?Loerbroer? word teen boewe ingespan PDF Print E-mail
News - Rubrieke
Wednesday, 17 September 2008 23:58
Untitled Document

Minstens een deel van Faerie Glen staan op die voorpunt van beter beskerming. Moderne tegnologie word al hoe meer die antwoord vir mense wat hulle huise wil beveilig teen die kriminele element in ons samelewing.

Ons weet lankal van alarmstelsels, elektriese heinings en strale wat oor jou eiendom gespan word. Miskien sal ons eendag elektroniese honde kan koop wat nie vergiftig kan word nie en wat boodskappe kan stuur sonder om te blaf. Maar vir nou lê die antwoord in kameras wat heeldag en nag ’n ogie hou oor wat in die straat aangaan. Dit wat nog net by ondernemings gebruik is, kom nou voorstede toe.

Een groot voordeel van straatkameras is dat dit wagte uitskakel. Veral in meer gegoede woonbuurte word wagte aangestel om ’n deel van ’n straat te patrolleer. Dit verg natuurlik genoeg bydraes en ander samewerking van die groepie bure om die wag se salaris te betaal. Maar ’n wag kan aangeval en beroof word. Hy kan ook omgekoop word. Buitendien maak ons arbeidswette dit nie maklik om iemand aan te stel om ’n taak teen vergoeding uit te voer nie.

Dieselfde geld vir wagte wat in ’n voertuig iewers moet waghou of op en af moet ry om teenwoordigheid te wys.

Kameras verminder dadelik personeel asook brandstofkostes. Daar is ’n beheerkamer vanwaar alle aktiwiteit in die straat of strate dopgehou kan word deur iemand wat op een plek bly sit. Op die hoek is’n paal met twee kameras – een reageer op beweging van voetgangers en die ander lees nommerplate van voertuie, selfs in die nag.

Die kameras is gekoppel aan ’n databasis waardeur aangetoon kan word of dit ’n ‘vriendelike’ of‘vreemde’ voertuig is. Alle voertuie van deelnemende huishoudings word op die databasis geregistreer. As daar ’n ongeregistreerde voertuig voor ’n bepaalde huis stilhou, word die eienaar gekontak om te hoor of hy so ’n voertuig verwag. Binne ’n ommesientjie kan hulp op pad wees, indien nodig.

Verena-, Henley- en Kromdraaistrate in die deel van Faerie Glen wat aan Olympus grens is reeds voorsien van kameras as deel van die eerste fase van ’n groter projek. Kommentaar van mense in daardie strate met wie ek gesels het, is baie positief en hulle voel meer gerus. Sommige dink dit gaan nog heelwat tyd neem vir die nuwe benadering om regtig effektief te werk.

Die ideaal sal wees dat al die inwoners in die straat moet deelneem aan die projek. Daardie punt is nog lank nie bereik nie. Elke deelnemer handig ’n lys van familie en vriende se motorregistrasienommers in. Dit verseker dat daardie voertuie nie as ‘vreemde’ voertuie gesien word nie.

Dit is moontlik dat ’n verleentheid kan ontstaan wanneer iemand besoek ontvang van ’n persoon wie se nommer nie op die databasis is nie. ’n Mens se voortdurende veiligheid is egter sekerlik belangriker as die bietjie verleentheid wat’n kennis of diensverskaffer dalk mag verduur.

Boonop kan ’n klein insident die boodskap versprei dat jy nie sommer ongemerk in daardie straat kan beweeg nie. Die boewe kry uiteindelik daardie boodskap en sal waarskynlik besluit om die betrokke straat te vermy.

Daar bestaan wel ’n vraag oor voetgangers. Hulle het nie registrasienommers nie en is nie in dieselfde mate beheerbaar nie.

Straatkameras in woonbuurte is deur een van die inwoners as innoverend en uniek beskou. Maar het dit nie ook die potensiaal van’n ‘Big Brother’ wat jou in- en uitgaan dophou nie? Ons kan daaroor gesels in die forum op die webwerf www.bronberger.co.za.

Vir meer inligting, kontak Breytie Breytenbach by 012-802-1532.

* Ons hoor dat Mooikloof ook besig is om kameras te installeer om bewegings in dié perdelandgoed te monitor.

 

© 2019 Die/The Bronberger