Ons mense se wense vir die nuwe jaar PDF Print E-mail
News - Artikels
Monday, 26 January 2015 21:25
Untitled Document

Met die nuwe jaar wat in sy kinderskoene staan, het ons ‘n aantal Bronnie-lesers gevra om vier vragies oor hulle vooruitsigte vir 2015 te beantwoord. Die vrae was: 1. Is jy optimisties oor die jaar wat voorlê en hoekom – of hoekom nie? 2. Het jy enige nuwe planne of projekte beplan vir 2015 en indien wel, wat behels dit? 3. Enige nuwejaarsvoorneme en hou jy nog daarby? 4. As jy ‘n wens, of wense vir die nuwe jaar het, wat sou dit wees? Hier is hulle antwoorde:

Reline Badenhorst van Nooitgedacht:

“Daar is soveel negatiewe gebeure in ons land en op ons planeet dat ek sommige dae negatief wil raak, maar dan kyk ek na al die mooi om my en voel sommer dadelik beter. Ek is beslis optimisties oor die jaar wat voorlê. Nuwe dae bring nuwe dinge. Nuwe avonture en uitdagings is daar om aan te gryp en te benut. Indien jy negatief na alles kyk, sal dit alles by jou verby vlieg.

“Ek en Dawie is dié jaar 25 jaar getroud (tande kners, ken ons goed) en wil vir ons herdenking Europa toe gaan. Dit is nog wik en weeg tussen bootreis of ‘backpackers’. Enige voorstelle?

“Dit is die jaar wat ek die opknappings aan ons huis wil voltooi. As jy jou eie onderneming het, gaan dit maar stadig, want die tyd is nie altyd daar nie. Gelukkig is ons dogter, Madeleine, besig met studies in dekor en ontwerp en is sy vuur en vlam om te help. Hou ek daarby? Nog nie begin nie, maar hoop beslis so!”

Reline sê haar eerste wens vir die nuwe jaar is dat haar gesin, familie en vriende almal gesond deur 2015 sal gaan.

Wat werk betref is haar wens dat Sun Projects so goed sal doen as in 2014, of nog beter.

“Suid Afrika: Dalk ‘n nuwe regering? Of dat die huidige regering wakker word en sien wat hulle aan ons mooie land en mense doen.

“Wêreld: Wêreldvrede is dalk nie moontlik nie, maar ek mag vra dat mense mekaar moet respekteer en elkeen sy dag in die son gun.

“Natuur: Een van my grootste wense is dat die mens sy plig doen soos gegee in Genesis en na die natuur omsien. Dat die misbruikers van ons planeet sal besef dat renoster en olifant, plantasie en rivier daar is om beskerm te word, nie om te misbruik en te vernietig nie,” sê Reline.

Shantel van Wyk van Rayton:

“Ja, ek voel vir seker optimisties oor 2015 – dit is 'n nuwe jaar met nuwe dinge vir my kinders se skool, my man se loopbaan en ons as gesin wat die Here dien.”

Shantel sê sy het geen spesifieke planne vir die jaar nie. “Ek vat die jaar soos hy kom en wanneer ek iets moet doen, doen ek dit dan voluit.”

Haar nuwejaarsvoorneme is om betyds te wees vir alles. Sy sal moet wag om te sien wanneer sy begin werk en kerk toe gaan en afsprake nakom of sy by haar voorneme kan hou.

“My wense is om voluit vir God te gaan,” sê Shantel.

Arna Greyvensteyn van Klipkop:

“Ek is ongelooflik opgewonde oor die nuwe jaar.” Arna sê 2014 was nie ‘n slegte jaar nie en die vooruitsigte vir 2015 lyk rooskleurig met ‘n nuwe onderneming wat begin is.
Sy het in Oktober 2014 ‘n nuwe boubenodighede-saak saam met jaar man, Evert, en haar broer, Henry, begin. Hulle is reeds ongelooflik geseënd en 2015 is die jaar “wat ons hom gaan maak werk,” sê Arna. “Dit was mos lank terug my agtergrond, so die wiel het nou 360 grade gedraai.”

Oor haar nuwejaarsvoorneme sê sy: “Hierdie jaar moet daar geld gemaak word en hopelik hou die energie waarmee ek begin het.”

Arna se wense vir die jaar is: “Ek wens dat my drie pragtige dogters net so mooi en kosbaar bly en my dalk ouma sal maak, dat my en manlief Evert se huwelik altyd so sal blom soos dit reeds doen en dat almal naby aan my hart net geluk, vreugde en liefde sal hê in 2015. O ja, en baie geld sal maak.”

Herman Grobler, afgetrede skoolhoof van Rayton:

“Ek is optimisties oor Suid-Afrika en die jaar wat voorlê. As al die mense harder gaan werk en werk skep, sal dit ’n wonderlike jaar vir Suid-Afrika wees,” sê Herman.

Maar daar sal volgens hom baie aandag aan twee sake gegee moet word. “Die korrupsie in die land is baie hoog en onaanvaarbaar. Ons mense voel nie veilig in ons land nie; dit beïnvloed ons ekonomie en die leefwyse van ons mense.”

Herman het planne om vir twee weke wildtuin toe te gaan en om sy nuwe stokperdjie, fotografie, tot ‘n hoër vlak te neem.

Hy wil ook graag die studente in die Pretoriase Sentraal-gevangenis bystaan en toesig hou oor eksamens vir Unisa.

Sy nuwejaarsvoornemens sluit in om te kyk of hy nie sy gesondheid kan verbeter nie. “Ek sal graag ‘n paar mooi foto’s wil neem en my voëlkykuitstappies wil uitbrei na ander dele van die land, soos die Drakensberge.”

Herman se wens vir 2015 is dat daar op politieke- , ekonomiese- en sosiale vlak groot positiewe veranderings sal kom. “Ons land moet vorentoe en nie agteruit gaan nie,” sê hy.

Elmarie Linde van die Moot:

“Nou dat ek nie weer matriek hoef te skryf nie (en met my oudste wat puik uitslae opgelewer het) voel ek baie optimisties oor die vlakke van energie wat ons te wagte kan wees. Ek glo dat 2015 ligter as die laaste helfte van 2014 gaan wees met minder beurtkrag en meer kilometers op 'n tenk brandstof,” sê Elmarie.

“Ek het elke jaar een nuwejaarsvoorneme en ek hou gewoonlik die hele jaar daarby . . . om te lewe en om elke dag as nuwejaar te hanteer. Uit die aard van my beroepe (raadslid en eiendomsagent) is ek nie goed met roetine nie, daarom hou ek by my reël om nie te veel voornemens te hê nie. Dit is 'n absolute voorreg om elke oggend gesond wakker te word en te kan lewe.”

Elmarie het wel een wens vir haarself vir 2015: “Om te kan groei. Nie in breedte nie, maar geestelik en in my loopbaan.”

“My wens is dat ek van my Hemelse Vader daagliks leiding en insig sal ontvang om alles wat ek aanpak na die beste van my vermoëns te doen en steeds my gemeenskap te kan dien.”

Haar projekte vir hierdie jaar sluit in om steeds goeie transaksies met betrekking tot die eiendomme te doen en om die 2016-munisipale verkiesing suksesvol af te handel sodat daar verandering in Tshwane kan kom. Beleidsdokumente moet gefinaliseer word en as deel van 'n wenspan sal sy haar deel in 2015 doen om almal in Tshwane gereed te maak om in 2016 by die stembus op te daag.

Dennis Farquhar van Kaalfontein:

Ja, ek voel optimisties oor die jaar wat voorlê, want ons is gelukkig dat ons dadelik met werk kan wegspring in 2015. Laas jaar het ons glad nie vir die eerste ses maande werk gehad nie,” sê Dennis.

Een van sy projekte vir die jaar is die ontwikkeling van ‘n nuwe soort kruipspuit wat op laer druk as al die bestaande soorte werk. Dennis se onderneming vervaardig besproeiingstoerusting.

Sy voorneme is “om ‘n bietjie meer tyd saam met familie te hê.” “Jong, dis maar moeilik om by die goed te hou,” se hy.

Sy wens vir die nuwe jaar is dat dit vir almal ’n goeie jaar sal wees.

Grada Scholes from Faerie Glen:

“I am optimistic about the new year, even if it's cautiously so. We have work lined up for the next three months in our core business, which looks very promising,” says Grada.

“Our yoga events company will host four yoga retreats, varying from long weekends in Hogsback to 10 day beach breakaways in Mozambique.”

Grada is also starting to familiarize herself with the children's Waldorf homeschooling curriculum for 2015. She loved last year's and can't wait to see what they will tackle this year.

“The boys are undertaking to do pull-ups every day until they can do 10 without a break. I will settle for one, without breaking anything! My wishes for the new year include a bit of financial relief for everyone, upgraded infrastructure as evidence of a government that is finally able to find its backside with both its hands and raised awareness across the board, including awareness of personal accountability. I come from the premis that we create our own reality and therefore must take responsibility for it, the good and the bad alike,” says Grada.

Phillip Fourie van Cullinan:

“Met die brandstofpryse wat so gedaal het, en dit aan die begin van die jaar, glo ek dit gaan ‘n baie goeie jaar wees,” meen Phillip.

Hy beplan om in 2015 ‘n groot speelplek vir kinders te maak by sy kuierplek op Cullinan se ou stasie.
Phillip se nuwejaarsvoorneme is om elke dag te vat soos hy kom. “Hoeveel keer sê mense, ek gaan ophou lelik praat, of ek gaan ophou rook, maar bly nie daarby nie.”

Sy wens vir die jaar is dat elke mens ‘n kans gegun moet word om sy drome of wense te kan bereik en om aan die einde van die jaar te kan sê: ‘Ek is vir seker ‘n beter mens.’

Riëtte van der Merwe van Zwavelpoort
Ja, sy is optimisties oor die jaar wat voorlê, sê Riëtte. Sy glo nie daarin om negatief te wees nie.
Riëtte het ‘n ‘klein eiendompie’ by Boesmansriviermond gekoop en sy beplan om dit hierdie jaar te ‘revamp’.

Haar voorneme is om ‘meer te laat los’ en meer weg te kom van die gejaag en haar wens vir 2015 is ‘vrede en veiligheid’ vir almal.

Esther de Goede van Mountain View:

“Ja, ek is beslis optimisties. Ek dink daar gaan ‘n draaipunt / keerpunt en interessante gebeure op politieke gebied wees vanjaar. Ek is ook positief oor vooruitsigte met my eie sake-onderneming, aangesien klante, ondanks swakker finansiële omstandighede hierdie tyd van die jaar, steeds bestellings plaas.”

Esther sê sy beplan nie noodwendig nuwe projekte nie. Sy het verlede jaar met ‘n nuwe onderneming afgeskop, maar wil vanjaar produkontwikkeling doen en beplan ook nuwe toevoegings tot haar produkreeks.

Haar voorneme is om steeds beter en beter diens te lewer en self ‘n beter mens te word.

Haar wens vir 2015 is om met deursettingsvermoë en oorleg haar onderneming uit te brei en ‘n welbekende en uitnemende entrepreneur te wees.

Alida Lombard van Pretoria Noord:

“Nee, op die oomblik voel ek negatief, as gevolg van my man, Hans, se dood en my gesondheid wat ook agteruitgaan.”

Alida sê sy beplan om meer aktief betrokke te raak by vrywillige werk by die aftree-oord waar sy nou woon. Dit is haar voorneme om meer betrokke te raak en aandag te gee aan die mense van die oord wat dit nodig het.

Alida se wens is dat haar gesondheid kan verbeter en dat sy ‘n aanvullende inkomste kan verdien, want sy trek swaar met die bietjie pensioengeld wat sy kry.

Lorette van Hoepen van Zwavelpoort:

Lorette sê sy móét glo dat 2015 'n beter jaar gaan wees, want as jy ophou hoop en droom is dit neusie verby met jou.

Verlede jaar het hulle reeds begin om beter klaar te kom te midde van Eskom se treurige ‘diens’ en die plan is om in die nuwe jaar minder afhanklik en meer selfversorgend te word.

Haar wens is dat 2015 ‘n beter jaar vir die land en sy mense sal wees, anders weet sy nie . . .

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online