Geniet Kers-ete sonder die ‘groot kook’ PDF Print E-mail
News - Vreethans
Friday, 12 December 2014 11:47
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel het besluit om dié maand net (skraps) by die huis te eet, ter voorbereiding van die oordaad wat noodwendig oor Kersfees gaan volg. Vir diegene wat eerder die ‘groot kook’ oor die Kerstyd in die hande van ander wil los, vertel Vreethans jou hier waar jy in die Bronberg-gebied vir jou Kersmaal kan loop aansit.

Kitty Hawk Klubhuis in Boschkop bied vir Kersete (tussen 12 en 3 nm) lamsboud, vark-braaistuk, hoenderkerrie en frikkadelle. Dit saam met bakaartappel, rys, groenboontjies, Griekse slaai, beetslaai en noedelslaai. Voorgereg is mini-vetkoekies met kaas en konfyt en vir nagereg kan jy malvapoeding en koekstruif geniet. Hulle het ‘n volledig toegeruste kroeg.

Die Kersete kos R165, en R100 vir kinders tussen ses en 12. Kinders van vyf jaar en jonger – gratis. Bespreek by Wilma: 076-491-2109.


Kitty Hawk Klubhuis in Boschkop

Inni Lang-Gras op Rayton het ‘n Kers-buffetete. Jy moet bespreek: 082-324-4039.

Dros Silver Lakes: Eet en drink soveel jy wil (behalwe die harde goed). Buffetete teen R299.95. Bespreking noodsaaklik: 012-809-1598.

Die Kalahari Windpomp in Shere: Jy kan op Kersdag soveel eet as wat jy wil teen net R200. Kinders onder tien eet gratis. By dié windpomp eet hulle in drie sessies. Die eerste ‘sitting’ begin om elfuur, die tweede is om eenuur en die derde om drie-uur. Jy kan kies uit drie voorgeregte, vier slaaie, ses hoofgeregte, vier groentes en drie nageregte – of jy kan natuurlik probeer om alles in te werk.
Die Kalahari Windpomp is agter Plantland, langs Lynnwoodweg-verlenging. Bespreek by 084-698-0284.

Premier Hotel op Cullinan: Teen R220 per persoon bied dié geskiedkundige ou hotel ‘n slaai-kroeg vir voorgeregte. Die hoofgeregte bestaan uit oondgebraaide beesrol, geglaseerde vark (gammon) en oondgeroosterde hoender. Daarmee saam is pampoenkoekies, rys, knoffel baba-aartappels, roomspinasie, groenbone en geglaseerde wortels. Die keuse vir nagereg is malvapoeding met vla of room, Kersfeeskoek, roomys met sjokoladesous en tee of koffie.

Jy moet asseblief bespreek by 083-601-2494 of 071-154-2401.


Premier Hotel op Cullinan

Ndlovu Lodge in Zwavelpoort: Jy kry ‘n verwelkomingsdrankie en kan kies uit drie slaaie en vier voorgeregte. Hoofgeregte is vark (gammon) met appelsous, tradisionele kalkoen, skaapboud en pescado met salsa.

Die wye keuse bykosse sluit in: koeskoes, witrys, gegeurde rys, gebakte aartappel, botterskorsie en groente in seisoen. Nageregte is tradisionele rooi fluweelkoek, roomys met verskillende souse of appeltert met vla. Dit kos R195 per kop en R90 vir kinders tussen ses en elf jaar oud.
Jy moet bespreek by 082-898-0423.

Sê asseblief julle het hiervan in die Bronnie gelees.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online