir 350 g. Jy kan ook ‘n beeshaas van gemsbok hier eet teen R115.

Onder Weskuskos kan jy uit drie kombinasie-borde kies: Hentiesbaai – met kabeljou (R110), Paternoster – met snoek (R110) en Weskus – met kerriegarnale (R135).

Vir Metgesel kan jy onder ‘n wip vang met pasta, sou jy wou, daarom verstom dit my geensins toe sy die Weskus pasta bestel nie.


Rustig in die koelte van ‘n ou papierbas

Ek loop haal my keuse onder ‘Ietsie spesiaals’ op die spyskaart: Afval. Jy kan die ‘vale’ bestel of die kerrie-afval wat volgens ouma Lea se resep gedoen is. Ek is baie partydig vir ‘n goeie kerrie-afval en ek bestel.

Ons was altwee erg teleurgesteld met ons keuses. Metgesel sê die smaak van haar seekospasta was billik, maar die porsie was aan die snoep kant en die tjokka was oorgaargedoen en daarom rubbertaai. Metgesel kla nie maklik nie – behalwe as sy honger is. Die pastatjie kos R85.

Die kerrie van my kerrie-afval was uitsonderlik lekker en die stampmielies was so naby aan perfek as wat kan kom. Nou is dit moontlik dat dit hier ‘n geval was van ‘n ‘ongelukkige trekking’ want die restant wat op my bord aangekom het, was karig. Vel-en-been het nuwe gestalte gekry toe ek probeer om iets kossigs van die enkele kortpootjie van lam af te kry.

Die enkele skenkeltjie-van-soort het darem iets op die vurk toegelaat, maar saam met die vier of vyf baie klein snyseltjies van pens, was dit net die geurige kerriesmaak wat effense tevredenheid gelaat het. Dit kos R95. Pleks ek die lamskenkel teen R110 bestel het, dan het ek ook so gul geniet soos die ou aan die tafel hier langs my en, soos hy, nog op die koop toe ‘n braksakkie huis toe gevat.

Ek het twee stukkies raad aan almal wat afvalporsies vries om dit later voor te sit: Meet baie mooi uit sodat daar nie iemand is wat later aan die agterspeen moet suig as dit by opdientyd kom nie en moet onder geen omstandighede die aartappel saam met die afval vries nie. Dit maak hom glasig en saf. ‘n Gaar kerrietappel kan baie lank in ‘n yskas gehou word.

Dit was nie ons plan om nagereg te eet nie, maar omstandighede neig mos om planne omver te werp.

En jy kan maar sê ons snoepige hoofgeregte was ‘n bedekte seën, want dit wat ons bestel het, was ruim en hemels.

Ek kan sonder om te skroom sê; as ek dalk beter en lekkerder sagopoeding langs my lewenspad raakgeloop het, dan het ek daarvan vergeet. Die tevredevreetporsie saam met roomys kos R35.

Metgesel was verstom oor die vrygewige porsies (twee sulke langwerpige snye) malvapoeding wat voor haar neergesit is. Gewoonlik, sê sy, sal ‘hulle’ vir jou ‘n piepklein, vierkantige blokkie aanbring. Sy het haar honger skoon weggeniet. Die malvapoeding met roomys kos ook R35.

Ons hou van die nuwe Kalahari Windpomp wat in Shere staangemaak is en sal vrywillig weer daar loop draai. Dié keer sal ons eers kyk wat dit is wat die ouens met die braksakkies onder die arm, bestel het.

Jy kan vir Ockie bel as jy meer wil weet of wil bespreek: 074-207-9415.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online