Vakansie: Ons lesers beplan, onthou en droom PDF Print E-mail
News - Artikels
Friday, 12 December 2014 11:53
Untitled Document

Wat gaan jy en joune hierdie lekker lang somervakansie doen? Gaan julle iewers heen en indien wel, waarheen? As dit vir jou moontlik was om enige vakansiebestemming te kies, wat sou dit wees? En wat onthou jy as die heel beste somervakansie van jou lewe? Dit is die vrae wat ons aan ‘n aantal Bronbergers gevra het. Hier is hulle antwoorde:

Carl Stofberg van Kleinfontein

Hierdie jaar gaan hulle nie in die Kersvakansie weg nie omdat Carl en sy vrou Gertie hulle 10e huweliksherdenking in Januarie met ‘n bootreis gaan herdenk. Kersfees sal hulle saam met familie in Pretoria wat ook nie weggaan nie, vier.

Carl sê hulle is nie meer deel van die ‘rat race’ wat see toe jaag vir vakansie nie. As hulle kon kies sou hulle “met tent en driepootpot” afsuiker Waterberge toe.

Die beste vakansie ooit was vir Carl ‘n Weskuskuier. Hulle het langsaam van Lambertsbaai af suid gekuier tot in die Kaap.

Freda Scott van Waterkloofrif

Freda sê vir hulle is dit elke jaar die suidelikste punt van Afrika. Hulle het ‘n vakansiehuis in L’Agulhas en dit is haar tweede tuiste. “Dit is hier waar my siel skoon word en herlaai word en nuwe planne beraam word vir die nuwe jaar wat voorlê.”

Hier tel sy haar seëninge en is sy dankbaar en waardeer sy ons pragtige land, sê Freda.
Dit is waar sy haar beste vakansies hou en dit is die bestemming wat sy telkens sal kies.

Esperance Grobler van Wapadrand

Sy en haar gesin gaan na haar kleinsus, Elreza, in Queenstown waar hulle saam met haar hele familie vir Elreza ‘n ooievaarstee gaan hou en vir ‘n week lank saam gaan kuier, sê Esperance.

Sy sien verskriklik baie uit daarna, want hulle groot familie woon wyd verspreid en kan nie dikwels almal saam wees nie. Daarna gaan hulle ‘n draai maak by Hogsback en sal vir Kersfees terug wees by die huis.

Esperance sou beslis iewers langs die kus in die suide van Frankryk gaan uitspan, sou sy enige vakansiebestemming kon kies.

“Een vakansie wat vir my baie spesiaal was, was in Desember 2008, toe ons saam met my man se familie in Ponta de Barra, Mosambiek in 'n groot houthuis bo-op 'n duin saam vakansie gehou het.

“Ons dink baie keer terug aan daardie tyd as van die beste tye in ons lewe. Die kuiery en samehorigheid, kosmaak en uiteet, ekskursies na eksotiese strande, yskoue ‘cocktails’ by strandkroeë, warm tropiese atmosfeer, afkoel in kristalhelder seegolwe, ongelooflike natuurskoon, avonture en tegnologie-lose absolute ontspanning, het gesorg vir 'n onvergeetlike tyd waarin ons die oomblik van nou ingedrink en geniet het,” sê Esperance.

Robert Denton van De Tweedespruit

Robert sê hulle bly by die huis, want “wat is nou lekkerder as Desember in De Tweedespruit?”

As hy enige vakansiebestemming kon kies sou dit New York wees. Vir die kos en die kuns, sê Robert.
Hy kan nie een vakansie uitsonder nie, want vir hom is elke vakansie die beste ooit.

Charlé Bester van Waterkloof Glen

Gelukkig werk sy en haar hele familie dié somervakansie, daarom voel sy nie so alleen nie, sê Charlé. Hulle doen die ‘tuinroete al om die huis.

Kersdag sal die hele gesin darem by haar suster bymekaar wees om lekker te kuier.

Charlé sou baie graag na die Maldives gaan, as sy kon kies. Hulle is baie lief vir duik en die seelewe lyk fantasies daar. Daar is ook heerlike strande waarop hulle twee babas kan speel.

Charlé, haar man Nelis en hulle kindertjies, Carla en Luc, was aan die begin van November Sodwana toe. Dit was die eerste keer dat die vier van hulle saam met vakansie was. “Ons het so lekker gekuier; son, see en sand,” sê Charlé. Dit is vir haar baie spesiaal om kwaliteittyd saam met haar man en kinders te spandeer, daarom staan dit uit as haar gunsteling vakansie ooit.

Carmen Saffy van Tierpoort

Hulle gaan vir ‘n week Ballito toe en sal die res van die somervakansie saam met vriende en familie in Pretoria deurbring en net ontspan, sê Carmen Saffy.

Carmen sou graag deur Europa wou reis, as sy kon kies. Sy sou ook baie graag die Portugese eilande wou besoek.

Die vakansie wat uitstaan as een van haar bestes, was by Casa Barry in Tofo, Mosambiek. Dit was haar laaste vakansie saam met haar oorlede pa, Eddie, en Mosambiek is volgens haar ‘n pragtige land.

Danie van Eeden van Zwavelpoort

Danie van Eeden sê hulle gaan ‘n bietjie see toe vanjaar. Hulle mik vir Heroldsbaai naby George.
As hy enige bestemming kon kies sou hy dalk dink aan ‘n eiland soos Mauritius.

Een vakansie wat uitstaan, maar net omdat dit nie gereeld moontlik is nie, was met ‘n kampeervoertuig deur California in Amerika, sê Danie.

Marieta van der Walt van Derdepoort

Hulle gaan dié jaar Sodwanabaai toe, maar as sy kon kies sou dit Mosambiek wees, sê Marieta.
Die vakansie wat vir haar uitstaan was hulle eerste besoek aan Mosambiek. Hulle het geen besprekings gemaak nie, net gery en dit was ‘awesome’, sê sy.

Hulle was Inhambane toe en het by verskillende oorde oornag. Vir haar was die lekkerste plekke Zavora, Inhaca Eiland en Macaneta Eiland.

Talita van Wyk van ‘net buite’ Rayton

Talita, haar man, Gerhard, en hulle twee kinders, Danielle en Albert, gaan hopelik “as ons kan wegkom” vir ‘n paar dae Ballito toe.

Ballito is die gesin se gunsteling plek in Suid-Afrika.

Die lekkerste vakansie ooit was ‘n paar jaar gelede se wit Kersfees in Switserland, sê Talita. Daardie poskaartmooi-prentjies sal haar altyd bybly.

Lorraine Oosthuizen van Tierpoort

Lorraine werk die hele vakansie by haar slaghuis op Tierpoort en ry maar met Jan Tuisbly se karretjie, sê sy.

As sy kon, sou sy graag see toe wou gaan.

Haar beste vakansie was in die Kaap met sy wynroetes en aan die Weskus met sy koue water en lang strande.

Dawie Badenhorst van Cullinan

Dawie gaan ‘n “draai maak” by die see en ná dit gaan hy maar dag vir dag aanpak – dalk ‘n bietjie visvang. Hy en ‘n paar vriende gaan vir die eerste week van die vakansie Scottburgh toe.

As hy enige bestemming kon kies sou hy sonder om twee keer te dink Egipte toe gaan. Dawie sê dit is op sy emmerlys om die piramides en ander merkwaardighede te sien.

Die beste vakansie vir hom was by Mosambiek se Beline. Hy en familie en vriende was so drie jaar gelede daar en al was dit ‘n ‘bietjie’ warm, was dit meer as die moeite werd.

Elsa Blom van La Montagne

Elsa gaan dié Kersvakansie “rustig by die huis” wees, omdat sy ‘n bejaarde ma het wat nie kan reis nie en hulle haar nie Kersfees alleen wil los nie.

Elsa sê sy is gelukkig dat haar sussie vir die vakansie uit Suriname kom kuier en haar in Februarie saamvat Kaap toe.

As sy kon sou sy graag eendag oorsee wou gaan, maar anders sal sy ook deur Suid-Afrika wil toer, wat soveel pragtige plekke het om te sien.

Een van haar beste vakansies was toe sy, haar man en seun deur die Noord- Kaap, Namakwaland en Wes-Kaap gereis het. “Ons het niks bespreek nie, maar net in die aande tent opgeslaan. Ook met al my kinders wildtuin toe gewees wat altyd uitstaan as so 'n wonderlike tyd,” sê Elsa.

Juanita Anderson Kruger van Tiegerpoort

“Ons gaan saam met familie en vriende kuier, ons huis ‘declutter’ en sommer op baie uitstappies gaan met die kinders, soos na die nasionale museum,” sê Juanita.

As sy ‘n bestemming kon kies sou dit ‘n skivakansie in Frankryk, die Noorderligte kyk in Noorweë, of Suid-Afrika se weskus wees.

Die beste vakansie ooit was Kersfees in Switzerland.

Danie Erasmus van buite Cullinan

Danie sê hy gaan nêrens nie. Hy bly by die huis, pas die plaas op en hou die dood van die pad af.
Hy sou ook graag Mauritius toe gaan as hy kon kies.

‘n Vakansie wat hy nooit sal vergeet nie, is toe hy in 1973 saam met sy neefs en niggies in die ou Lorenzo Marques was.

Hy onthou dat ‘n mens 40 Escudos vir ‘n Rand gekry het. Kasjoeneute in blikke van 5 kg was spotgoedkoop en Laurentina en 2M was goedkoper as Coke. Seekos was oorvloedig.

In die nagklub was dit ‘n bietjie donker en die meisies baie mooi. Toe vergeet hy sy bril in die nagklub, sê Danie.

Trix van den Bergh van Tierpoort

“Ons as gesin/familie probeer tyd saam spandeer. Die hele jaar is 'n gejaag,” sê Trix.
Dié somervakansie gaan hulle ‘n bietjie Mabalingwe toe naby Warmbad (Bela Bela).
Sy kies die bosveld as haar gunsteling wegbreekplek. Trix sê haar gesin is “mal oor” die bos, kampvure en die buitelewe.

“Ek self mis die vakansies wat ons as kinders saam met my Ouma Beatrice en Oupa Cas gehad het. Junie/Julie was dit gewoonlik Tshipise en Desembers was dit Badplaas,” sê sy.

“Dit was wonderlike vakansies, almal van hulle, Kersfees saam met Oupa en Ouma was altyd 'n fees in die woonwa.”

Petro Seeley van Rayton

“Desember is die maand wat ons opvang met takies by die huis en rustig vir die nuwe jaar beplan. Tyd by die huis is die lekkerste kuier. Ons is die hele jaar aan die gang en op die pad,” sê Petro. Daarom is die bestemming tuis saam met familie, as dit nodig is, en as sy enige bestemming kon kies sou dit steeds by die huis wees.

‘n Toer deur die Kaap, oos na wes by al die klein dorpies in en uit, is vir haar die beste wat sy nog ervaar het. Geen ander vakansie vergelyk daarmee nie. Geen plek in die buiteland het daardie vrede, kalmte en natuurskoon van ons eie Kaap nie, sê Petro.

Mariëtte Blom van buite Rayton

Mariëtte en haar man Louis is maar gewoonlik tuis oor die feestye. Hulle beplan gewoonlik kuiers met vriende wat ook nie weggaan in dié tyd nie. Kersvieringe saam met familie is gewoonlik op hulle plot net buite Rayton.

Die Kaap is baie na aan haar hart en hulle hou heerlik vakansie daar want “daar is net baie om te sien en te doen”. Sy is ‘n ou Kapenaar en die atmosfeer bring lekker herinneringe terug, sê Mariëtte.

“As ek enige vakansie kon uitsonder uit my verlede is dit definitief Nieu Seeland met sy asemrowende natuurskoon en as ek nou kon kies sou ons dit weer en weer doen. Maar behalwe dit? Ons dogter woon daar!”

Helena Potgieter van Tweedragt

Hierdie vakansie woon en werk die Potgieters rustig voort. Haar man werk weer soos alle ander Desembers, maar hy kla nie want hy ry dan stad toe elke dag met die verkeer wat lyk soos Sondagoggend, sê Helena. 

“My seuns het albei werk gekry na hulle studies. So, harte vol dankbaarheid om te kan werk Desember, want nie almal het die voorreg om te werk nie. Ek gaan ook voort soos gewoonlik op die kleinhoewe met diere, groentetuin en nog wat. Ek kla ook nie want ek bly elke dag ver uit die stad op die mooi Hoëveldse ooptes. Stadsmense betaal baie om vakansietye weg te breek na die natuur. Ek is geseënd. Maar ons gaan wel die 16de, 25ste en Nuwejaar heerlik kuier met geliefdes en al ons seëninge vier,” sê Helena

As sy moes kies om iewers heen te gaan sou sy enige stil plekkie by die see kies. Sy kan nie die see vervang nie en was hoeka 15 jaar laas by die see.

Een van haar heerlikste vakansies was toe die seuns klein was, by Shaka’s Rock naby Ballito. Stil en rustig – natuurlik ja, sê sy.

Zabeth Greeff van Val de Grace

Zabeth gaan vanaf Kersfees tot net na Nuwejaar visvang saam met haar ‘liefde’ en sy gesin. Sy weet net die dam waarheen hulle gaan is naby Swartruggens.

As sy sou kon kies sou dit ‘n skoon strand by die see wees “waar my kleintjie kan hardloop en krappies vang”.

Die beste vakansies wat sy onthou is waar hulle vry en veilig kon kuier met vreemde maats en in strate af kon baljaar en toktokkie speel – in Port Edward.

Tobie Erasmus van Kleinfontein

Tobie Erasmus en sy vrou en baba van twee maande sal by die huis wees. Werkomstandighede maak dit moeilik om weg te gaan omdat ons (Wipronet) ‘n 24-uur-diens lewer, “maar om op Kleinfontein te bly is soos om altyd op vakansie te wees”.

As hy kon kies sou dit enige plek wat stil is, wees en eerder bosveld as die see. Berge met watervalle is altyd mooi en rustig, sê Tobie.

Hulle wittebrood by Toplodge in die Drakensberge was seker die lekkerste vakansie. Die enigste manier om by die plek uit te kom was met ‘n 4x4 voertuig. Dit het beteken dat dit lekker stil was en daar was baie staproetes tussen berge en riviere.

Marlou Bredenkamp van Cullinan

“Vakansie spel ‘gesinstyd’, en dis hoofsaaklik wat ons dié vakansie beoog om te doen,” sê Marlou.
Hulle gaan ‘n week in Hazyview vertoef (Sanbonani Lodge) “net om te kan sê ons was darem ook iewers, en om die eentonigheid van hierdie sewe weke lange skoolvakansie te breek”. Daarna beplan hulle om te ontspan, kuier, speel, swem, braai en alles wat jou aan somer laat dink.

“As deel van die Jakaranda kinderhuis se gasouerprogram sal ons waarskynlik ‘n kindjie by ons hê vir die grootste gedeelte van die vakansie, en die idee is om dié kindjie bloot te stel aan ‘n normale gesinslewe (of ons heeltemal normaal is, hang natuurlik af van wie jy vra). Kersfees vier ons by die huis met naby familie, kerse, gepaste musiek en met die hele opgewondenheid oor geskenke, maar sonder om die werklike bedoeling te vergeet.”

“Die vakansie wat ek seker die beste onthou is ‘n Kaapvakansie in 2008. Dit is besluit om eerder te vlieg as te ry. Selfs ‘n twee ure vlug van Johannesburg na Kaapstad is ‘n uitdaging met ‘n kleinding van net oor ‘n jaar. Eendag gaan daai twee mense voor ons wat deurentyd geïrriteerd oor hulle skouers geloer het ook moet vlieg met ‘n seuntjie wat ‘n week vantevore begin loop het.”

“Ons het ‘n ongelooflike gesinsvakansie gehad, waarvan ons ‘n groot deel in die besonderse Nieuwoudtville spandeer het. Dis hier op die Bokkeveld Plato, waar die Kaapse Fynbos die Hantam Karoo ontmoet, waar mens weereens besef dat Afrika nou maar eenmaal in jou bloed is.”

“Die tweede week in die Kaap was oor Kersfees en ons is op 26 Desember sak en pak strand toe. Na ordéntlike meet-en-pas het ons tog een ouma, vier ouers, vier kinders onder die ouderdom van drie, karstoeltjies, babasakke, ‘n gazebo, vier kampeerstoele, drie stootwaentjies, kameras, handdoeke, hoede, emmertjies, sonroom, kos én geld vir roomys in twee motors gekry, en het ons met bietjie geluk redelik naby aan die strand parkering gevind.”

“Vol Transvaalse selfvertroue kon niks of niemand ons oorreed om op die gras net ágter die strand te sit nie. Ons is by die see en ons sal op die sánd sit. ‘Nee wat, die ou bietjie wind sal nie pla nie,’ sê ons vir mekaar terwyl ons al klouend die gazebo se wapperende seil opsit. ‘Ja,’ beaam my broer terwyl hy so sit-sit die gazebo se een poot vashou, ‘dis eintlik lekker as daar ‘n bietjie wind waai’.

Warm sand  
“Om ‘n lang storie kort te knip, het ons nie eers tyd gehad om asem te skep en die see te waardeer na ons gewerskaf om ‘n handdoek plat op die sand te sit nie, toe waai die gazebo en al vier kinderhoedjies gelyktydig die eerste keer weg. Ons kon nog nie sê ‘sonskerm’ nie, toe sit ons met vier onbeïndrukte, ge“sandblast”e kleuters wat op die warm sand rondtrippel.”

“Ons het tot groot vermaak van ander Transvalers waarskynlik nie veel langer as 10 minute op die sand uitge(kl)hou nie, toe skuif ons maar gras toe. Dit was eintlik heel lekker op die gras – vir so ongeveer 15 minute tot mense skuif-skuif al nader aan ons kom sit as wat die ‘comfort zone’ dit normaalweg toelaat. Ons het weer verkas, maar het darem ander héérlike see-dae gehad.”

“Die rit terug huis toe met die Shosholoza Meyl was onvergeetlik. Daar is ongelooflike Karoo-landskappe wat jy nooit sien as jy per motor reis nie. Ons land is mooi!”

Daar is iets aan Skotland wat haar trek, en die weemoedige klank van die doedelsakke fassineer haar, sê Marlou. Voor sy eendag haar laaste asem uitblaas, gaan sy iewers op die groen ‘rolling hills’ van Skotland sit, en ‘n hele orkes met doedelsakke en tromme moet Highland Cathedral speel. (‘n Mens moet droom, ne?’)

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online