Skilderbokke, appelbokke . . . dié inheemse ras word nou bewaar PDF Print E-mail
News - Artikels
Monday, 26 January 2015 21:32
Untitled Document

Inheemse veldbokke, wat eie aan Suid-Afrika is, het met die teling van boerbokke amper uitgesterf. George Groenewald, wat noord van Pretoria op ‘n kleinhoewe in Winternest met dié bokke boer, verduidelik hoekom die skaars ras in sy volle glorie hervestig moet word.

George boer met ongeveer 150 Noord-Kaapse skilderbokke. Naby hom is ‘n boer wat met die Oos-Kaapse Xhosa lob-oor, wat soms appelbokke genoem word, boer. Dié ras bestaan eintlik uit vier soorte en behalwe skilder- en appelbokke is daar ook die Mbuzi (‘n Nguni-tipe) en die Kunene-tipe (uit die Kaokoland).

George verduidelik dat dié bokke eeue gelede saam met nomadiese stamme in Afrika af immigreer het. Die Xhosa-bok het langs die kontinent se ooskus afbeweeg en die skilderbok langs die weskus af.


Rotskuns in die Oos-Kaap wys ‘n inheemse veldbok tussen vet-stert skape
Bron: Stephan Townley – Bassett

Boere
Boere in die Oos-Kaap het die bokke by Khoikhoi-stamme gekry. Hulle het gou agtergekom dat die inheemse veldbokke gebruik kan word om die doringstruik ‘n bietjie skoon te maak sodat ander diere of landbougewasse gevestig kon word.

Die bokke se mooi velle is gebrei en in en om die huis gebruik. Inheemse veldbokke het gou dwarsoor Suid-Afrika versprei en boere het hulle in baie handelsooreenkomste met reisigers gebruik.

‘n Ooi kan drie tot vier kleintjies gelyk grootmaak omdat sy baie melk het en so het die Dorslandtrekkers dan dié geharde bokke se melk gebruik.


George Groenewald, ‘n veldbokteler van Winternest, noord van Pretoria

Verskil
Later is die boerbok uit dié bokke geteel. Die verskil tussen inheemse veldbokke en boerbokke is dat die inheemse ras in die veld kan oorleef. George sê dat hulle in dieselfde kategorie as ‘n koedoe val, wat ook beteken dat hy hom nie oorvreet nie.

Die boerbok is ‘n geteelde bok en sy horings het nie meer ‘n doel nie. Veldbokke beskerm hulle kleintjies met hulle horings en gebruik dit om parasiete van hulle lywe af te haal, selfs onder hulle sterte. Volgens George doen dié bokke ‘n baie ongewone ding – hulle gebruik hulle horings om droë aalwynblare af te breek, wat die bok dan vreet om sy bloed bitter te maak en parasiete te beheer.

Telers sê dat dié bokke se kenmerke vrugbaarheid, gehardheid en aanpasbaarheid is. Kenners van vleisbokke sê ook dat inheemse veldbokke alle ander Suid-Afrikaanse bokrasse klop as gekyk word na die biomassa kilogram vleis per hektaar wat hulle voortbring. Dié vleis is glo baie laag in cholesterol.


Een van George Groenewald se ramlammers

Oos-Kaapse Xhosa lob-oor, wat soms appelbokke genoem word

Die Mbuzi, ‘n Nguni-tipe
.

Vrugbaar
Nog pluspunte van dié bokke is dat hulle baie vrugbaar is, selfs vanaf ‘n jong ouderdom, wat ‘n lang produktiewe leeftyd gee. Die ooie is bekend vir hulle moederinstink en beskerm kleintjies met hulle skerp horings. Die bokke het ‘n goeie trop-instink wat help om hulle teen roofdiere te beskerm.

Inheemse veldbokke is minder vatbaar vir siektes wat deur bosluise oorgedra word, kan parasiete, droogte en siektes beter weerstaan en het ‘n lae onderhoudskoste. Hulle kan blare of gras vreet en ook ‘n verskeidenheid bossies.

Daar is vandag ongeveer 100 telers van dié bokke in die land en George verduidelik dat hulle die bokke wil terugbring na hulle oorspronklike status sodat die ras nie verlore gaan nie. Hulle wil verhoed dat ander vreemde rasse die genetiese samestelling van die veldbok besmet deur verbastering.


Kunene-tipe

Veilings
Daar word deesdae gereeld dwarsoor die land tentoonstellings en veilings van dié bokke gehou. Anders as ander tentoonstellings van ‘n ras, word veldbokke nie gekam en skoongemaak nie. Die vereiste is dat die bok in die veld moet kan gaan oorlewe.

Die Nasionale Prestige Inheemse Veldbok-veiling word op Saterdag 28 Februarie om 10 vm by die Pretoriase skougronde gehou. Daar word 200 ooie en 30 ramme aangebied.

Vir meer inligting bel George Groenewald by 082-564-2533 of Louis Lourens by 082-853-1758.


Noord-Kaapse skilderbokke

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online