Oorlog-Kersfees sorg vir hartseer en verrassings Print E-mail
News - Toeka se dae
Friday, 12 December 2014 13:51
Untitled Document

‘n Honderd jaar gelede se Kersfees was die eerste een in ‘n wêreld-oorlog. Op eie bodem was dit ‘n hartseer Kersfees met die 1914 Rebellie wat families verdeel het en Rebellie-leiers wat net voor Kersfees dood is. Ons kyk watter invloed dié oorlog op die Kersseisoen van 1914 gehad het.

Angie Kleijn

Eerste Geallieerde betrokkenheid

Die Eerste Wêreld Oorlog het op 28 Julie 1914 begin. Alhoewel baie mense voorspel het dat dié oorlog voor Kersfees verby sou wees, het dit tot 11 November 1918 aangehou. Meer as nege miljoen soldate en sewe miljoen burgerlikes is in dié oorlog dood.

Die eerste Geallieerde betrokkenheid in die oorlog het met Suid-Afrikaanse troepe te doen gehad. Op 13 September 1914 het SA troepe ‘n polisiestasie by Ramansdrift in Duits Suidwes-Afrika aangeval. Dit het die Duitse oorgawe in dié land op 9 Julie 1915 tot gevolg gehad.

Oorlog-grafte kan in die gebied rondom Aus in suidelike Namibië besoek word.

Rebellie

‘n Kommando 1914 rebelle eet ontbyt in die veld
Foto: fak.org.za

Die 1914 Rebellie, wat broer teen broer, en vriend teenoor vriend te staan gebring het, is  in September 1914 op die spits gedryf toe eerste minister, genl Louis Botha, die aktiewe burgermag vir die inval van Duits Suidwes-Afrika opgekommandeer het.

Die rebelle kon nie insien waarom Suid-Afrika, knap 12 jaar ná die Engelse oorlog, vir hulle aartsvyand teen die Duitsers moes veg nie. Genl Koos de la Rey was een van die mees vooraanstaande Afrikanerleiers wat Botha se oorlogsplanne in die parlement bevraagteken het.

Ná die parlementsitting het hy na Pretoria teruggekeer om prominente eertydse Boeregeneraals soos Christiaan Beyers, Jan Kemp en Manie Maritz, wat toe senior offisiere in die Unieverdedigingsmag was, oor protes teen Botha se planne te pols.

Genl Beyers, wat op 15 September as kommandant-generaal van die Unieverdedigingsmag bedank het, het De la Rey ingewag en hulle het per motor na Potchefstroom, via Johannesburg, vertrek.

Toe hulle ‘n padblokkade teëkom, het hulle die bestuurder beveel om voet in die hoek te sit. Dit was glo ‘n opslagkoeël wat Da le Rey in die rug getref het. Hy is dieselfde aand van 15 September dood.
Dié nuus het skokgolwe deur die land gestuur en daar is gefluister dat hy opsetlik vermoor is. Die Rebellie het kort ná De la Rey se begrafnis gevolg met genls Christiaan De Wet, Christiaan Beyers, Jan Kemp en Manie Maritz aan die stuur.

Dié opstand het tot die verdrinking van genl Beyers in die Vaalrivier, die teregstelling van Jopie Fourie, die inhegtenisname van genl de Wet en talle ander rebelle, en selfs tot die eerste grootskaalse vroue-optog na die Uniegebou gelei.

Koeël in die rug

Genl Koos de la Rey is op 15 September 1914 dood toe ‘n koeël by ‘n padblokkade hom in die rug getref het.

Verdrink

Genl Christiaan Beyers het op 8 Desember 1914 in die Vaalrivier verdrink. Hy was ‘n sterk en gesonde 45 jaar oud en sy manskappe kon nie glo dat ‘n goeie swemmer soos hy sou verdrink nie. Tog is dit wat op sy doodsertifikaat staan. Daar was glo geen bewyse dat hy geskiet is nie.

Tereggestel

Jopie Fourie is op 20 Desember 1914 tereggestel. Hy was ’n offisier in die Unie-Burgermag, maar het as kommandant van ’n Rebellekommando teen die regeringsmagte geveg tot hy op 16 Desember gevange geneem is. Hy is van verraad aangekla. Sy verhoor voor ’n krygshof het net een dag geduur en hy het vroeg die volgende oggend voor ’n vuurpeloton gesterf.

Wapenstilstand

Die 1914 Kersfees wapenstilstand

In Europa het die oorlog in Desember geen tekens van afname getoon nie. Tog was daar ‘n merkwaardige gebeurtenis met die koms van Kersfees. Vir sommige troepe het dit op Oukersaand gebeur; vir ander het dit tot die dag ná Kersfees gehou en vir ‘n paar, ‘n hele week lank.

Die Kersfees wapenstilstand van 1914 is in Duits ‘Weihnachtsfrieden’ genoem en in Frans ‘Trêve de Noël’. Dit het die week voor Kersfees begin toe Duitse en Britse soldate begin het om mekaar ‘n geseënde Kersfees toe te wens. Later het hulle Kersliedere saam begin sing en geskenke gedeel. Op Oukersaand en Kersdag het baie Britse, Duitse en selfs Franse soldate na die ‘niemandsland’ tussen die loopgrawe gegaan, kerse op klein Kersboompies aangesteek, gesing, kos en drankies en aandenkings uitgeruil en sokker gespeel.

Hulle sê dat dié wapenstilstand plaasgevind het oor ‘n 27 myl strook loopgrawe van Ypres tot La Bassee-kanaal in België en dat ongeveer 100 000 troepe hulle wapens neergelê het.

Oorlogstydse kinderpersente
Oorlog verander kinders se lewens en hulle speelgoed ook. Waar ‘n speelgoedtrommel in 1910 dalk ‘n tol, springtou, albasters, bal, pop en bordspeletjies soos slangetjies en leertjies sou oplewer, het dinge in 1914 verander.

Teen Kersfees 1914 kon mense Kersfees-klappers koop wat met Britse slagskepe versier is. Winkels het speelgoed masjiengewere aangehou en ‘n bordspel met die naam ‘Kill Kiel’, waar die doel was om Duitse duikbote te sink.


In ‘Kill Kiel’ moes kinders Duitse duikbote probeer sink


‘Trench Football’ is die naam van dié 1914 speletjie wat op loopgrawe en soldate fokus


‘n Speelgoed kanon, gebaseer op een wat van 1914 tot 1918 gebruik is


‘n Advertensie wat in 1914 verskyn het, wys dat Britse kinders se speelgoed op die oorlog gebaseer was


Neues Krieg’s Quartett kaartspeletjie. Dié Duitse speletjie het 36 kaarte ingesluit met kategorieë soos: militêre leiers, vloothelde, konfronteer die vyand, infanterie, artillerie, verskillende soorte wapens en oorlogskepe


Dié bordspel se naam was ‘The Strand War Game’ en is in Brittanje deur ‘Strand Magazine’ uitgebring


‘Alphabet de la Grande Guerre’ is ‘n Franse boek waar kinders die alfabet geleer is deur letters wat almal na die oorlog verwys. Dit is deur die Franse Uitgewer, Berger-Levrault, gepubliseer

Persent vir troepe

Dié Prinses Mary koper Kersfees-blikkie is aan Britse troepe vir Kersfees 1914 gestuur

Kerskaartjies
Vir die eerste keer begin die oorlog op Kerskaartjies en -poskaarte van 1914 verskyn.


‘n Duitse poskaart van Kersfees 1914


Noel 1914. Die Engels-vertaalde onderskrif van dié Kersposkaart lees: “Christmas 1914. If he could just drop but one packet of tobacco”


Kersgroete van die klas van 1914, ‘n kaartjie wat deur die Verenigde State se Vlootakademie uitgegee is


‘Fighting fleas in Flanders’ is die opskrif van dié 1914 Kerskaartjie


Kersvader aan die oorlogsfront


“May everything go off nice and smooth this Xmas,” lees dié kaartjie wat van Waymouth na Salop gepos is op 26 Desember 1914


‘Homeland Greetings Xmas’, ‘n 1914 kaartjie


Die amptelike 1914 Amerikaanse Rooikruis seël

 

© 2020 Die/The Bronberger