Wat sou De la Rey gedoen het? PDF Print E-mail
News - Briewe
Monday, 26 January 2015 21:12
Untitled Document

Prof Koos de la Rey van die Rayton-distrik skryf:
Ek het die artikel ‘Oorlog-Kersfees sorg vir hartseer en verassings’ met belangstelling gelees. Die volgende opmerkings in dié verband om die saak in perspektief te stel: 
Van die De la Rey kant af, stem ons saam met die feit dat genl Beyers bedank het en dat hy saam met genl Koos de la Rey uit Pretoria vertrek het. Dit is feite. Om die saak egter in perspektief te plaas, moet ‘n mens by die aanloop tot hierdie rit begin. 

Genl De la Rey, in sy laaste toespraak in die volksraad, het dit duidelik gestel dat broer nie teen broer moet veg nie. Hy wou dat die twee kante versoen. Hy vertrek per trein na Pretoria, maar klim in Johannesburg af en oornag daar. 

Die De la Rey familie kon nooit uitvind wat hy daar gemaak het en wie hy daar gesien het nie. Wat wel gedokumenteer is, is dat genl Botha hom in Johannesburg laat haal het vir ‘n afspraak wat plaasgevind het voor hy saam met genl Beyers vertrek het. 

Sekere navorsers beweer dat hy vir genl Botha gesê het dat hy saam met genl Beyers vertrek om te kyk of hy nie die twee kante kan versoen nie. Hy sou genl Botha die eerskomende Maandag weer ontmoet het om die saak verder te bespreek. Die ontmoeting kon weens sy dood toe nooit plaasvind nie.   

My ouma, wat aan genl De la Rey se seun verloof was voor hy in die Boere-oorlog geskiet is, het ‘n besondere verhouding met genl Koos de la Rey bly handhaaf na Adriaan se dood. Hy het haar gereeld besoek as hy van sy plaas af Pretoria toe gereis het. Sy het gesorg dat sy altyd op hoogte gebly het van politieke verwikkelinge. 

Ek het dikwels met haar gesels oor gebeure gedurende daardie tyd. Volgens haar, en ek het ook ander bronne gelees wat daarmee saamstem, het genl De la Rey tot die dag toe hy geskiet is, nog probeer om die twee kante bymekaar uit te bring. 

Sou hy gerebelleer het? Daar is geen bewyse dat hy sou nie, net soos daar geen bewyse is dat hy dit nie sou doen nie. Hy sou die antwoord op die vraag waarskynlik die volgende week by die saamtrek op Lichtenburg verskaf het. 

Ek het ‘n tyd terug met ‘n kleinseun van genl De la Rey oor die onderwerp gesels. Hy het vir my gesê dat hy met sy pa (Hennie) oor die onderwerp gesels het en dat sy pa ook nie kon bevestig of ontken dat genl De la Rey sou rebelleer nie.   

Wat ek verder onthou, was dat my ouma dikwels vir my gesê het “daar is twee kante aan ‘n saak, die De la Rey kant en die Beyers kant”.  Dit het daarop gedui dat hulle nie met die bewerings wat genl Beyers se kamp gemaak het, saamgestem het nie. 

As jy ‘n studie maak van genl Koos de la Rey se toesprake en optredes, sê my aanvoeling dat hy met sy afsterwe nog sou probeer het om die twee kante te versoen. Wat hy sou doen, bly dus ‘n ope vraag.

Hoop die skrywe maak ‘n bydrae.

 

© 2019 Die/The Bronberger