Boere het lank voor Pretoria nog sy
naam gekry het, op die plaas Garstvontyn
gewoel en gewerskaf. Min het
die oorspronklike eienaars geweet dat
dié plaas, wat ’n dag te perd buite
Pretoria was, in voorstede omskep sou
word. Die laaste dele van die plaas is
in die 2000’s in sekuriteitsontwikkelings
soos Woodhill, Mooikloof
Heights, Mooikloof View, Mooikloof
Ridge, Mooikloof Manor, Mooikloof
Gardens en The Wilds omskep.
Die storie van die plaas Garstvontyn
is dié van die eerste
Voortrekkers wat in die Pretoria-
omgewing kom woon het.
Ons praat nou van bekende name
soos die Bronkhorsts van die Fonteine-
vallei plase, die Erasmusse
van die latere spookhuis en die
Rademeyers, na wie die hedendaagse
restaurant wat deel van dié
plaas was, vernoem is.
JGS (Gert) Bronkhorst en sy broer
L Bronkhorst was, saam met die
Van der Walts en Prinsloos, die
eerste Voortrekkers wat hulle in
die Fonteinevallei
kom vestig
het tussen 1832
en 1842.
Die plase
Groenkloof en
Elandspoort het
aan die Bronkhorsts
behoort.
Een van dié
Bronkhorstdogters
het
getrou met Andries Beetge, die
eerste eienaar van die plaas
Garstvontyn wat onder die
Transvaalse regering die plaasnommer
428 gedra het. Die plaas is vir
die eerste keer op 9 Augustus
1841 op Beetge se naam geregistreer
deur ’n kommissie van
Rustenburg wat deur GJ Kruger
gelei is.
Die Rademeyer opstal
Foto: Rademeyers
Plaas
Arrie Faure van The Wilds, ’n sekuriteitsdorp
wat vandag vyf persent
van die oorspronklike Garstvontynplaas
beslaan, het navorsing oor
die eienaarskap van dié stuk grond
gedoen.
Hy het gevind dat Beetge se oorspronklike
plaas “5 079 Morg en
241 Rooden” groot was. Een morg
is 600 vierkante roede en
0,8565 hektaar. Die plaas was dus
4 351,523 hektaar groot.
Die Beetges het nie baie dekades
op Garstvontyn gebly nie. Volgens
Arrie se navorsing is dié plaas op
14 Maart 1859 oorgedra op Jacobus
Cornelis Rademeyer se naam.
Hy was getroud met ’n dogter van
Daniël Jacobus Erasmus van die
spookhuis-faam.
Erasmus se huisie op die Krygkorterrein,
nou bekend as Denel,
gebou in 1860, bestaan nog
alhoewel dit herkonstrueer is ’n
honderd meter van sy oorspronklike
standplaas. Die eerste hartbeeshuisie
langs die Wolwespruit
het helaas verlore gegaan.
Die tweede Rademeyers opstal
(1910) wat nou ’n restaurant in die
Moreleta-kloof is, spog vandag
steeds met die 1880 opstal, net
noord van die historiese silos. Dit
is na dié Rademeyers wat die
Rademeijerspruit vernoem is. Hy
ontspring op die Wingate Park
Buiteklub se gronde, vloei deur
Moreletapark Natuurreservaat en is ’n belangrike voedingsaar vir die
Moreletaspruit.
Dit is met Rademeyer wat die
onderverdeling van Garstvontyn
begin het. Hy het op 5 Julie 1859’n deel van die plaas verkoop aan
MJ de Beer. Toe Rademeyer op
19 Junie 1868 oorlede is, is sy deel
van die plaas verder onderverdeel
tussen sy ses seuns.
Dié onderverdeling het tussen
1875 en 1878 plaasgevind. Dit is
in hierdie tyd dat die plaasnommer
verander het van Garstvontyn 428
na Garstfontein 374 JR.
Die Erasmuswa wat uit die kultuurhistoriese museum verdwyn het
Foto: Krygkor versameling
Wolfaardt
In 1927 het Jakobus Wolfaardt
1 050 hektaar van die oostelike
deel van die plaas gekoop. Die
storie van die spog-melkplaas,
Wolfaardt Landgoed, is in Januarie
2005 se Bronberger vertel.
Jakobus Wolfaardt is op 16 Augustus
1953 sonder ’n testament oorlede.
Daar is besluit om die plaas
se bates in vier te deel en nie die
plaas self nie. Een deel het aan sy
vrou gegaan, ’n deel aan elk van sy
twee dogters en ’n deel aan sy
seun Pieter William Wolfaardt, wat
op die melkplaas aanhou boer het.
Rondom 1975 is ’n gedeelte van
omtrent 150 morg verkoop aan
ontwikkelaar Roque of Rand. Dit
het Pieter van genoeg fondse voorsien
om sy ma en oudste suster se
aandele in die plaasbates te koop.
In die mid 1970’s is die Niemandkommissie
deur die Stadsraad van
Pretoria daargestel om grond te
onteien vir dorpsontwikkeling wat
deur die stadsraad self gedoen sou
word en nie deur ontwikkelaars
nie.
Die stadsraad het Wolfaardt Landgoed
in 1980 by Pieter gekoop,
maar het toe nooit die grond ontwikkel
nie, blykbaar omdat hulle
hul vingers so verbrand het met
die ontwikkeling van die Garsfontein-
voorstede.
Pieter Wolfaardt, een van die laaste boere wat ?n stuk van die oorspronklike plaas Garstvontyn besit het
waar hy ?n melkplaas bedryf het
Foto: Beeld, Vrydag 26 Maart 1999
Ontwikkel
Pieter het 100 morg van die oorspronklike
plaas behou en ’n deel
van die plaas gehuur by die stadsraad,
wat mettertyd
van dié stukke grond
begin verkoop het.
Die deel waar Woodhill
Gholflandgoed
vandag staan is deur’n ontwikkelingskonsortium,
wat CJ Irons,
Kroon & Seuns en
EG Chapman ingesluit
het, gekoop.
Woodhill is op
Donderdag 25 Maart
1999 amptelik geopen.
Volgens Arrie se navorsing het
ontwikkelaar PJJ Van Vuuren
Beleggings in 1998 vier stukke van
die grond gekoop. Die eerste deel
van 62 hektaar is op 27 Julie 1998
gekoop by Wolfaardt Boerderybelange.’n Tweede deel van
45 hektaar is op 12 Desember
2001 oorgedra vanaf die Tshwane
Metropolitaanse munisipaliteit. Die
derde deel van 21 hektaar is op
21 Desember 2001 by Wolfaardt
Boerderybelange gekoop en die
vierde deel van 84 hektaar is op
25 Julie 2002 oorgedra vanaf die
Tshwane Metropolitaanse munisipaliteit.
Deel van die munisipaliteit se
ooreenkoms met PJJ Van Vuuren
Beleggings was dat ’n pad gebou
moes word tussen Atterbury- en
Garstfonteinweg. Dit is danksy dié
ooreenkoms dat De Villebois
Mareuil-rylaan daar gebou is.
PJJ Van Vuuren Beleggings het
besluit om 220 hektaar van die
grond te ontwikkel as die sekuriteitsdorp
The Wilds.
The Wilds se huiseienaarsvereniging
is op 14 April 2003
gestig.
Só het die beeste minder as ?n dekade gelede nog rondgeloop op die deel van Wolfaardt
Landgoed waar Woodhill-gholflandgoed vandag is
Foto: Anton Jansen |