Diepe bepeinsing langs die hengelwaters PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Monday, 26 January 2015 21:30
Untitled Document

Amper nes oom Schalk Lourens van ouds, het hy dié vakansie op sy rug langs ‘n kuil in die Groot Maricorivier gelê en dink: Eintlik diep gepeins, sê Gert Mossie.

Maar hy het oor die punt van sy visstok verby die oewerbosrand die verte ingestaar en nie oor sy groottoon na Abjaterskop, soos oorle oom Schalk nie, het Gert Mossie gesê.

Daar, in die mampoerhartland waar die waterbobbejaan glo bly, lê hy toe so en peins, sê Gert Mossie, oor die lewe en oor die dood en oor ander gewigtige sake soos rakbie en soos visvang.

En hy wonder, sê Gert, of ‘n ou van ‘n ‘visstok’ en van ‘visvang’ kan praat as jy die hele dag daar op die oewer op jou rug lê en peins, sonder om selfs ‘n enkele ou vissie te vang?

Hy dink nie só nie . . . Dis seker dié dat iemand die woord ‘hengel’ uitgedink het, dink hy, sê Gert Mossie. Want as jy visvang, dan moet jy tog sekerlik ‘n iets onder skubbe die water uithaal, maar as jy hengel, vang jy nie noodwendig ‘n vis van enige aard of grootte nie, sê Gert Mossie.

Apiesdoring
En dis toe, net daar in die koelte van ‘n apiesdoring, op sy rug langs die Groot Marico, dat hy diep begin nadink oor die woordjie ‘hengel’ en waar dit dan sy oorsprong sou hê.

Hengel, dink hy, is ook die Ingelse se skuld, sê Gert Mossie. Want die Ingelse het van ‘n ‘angle-hook’ gepraat as hulle van die ‘hoek’ praat waarmee jy die vis in die bek haak voor jy hom die water uit trek om dan agterna te doen met die ding wat jy wil.

Nou het ‘n bepaalde Ingelsman seker op ‘n dag ook so langs die viswaters op sy rug gelê en dink dat hy wat die Ingelsman is mos nie van ‘fishing’ kan praat as hy glad nie ‘n enkele ‘fish’ uittrek nie en daarom dat hy ook nie ‘n ‘fisherman’ in die ware sin van die woord kan wees nie, sê Gert Mossie.

Lelike ding
Dis toe dat bepaalde Ingelsman begin peins – eintlik het die Ingelsman seker ‘geponder’, sê Gert, oor ‘n naam vir ‘n visserman wat nie visvang nie, maar net met sy ‘rod’ in sy hand daar langs die waters op sy rug lê en ‘ponder’. Hy dink die Ingelsman het straks ‘rodder’ oorweeg, sê Gert Mossie, maar dié het vir hom seker te veel na ‘rotter’ geklink en dis mos ‘n lelike ding in Ingels.

‘Hooker’ sou ook nie deug nie, sê Gert, want dié was reeds aan ‘n heel ander soort tydverwyling toegedig. En dis toe dat die Ingelsman oor die ‘angle’ in ‘angle hook’ begin ‘ponder’ en siedaar . . . ‘n ‘angler’ wat hom met ‘angling’ besig hou het gestalte in die Rooitaal gekry. Dit was die aangewese naam vir ‘n ou wat met ‘n visstok langs die viswaters doenig is, sonder om noodwendig ‘n vis te vang: ‘n ‘Angler’.

Ook onder die ouens met Afrikaans as moedertaal, het jy menige ‘visserman’ gekry wat langs die viswaters met ‘n visstok staan, sit of lê, sonder om daad by die woord ‘visvang’ te voeg, sê Gert Mossie. En toe het ‘n ou soos hy op ‘n dag ook iewers op ‘n oewer op sy rug gelê en peins oor die tergende probleem van ‘n naam vir dié tydverdryf.

Buurman
Hy dink dié ou het ‘n Ingelse buurman gehad, of iets, want hy het geweet die Ingelse praat van ‘angle’, of ‘engel’, soos die ou met die Ingelse buurman dit sou uitspreek. Maar ‘engel’ en ‘engelaar’ sou ook nie deug nie, sê Gert Mossie, want ons mense het mos respekte vir dié dinge wat respekte verdien.

So het dit dan gekom dat ‘n versagtende ‘h’ voor die Ingelse engel gesit is en dat ons vandag van ‘hengel’ en ‘hengelaar’ praat as ons van iemand wil praat wat gaan visvang sonder om vis te vang, het Gert Mossie gesê.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online