Ses jaar deur Die Bronberger se kameralens PDF Print E-mail
News - Artikels
Wednesday, 17 September 2008 23:58
Untitled Document

Om ‘n volledige foto-oorsig van die Bronbergomgewing en sy mense saam te stel wat oor ’n tydperk van ses jaar strek, sou ’n haas onmoontlike taak wees en sou alle beskikbare ruimte in die tydskrif opneem. Daarom het ons net twee foto’s uit elk van ons bestaansjare gekies in ’n poging om iets van ons wêreld oor die afgelope ses jaar uit te beeld.

Jaar een
Dié oop veld en pragtige kiepersol boom wat ons in September 2002 afgeneem het ter illustrasie van die poort van Zwavelpoort, bestaan nie meer nie. ’n Nuwe“veiligheidsontwikkeling” staan vandag agter hoë mure hier.

In Januarie 2003 het ’n tornado groot skade in dele van die Bronberg- gebied aangerig. Huise se dakke, soos dié een in Zwavelpoort, is opgefrommel en afgeruk. Die Bronberger het’n fotobeeld van die windskade gedra.

Jaar twee
As die Witpoort Laerskool ’n ‘bonfire’ bou, speel hulle nie. Dié foto is in Oktober 2003 by die skool se jaarlikse biltongfees geneem.

In Junie 2004 het die sanger, Jakes Bongers, lekker gees gevang op Die Bronberger se kontreimark.

Jaar drie
In Oktober 2004 verskyn die foto van die behoorlike opskop wat gehou is om afskeid te neem van ’n gewilde kuierplek in die gebied. Nikos restaurant is gedwing om sy deure te sluit toe nuwe eienaars die Zwavelpoort Sentrum oorgeneem het. Hier kuier ’n groepie ‘locals’ vir oulaas saam met eienaar Nico Breytenbach, regs voor.

Paul Bosman van Kleinfontein se wildpark was in Februarie 2005 gelukkig genoeg om dié twee baba aardwolfies afgeneem te kry net toe hulle die veiligheid van hulle skuiling wou verlaat. Baie van die gebied se kleinwild moes die wyk neem voor ongekende ontwikkeling die afgelope jare.

Jaar vier
In April 2006 het Die Bronberger ’n reeks lugfoto’s van die gebied geneem en gepubliseer. Dié foto wys die rou letsel wat die steengroef langs Lynnwoodweg-verlenging op die Bronberg gelos het.

Die mense van Bronbergwêreld weet hoe om behoorlik te ontspan en te kuier. Die Pretoriase Skaapkopgilde het in Mei 2006 by die Bronberg Lodge bymekaar gekom om hulle ding te doen.

Jaar vyf
Toe dié kerk op die hoek van Atterburyweg en Ajaxstraat in November 2006 aan die brand slaan, kon nie veel gered word nie. ’n Nuwe kerk is intussen opgerig.

Brent Hiscock is op Oujaarsaand van 2006 in ’n plaasaanval in Zwavelpoort vermoor. In Februarie 2007 sê sy ma, Barbara Hiscock, dat almal wat ’n geliefde het wat vermoor is, soortgelyke kruise op hulle grafte moet aanbring sodat dit duidelik kan word wat regtig in die land aan die gang is.

Jaar ses
Dié botterklapper in volle vrug is in November 2006 as deel van ’n fotoblad oor die inheemse plante en bome van die Bronberg afgeneem.

Die afgelope ses jaar het die gebied elke Februarie goeie reëns ervaar en 2008 was geen uitsondering nie. Hier speel ’n groep kinders in die stormwater op die padreserwe langs die Zwavelpoort- teerpad.

 

© 2019 Die/The Bronberger