Jopie se dood met kranslegging herdenk Print E-mail
News - Toeka se dae
Monday, 26 January 2015 23:27
Untitled Document

Jopie Fourie se dood 100 jaar gelede is met ’n kranslegging by sy graf herdenk. Die seremonie is op 20 Desember deur die ATKV se Centurion-tak by die begraafplaas in Kerkstraat Wes, naby aan Kerkplein, gehou.

Jopie Fourie is op 20 Desember 1914 by die Pretoria Gevangenis in Potgieterstraat as rebel tereggestel. Sy grafsteen is eers in 1971 opgerig en op 18 September deur die destydse Eerste Minister, BJ Vorster, onthul.


ATKV-lede, en verteenwoordigers van Laerskool Jopie Fourie het gehelp graf skoonmaak vir die kranslegging

Sakkie Kotze van die ATKV het aan die gehoor gesê dat gebeure van 1914 en geskiedenisfeite nie in sy toespraak herhaal of beoordeel gaan word nie. Die ATKV kon net nie die 100-jarige datum van die Rebellie en Jopie se teregstelling ongesiens laat verbygaan nie.

Coert Grobbelaar het Gesang 20:8 in Nederlands vertolk. Jopie was besig om dié vers te sing toe hy deur ’n vuurpeloton gefusilleer is.

Lede van die ATKV Centurion Musiekforum het as gaskunstenaars opgetree. Hulle program van gewyde musiek by die graf het ook ‘Gebed’ van Koos du Plessis, en die ‘Magaliesburgse Aandlied’ ingesluit. Pieter Coetzee, op die trompet, het die program met die ‘Laaste Taptoe’ afgesluit.


Sakkie Kotze van die ATKV met die kranslegging by Jopie Fourie se graf
Foto’s: ATKV

Louis Lewis het namens Avbob ’n krans gelê. Sakkie sê daar is ’n sterk vermoede dat Avbob dalk Jopie se begrafnis in 1914 hanteer het.

Afrikaanse kultuurorganisasies, -kerke en -skole is genooi om ’n verteenwoordiger na die kranslegging te stuur. Die Fourie Familiebond, Laerskool Jopie Fourie, Die Afrikanerbond, Die Afrikaanse Volkssang en Volkspelebeweging, Afriforum, die Erfenisstigting, die FAK, die GHA, die SAVF, die Voortrekkerbeweging, Vriende van die Oorlogsmuseum, die Light Horse Regiment en die direksie van die Voortrekkermonument was verteenwoordig.

 

© 2024 Die/The Bronberger