Kersdag saam met voorsate en vriend PDF Print E-mail
News - Artikels
Friday, 12 December 2014 11:42
Untitled Document

Hy was daardie somer in die vroeë 80’s een van die ‘uitverkorenes’ wat oor die Kersnaweek moes werk.

Dit was die heel eerste Kersfees in sy jong lewe wat Gert sonder die samesyn van sy familie sou wees: Sonder die gemaklike kuier en lag, sonder die oordadige Kersete, sonder die uitruil en oopmaak van geskenke by die Kersboom. En sonder die uitruil van stories en die oopmaak van die hart teenoor die mense wat deur bloed en die liefde onlosmaakbaar aan hom verbind is.

Op Kersdag self het die ‘geraamte-staf’ wat moes sorg dat die koerant oor die feestyd ‘op straat’ kom, nie gewerk nie. Hy is wakker gemaak deur die gelui van Sunnyside se kerkklokke teen die vroegoggend stadstilte in. Dis Kersfees, besef hy. Kersfees – en hier sit hy soos sy vinger alleen in die saai eenmanwoonstelletjie. Hy verlang na sy mense. Hy verlang na die gemoedelike kuier in sy grootwordhuis op die platteland. Hy verlang na sy ma se wonderlike Kerskos en na die glasies wat voor die groot weglê geklink sal word. Hy kry homself jammer.

Tannie Noens
Met sy bord graanvlokkies en ‘n beker koffie voor hom, dink hy aan die paar familielede wat ook in die stad bly. Hy weet sy tannie Noens en sy neefs is vir Kersfees by haar seun in Durban. Gert kan aan niemand anders dink saam met wie hy ongenooid die Kersdag kan vier nie. Hy sit die radio aan en luister na die Kersliedjies: “Stille nag . . . eensame dag. . ,” sing hy saam.

Teen laatoggend grens die verlange na familie en mense en die selfbejammering al amper aan die onhoudbare. Dan onthou hy: Sy oupa- en oumagrootjie en ‘n groot-oom en -tante of twee lê begrawe net neffens die heldeakker in Kerkstraat se ou begraafplaas. Eensaam en vergete, nes hy, dink Gert.

Daardie jaar het een van sy ‘kontakte’ wat graag in die ‘pers’ se goeie boekies wou bly, vir Gert as Kersgeskenk ‘n bottel goeie whisky gegee. Dimple Haig, was dit nogal. En omdat Gert nie van die gewoonte was om ‘alleen’ te drink nie (en meer alleen was hy in sy lewe nie) het hy die netjiese, Kersverpakte bottel Dimple gevat en met sy ou skedonk afgesit begraafplaas toe.

Frederik Willem Hendrik
Daar aangekom groet Gert elk van sy afgestorwe voorsate beleefd met ‘n ‘geseënde Kersfees’, soos dit hoort. Dan gaan sit hy plat op sy sitvlak tussen die laaste rusplekke van sy oupagrootjie, Frederik Willem Hendrik, en sy groot-oom Daniel Gabriel Jacobus, wat mos nooit getrou het nie.

Die ou begraafplaas is verlate (of altans, só het Gert gedink) en met oordadige seremonie skeur hy die Kerspapier af, maak hy die geskenkpakkie oop en bring die bottel Dimple Haig te voorskyn. Hy skink vir hom ‘n doppie, sommer in die prop, en lig dit na bowe: ‘Op my familie,’ sê Gert. ‘Gesondheid!’ En hy sluk die propdoppie met een teug weg.

Gert skink die doppie weer vol en stort dit op die graf regs van hom uit: ‘Tjeers, oupagrootjie Frik,’ sê hy. ‘Geseënde Kersfees.’ Dan herhaal hy die proses, maar stort die proppie Dimple Haig dié keer op die graf links van hom uit. ‘Tjeers, groot-oom Daan!’ ‘Laat hy val waar hy wil.’


Oupagrootjie se graf in die vroeë 80’s
Foto: Allen Lipschitz

Goeie ou dae
So ná die derde of vierde propdoppie afgesluk en aan die voorsate uitgedeel is, begin Gert kopstukke met die familie gesels. Hy vertel hulle van hom en hulle ander agtergeblewe familie. Hy skinder en hy spog en hy vra uit oor die goeie ou dae en oor die Engelse oorlog, die runderpes en die groot griep en goed.

Oom Daan
Hy maak gereed om nog ‘n proppie Dimple aan sy oorle groot-oom Daan af te staan: ‘Tjorts, my oom Daan. Ek verstaan oom was nogal partydig vir ‘n drankie in oom se dae,’ sê Gert en hy begin net om die proppie grafwaarts te kantel toe dit gebeur: ‘Neee!’ gil ‘n groot stem bloedstollend van iewers agter die grafstene uit: Dat die kerkhof antwoord gee, kan jy maar sê.

Gert gee ‘n bloedstollende gil van sy eie, gooi die proppie gevul met die goue graanvog dat dit met ‘n boog oor sy oorle oom Daan se laaste rusplek trek en seker ‘n goeie agt grafte verder eers grondvat.

Dan praat die skimstem weer – sagter en nader dié keer: ‘Nee, asseblief toggie nee, meneer. Dit is ‘n sonde om daardie goeie goed op Kersdag so te mors.’

Van agter ‘n groepering grafstene uit, beweeg hy nader: Gehawend, stoppelbaard, flentertrui en groot grys jas – in hierdie somerhitte. ‘Asseblief, meneer. Hulle kan dit nie meer geniet nie,’ en hy wys met ‘n swaaiarm oor Gert se familiegrafte heen.

Dirkie de Bruyn
Sy naam is Dirkie de Bruyn, sou Gert later uitvind. Hy kom uit ‘n ‘grênd’ familie, maar hulle wil hom nie vir Kersfees (eintlik nooit) naby hulle hê nie. Sy een dogter het darem ‘n paar goedjies by hom kom aflaai, vir Kersfees, maar dié is lankal op en nou sit hy wat Dirkie is maar heeltemal alleen hier en kyk hoe Gert met die grafte praat en hierdie wonderlike goed op die grond uitgooi en dit maak seer.

Dirkie het twee plastiese glasies uit sy lêplek in die ou Kerkstraatbegraafplaas loop haal en so het Dirkie en Gert die restant van die gegewe bottel Dimple Haig verder saam genuttig.

Dimple Haig
Kopstukke is gepraat en later is selfs ‘n paar Kersliedjies gesing. Hy was mos in die koor toe hy nog ‘straight’ was, vertel Dirkie. Gert het telkens sy glasie vir sy voorsate gelig voor hy en Dirkie die een heildronk na die ander ingestel het, totdat die laaste druppel uit die bottel Dimple gedreineer is.

Dié Kersdag saam met familie en ‘n vriend, is een wat Gert nie sal vergeet nie . . .

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online