Ses voorblaaie uit ons sesde jaar en hulle stories PDF Print E-mail
News - Artikels
Wednesday, 17 September 2008 22:53
Untitled Document

Oktober 2007
Dié pou en sy maat het een dag ewe onverwags by die stalle waar ons perde gewoon het, opgedaag.’n Ruk na hul aankoms het die wyfie verdwyn, maar die mannetjie het gou die perde-voer roetine uitgekyk en het die mense elke dag rondom voertyd ingewag en op die dak staan en pronk. Hy het naderhand agtergekom waar die voertuie vandaan kom en het langs die pad staan en wag. As hy die regte voertuig gewaar, het hy solank vooruit gehardloop stalle toe. Die pou het so onverwags soos hy opgedaag het, ’n paar maande later weer verdwyn.

Januarie 2008
Dié foto wys die murasie van die destydse Pheasant’s Nest kuierkroeg wat deur Ed en Karin Saffy op hul plot langs Garstfonteinweg gebou is. Die plek het so om en by’n dekade gelede afgebrand en die kuierproses is voortgesit in ’n grasdak lokaal wat toe bekend gestaan het as Zonked Guinea Fowl. Dié kuierkroeg het ’n paar bestuuren naamsveranderings oor die jare ondergaan – van The Crazy Cock tot Bull ’n Bush en Cool Cats. Hy is ’n jaar of wat gelede weer deur eienares Karin oorgeneem en herdoop na Ed’s Place in herinnering aan wyle Ed Saffy. Karin gebruik die murasie as verhoog vir ‘rock’ feeste.

Februarie 2008
Só lyk die voorblad van Die Bronberger se eerste tema-uitgawe in Februarie. Die tema was ‘Dinge om te doen in die Bronberg’ en die foto’s in die saamgestelde voorblad strek van vuurdanse, didgeridoo’s, tromsirkels en ‘paintball’ tot perd-, quad- en donkiekarritte,‘callenetics’, To-Shin Do, rotspoele, bergfietse, ’n skaapkop- braai, miniatuur diertjies en’n vliegles – alles in ons eie omgewing. Dit is die tema wat die beste lesersreaksie ooit uitgelok het. As ’n mens kyk na Die Bronberger se webwerf is dit dié artikel wat by verre die meeste‘hits’ kry.

Maart 2008
‘Jou huis in die Bronberg’ was die tweede tema wat Die Bronberger aangepak het. Die voorblad samestelling wys ’n paar bekende Bronbergers by hul huise. Dié klein foto’tjies is vervleg in kosmosblomme. Die tema is aangepak sodat ons vir lesers kon wys presies waar hul die spesialiste in ons omgewing kan raakloop. Of jy nou wil verbou, versien, vervang, vernu, versier, verfraai, verbeter, versorg, verstel of vertoon, hier kon jy jou verlekker aan alles wat jy nodig het om jou huis verruklik te maak.

April 2008
Groot was ons verbasing toe tientalle oproepe begin inkom van lesers wat by die ‘restaurant’ op April se voorblad wil gaan eet. Die foto is egter glad nie by ’n restaurant geneem nie, maar op die balkon van ons blyplek. April was nog ’n tema-maand met ‘Kuier in die Bronberg’. Van kuier tot konferensies, van spanbou tot trou – ons het jou gewys waar om te eet, oor te slaap of dalk nag-deur wakker te bly in ons kontrei.

Julie 2008
Die Brahmahaan op Julie se voorblad wen dalk die wedstryd vir die voorbladfoto in Die Bronberger se geskiedenis wat die meeste lesersoproepe tot gevolg gehad het. Ons was verstom oor die hoeveelheid mense wat presies net so’n haan wil hê en wat nou dadelik met die haan se eienaar wil praat. Die trotse eienaar van dié Brahma is Faan Smuts van die Bronberg Lodge in Zwavelpoort. Hy sit nou met ’n reuse waglys van mense wat kuikens soek.

 

© 2019 Die/The Bronberger