Stasiebevelvoerder weg ná volgehoue druk PDF Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 12 December 2014 11:50
Untitled Document

Die Cullinan-polisiestasie se bevelvoerder, lt kol Gladys Mthimunye, is ná volgehoue druk weg by die stasie. Sy gaan glo nou ʼn gewone skofbaas by die Mamelodi-Oos SAPD wees.

‘n Tydelike bevelvoerder, kapt C Nel is in haar plek aangestel. Kapt Nel het reeds met haar pligte op Cullinan begin.

In ‘Polisie-optrede kan taan oor min aanmelding’ het ons verlede maand berig dat mense in die Cullinan-Rayton-distrik huiwer om misdaad aan te meld. Inwoners se negatiwiteit is so erg dat Cullinan glo in Junie as die veiligste stad in die land in terme van misdaadstatistiek, verklaar is.

Met ‘n landelike veiligheidsvergadering wat in Oktober gehou is, is die feit dat baie min insidente by die Cullinan-Polisiestasie aangemeld word, bespreek. Die Cullinan-Polisiestasie is as onbevoeg en onbekwaam om beheer en leierskap in die gebied uit te voer, op die vergadering beskryf. Tog is inwoners aangemoedig om alle misdade aan te meld en ’n verwysingsnommer te kry, al is dit ’n week na die voorval.


Leandri Streit

“Die AfriForum-tak in Rayton/Cullinan is al maande op die polisie se spoor om hulle sover te kry om iets aan die leierskap by die stasie te doen. Daar is polisielede op grondvlak wat wil werk en ʼn verskil wil maak in die gemeenskap wat deur die leierskap ondermyn is,” het Leandri Streit, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Gauteng-Noord, gesê.

Die gemeenskap het op 21 Maart ʼn optog by die stasie gehou na die wrede moord op Das Venter. Toe is daar al terugvoer van die stasie versoek, wat nooit ontvang is nie.

Die gemeenskap het die Cullinan landelike-veiligheidsforum gestig en druk op die stasie uitgeoefen, wat versterk is deur AfriForum, TLU-SA en Agri-Gauteng, wat lede van die forum was.

“Die gemeenskap hoop die nuwe stasiebevelvoerder sal bekwaam en gereed wees om die stasie te lei en die omgewing te beveilig,” het Leandri gesê.

 

© 2019 Die/The Bronberger