Op die volgende ses jaar PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Wednesday, 17 September 2008 23:58
Untitled Document

Die dorp se oostelike verkeerskruisings lyk deesdae almal kompleet nes mak Zuma-toitois, soos die ywerige uitdelers van strooibiljette ronddans in hulle wedywering om hulle “flyers” aan jou af te smeer.

Hoeveel mense vat die vervlakste goed en veral, hoeveel mense lees dit uiteindelik, wonder ek? Vir my voel dit, elke keer as iemand een in my hand wil stop, asof hy of sy wil sê: “Dê! Gooi jý die ding weg!” En dan het dié “flyers-by-night” blykbaar nou ook uitgevind dat ’n plakkaat of ’n plaksel op ’n plotpaal’n permanente ‘fixture’ is. Dit word nie soos in die dorp verwyder nie. Nooit nie. Só sal jy nog Boet en San wat net ná die groot griep getroud is, se name teen ’n ankerpaal langs ’n Bronbergse plotpad kry.

Selfs langs dié paadjies waar net jy en jou buurman en die balju ooit ry, is die wêreld deesdae toegeplak met papier en plastiek waarop alles wat al op hierdie aarde uitgevind is en nog uitgevind moet word, geadverteer word. En as jy die moeite wil doen om die lae op lae plaksels van daai plakkaat teen die bloekomboom af te krap, sal jy sien daaronder staan in vet letters: STEM NEE!

Verjaarsmaand
Maar gun dit ou Poon, om so in Die Bronberger se verjaarsmaand,’n bietjie terug te blaai in die verlede, terwyl die ou geheue op’n manier nog hou. Toe die Bronnie een jaar oud geword het, het ek bespiegel oor wat van die name in die omgewing gaan word as Pretoria se naam na Tshwane verander. Vandag wag almal, behalwe die SABC, nog dat dit moet gebeur. Maar toe het ou Poon bespiegel of plekke soos Tygervallei na Tiger Woods, Welbekend na Stroesnjanie, Onbekend na Aikôna Whêna en Donkerhoek na Comrades Corner toe sal verander. Ek wou toe nie oor Woodhill se voor-die-handliggende nuwe naam bespiegel nie.

Maar nou dat ek daaraan dink en synde dat die plakkate en plakkers en goed so oorneem, kan ons die hele gebied voortaan sommer Pampierstad noem.

En van name gepraat: Met die tweede verjaarsdaguitgawe vertel ou Poon van die jong verslaggewer wat dit uiters moeilik gevind het om name te onthou. So het sy toe op ’n dag ’n volledige onderhoud met ’n “belangrike” man gevoer voor sy besef het dat sy die man se naam vergeet het. Om hom toe blatant te vra wat sy naam is, sou ’n erge verleentheid vir haar en belediging vir hom beteken het. Sy onthou dat die belangrike ou se van ’n ‘a’ of ’n ‘o’ in het en dag sy sal die verleentheid omseil toe sy vra: “Spel ’n mens u van met ’n ‘a’ of met ’n ‘o?;.“Kok,” antwoord die ou. “Met ’n ‘o’ asseblief.

Ja, en so loop die jare aan en so tussen die stof en die veldbrande en ongerief en ongerymdhede van dorpstigting, ontwikkelings en ander kokspulle (boodskap aan subredakteur: moet asseblief nie die spelfout regmaak nie) deur, bly ou Poon maar geduldig op sy pos om die een en die ander met julle te deel. ’n Hele ses jaar nou al.

Nou, vandag met die aanhef van Die Bronberger se sewende jaar, wil ek julle ’n guns vra. Die jare staan nie stil nie, en ’n ou perd het nie meer altyd die lus en die krag om in kuierplekke te sit en stories opsuig nie. Daarom vra ek julle om stories uit ons gebied vir my aan te stuur. Dan deel ons dit met die nodige erkenning met almal.

Stuur dit sommer op die gewone manier aan Die Bronberger. Ek sal dit by hulle kry. Dan sê ek maar tjeers! Op die volgende ses jaar.

 

© 2019 Die/The Bronberger