Merke gereed vir 2015 PDF Print E-mail
News - Kommentaar
Monday, 26 January 2015 21:16
Untitled Document

Merke-gereed vir 2015

Soos die meeste lesers in ‘n opname oor die nuwe jaar, staan ons hier by die Bronnie ook merke-gereed om die res van 2015 met geesdrif storm te loop. En ons het ‘n aantal Nuwejaarsvoornemens:

  • Dit is ons voorneme om vanjaar ‘n tydskrif van gehalte, na die beste van ons vermoë, vir en oor die Bronberg-gebied en sy besonderse mense uit te gee – soos wat ons die afgelope 12 jaar en vier maande poog om te doen. Net enkele van ons ander voornemens is:
  • Ons neem ons voor om vanjaar skerp te fokus om ‘n aantal klein jakkalsies wat die Bronberg-wingerd verniel en ook op die groter buffels wat dreig om die ganse oes te vernietig. Ons onderneem om die Bronnie as vanghok en verdowingspyl in te span teen dinge wat pla, maar ook om te fokus op die positiewe, die suksesverhale en die mense wat ‘n verskil maak.
  • Omgewingsake lê ons na aan die hart en ons wil vanjaar alles moontlik doen om te help met die bewaring van die gebied se natuurlike bronne en sy ryk plant- en dierelewe. Ons voorneme is om veral aandag te gee aan die bekamping en uitroei van indringerpeste, soos die pom-pom-onkruid, gewetenlose ontwikkelaars, roofstorters en prospekteerders.
  • Ons onderneem om ons deel te doen om daardie ongewenste groot buffel in ons gebied, misdaad, te help hokslaan. Ons wil dit doen deur bewusmaking, inligting en die ondersteuning van instellings, gemeenskapsbewegings en mense wat dit hulle te doel het om teen misdaad te baklei.
  • Deur erkenning te gee aan en deur die bekendstelling van die mense wat onbaatsugtig bydra tot die welstand, veiligheid en welsyn van ons gebied se inwoners, wil ons hulle taak vergemaklik en meer Bronbergers betrokke kry om die lewe vir almal wat die gebied bewoon, te verryk.
  • Ons wil ons beywer om goeie buurmanskap in ons gebied te bevorder. Ons wil help om ‘n gemeenskap te vestig waar bure mekaar ken, vir mekaar omgee en in samehorigheid kan optree in die belang van die hele gemeenskap.
  • Dit is ons voorneme om in hierdie jaar, soos in die verlede, te help omsien na die troeteldiere wat die gebied met ons deel. Ons wil help om verlore diere by die huis te kry, om die mishandeling en verwaarlosing van diere te help hokslaan. Ons neem ons veral voor om vanjaar aggressief te baklei teen die onwettige koop en verkoop van vuurwerke en teen die selfsugtige en sinnelose afskiet daarvan.
  • Een klein jakkalsie wat te dikwels sy vernielsugtige kop in veral ons landelike gebied en plattelandse dorpies uitsteek, is die afguns en nydigheid teenoor mede-inwoners. Verlede jaar het ons van ‘n aantal lelike voorvalle bewus geword, waar eerlike pogings om ondernemings te vestig deur die afguns en nydigheid van gevestigdes, gedwarsboom is. Ons wil help om dié gogga uit te roei en ons glo dat ons kan help om daardie ‘plekkie in die son’ meer geredelik beskikbaar te maak deur die nydiges en afgunstiges en hulle metodes openbaar te maak.
 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online