Print E-mail
News - Toeka se dae
Monday, 24 November 2014 23:59
Untitled Document

Angie Kleijn

Ooit gewonder hoe ‘n verfynde Europese immigrant ‘n pioniersdorpie in die 1800’s se ‘diep, donker Afrika’ sou ervaar het? Hoe so iemand die Boere, wat knap ‘n generasie van die Groot Trek af was, sou sien?

Karel van den Berg was so ‘n immigrant. Die briewe wat dié 23-jarige bankklerk op die vooraand van die Engelse Oorlog aan sy Nederlandse ouers geskryf het, bied vir ons ‘n ander soort blik op ‘n bloedjong Zuid-Afrikaansche Republiek.

Karel het ‘n afkeer in Britse imperialisme gehad, maar het ook die ZAR regering gekritiseer, al het hy homself as ’n vurige verdediger “van hul rechtvaardige zaak” beskou.

Aanvanklik was hy verbaas dat alle volksbesluite met gebed voorafgegaan is, en skryf vir sy ouers:
“. . . zoo ‘n geloof dat eigenlijk fanatisme is, kan wonderen verrichten, dat is zeker.”

In sy briewe kritiseer hy egter die ZAR regering, wie se leiers dié jongeling as korrup en onbekwaam beskou. Hy vertel dat daar in regeringskringe geknoei, gekonkel en omgekoop word, terwyl Oom Paul staatsbesluite op sy stoep neem “wanneer de oude heer daar zijn koffie zit te slurpen”.

In 1898 was dit vir hom skreeusnaaks dat oom Paul “met zijn goore jas en goore hoed” in ’n koets vir sy inhuldiging opruk. Dié kleredrag het volgens hom op ‘n wa met osse gehoort.

Karel beskryf die plattelandse Afrikaner aanvanklik as onbeskaafde ‘takharen’, maar gaandeweg word dié takhare in sy briewe brawe en geharde vegters, wat die grootste ontberings kan deurstaan.


Karel van den Berg, tweede van regs
Foto: Zuid-Afrikahuis

Bundel
Honderd van die briewe wat Karel van 10 Oktober 1896 tot 17 Januarie 1900 aan sy ouers, Norbertus Petrus van den Berg en Carolina Frederika, ‘n nooi Holle, geskryf het is in 1999 gebundel. Prof dr GJ Schutte, ’n Nederlandse historikus aan die Suid-Afrikaanse Instituut by die Amsterdamse Vrij Universiteit, het die briewe uitgekies en van aantekeninge voorsien in ‘Beste Ouders! Brieven uit de Transvaal van Karel van den Berg, 1896-1900’.

Die briewe word deur ’n inleiding voorafgegaan waarin die Boere se saak verduidelik word en agtergrondinligting oor Karel se werksomgewing, familie, vriende en verhoudinge gegee word.

Karel is in 1873 in Batavia gebore en is na Amsterdam gestuur vir skoolopleiding. Hy het in Oktober 1895 by die ‘Nederlandsche Bank en Credietvereeniging voor Zuid-Afrika’ begin werk. Karel het in 1896 na Suid-Afrika vertrek en in Oktober daardie jaar in die Transvaal aangekom, waar hy drie jaar moes bly as deel van sy internasionale leertyd, en die begin van ’n belowende professionele lewe.

Karel was een van ongeveer 6 500 Nederlanders wat hulle van 1880 tot die uitbreek van die Engelse Oorlog in Transvaal gevestig het. Van die begin af doen hy, gewoonlik weekliks, uitvoerig aan sy ouers verslag oor wat hy beleef. Sy briewe is natuurlik ook deurspek met skinderstories oor die destydse twee Nederlandse klieks in Pretoria.


Karel van den Berg
Foto: Zuid-Afrikahuis

Bank
Die ‘Nederlandsche Bank en Credietvereeniging voor Zuid-Afrika’ is in 1888 in Amsterdam gestig. In dieselfde jaar het die bank ‘n kantoor in Pretoria oopgemaak en in 1898 sy kantore na Kerkplein verskuif.

In 1903 is die bank na die Nederlandsche Bank voor Zuid-Afrika herdoop en in 1906 het die bank uitgebrei en ‘n tak in London oopgemaak. Dié twee takke het in 1951 verdeel en die Suid-Afrikaanse deel het as die Nederlandse Bank in Suid-Afrika Beperk bekend gestaan en sedert 1971 as Nedbank.

Die aantal Suid-Afrikaanse aandeelhouers het gegroei en in 1969 het die maatskappy 100% aan Suid-Afrikaners behoort. In 1992 het die bank se naam na Nedcor Bank Beperk verander, waarvan Nedbank die grootste afdeling was. Die nuwe Nedcor Groep is in 2003 gevorm en is in 2005 na die Nedbank Groep herdoop.


Karel van den Berg, regs, en sy broer Henk
Foto: Zuid-Afrikahuis

Loopbaan
Karel het sy loopbaan by die bank in Johannesburg begin. Met sy aankoms het hy aan sy ouers geskryf dat die stad geen Parys was nie, maar dat die Europese aanblik van strate, soos Commissioner en Pritchard, sy lewe hier draaglik sou kon maak.

Hy het Suid-Afrika as ‘die wildernis’ beskou en vertel sy ouers verruk van ’n kampvuur-aand wat so aangenaam was dat hy gewens het die lewe in die wildernis eindig nooit nie.

Later, in ‘n meer siniese luim, skryf hy dat hy dalk verstaan hoekom daar so min kulturele aktiwiteite is. Mense het na Suid-Afrika gekom om geld te maak en het al hulle energie daarin gestop. Met kultuur was hulle min gepla. Vir hom was Johannesburg ‘n stad waar “de sharemarket” die stemming bepaal.

Tog was daar kulture aktiwiteite in Johannesburg wat hy geniet het, soos toe die reis-toneelgeselskap, die Haviland Company, ‘Hamlet’ en ‘The taming of the Shrew’ daar opgevoer het.

“Wat mij hier bepaald nog al meegevallen is, is het ‘Theatre’ . . . en komt men hier op een Vrijdagavond, ook hier de ‘chique’ avond, dan zijn alle plaatsen door een gedistingeerd publiek bezet . . .”


Norbertus Petrus van den Berg, Karel se pa
Foto: Zuid-Afrikahuis

Carolina Frederika van den Berg-Holle, Karel se ma
Foto: Zuid-Afrikahuis

Arendina Charlotte Marie van den Berg-Geertsema, Karel se vrou
Foto: Zuid-Afrikahuis

Stof
Johannesburg se vlieë, sprinkane, modder en veral die stof het hom egter amper onder gekry en hy skryf: “Men eet hier gewoon stof, geen gewoon stof maar van dat roodbruine poeder.”

“Ieder windvlaagje doe er heele wolken van opstuiven en dat goed dringt door alles heen. Ofschoon ik iedere morgen de heele kamer laat afstoffen vind ik 'smiddags bij mijn thuiskomst de tafel en verdere meubelen met een rood laagje bedekt . . .”

“Op een goede stofdag is het op kantoor ook erg: ik schrijf dan brieven op met stof bedekt papier en om het niet al te smerig te maken moet ik voortdurend aan het blazen blijve.”

Die kontras tussen ryk en arm is iets waaroor Karel berig het toe hy die blinker lewe van Hospitaalheuwel, Jeppestown en Doornfontein vergelyk het met die “armoedige blikke huisjes” van Fordsburg en Braamfontein. Hy was ook heel verbaas dat sy kissie Eichholtz-lekkernye leeg gesteel is voor hy dit op die stasie kon gaan haal.


Karel en Arendina se troue
Foto: Zuid-Afrikahuis

Hoofagent
Die bank se hoofagentskap was in Pretoria, met bykantore in Johannesburg, Potchefstroom en Brugspruit, by die steenkoolmyne naby die latere Witbank.

Karel het gou een van die twee hoofagente in Pretoria geword. Die ander hoofagent was LG Vorstman. Hoewel Karel ’n verantwoordelike posisie by die bank beklee het, was sy salaris maar skraps en moes hy gereeld geld by sy ouers leen.

Hy het op ‘n keer as bestuurder op Potchefstroom waargeneem en vertel van die gasvrouens se vermaak op maanligaande. “Men krijgt b.v. behoorlik een invitatie ‘to join a moonlight drive’ en komt dan alle met de zeepkarretjes bij elkaar aan het huis van de gastvrouw, waar men na afloop van de drive op een souper getracteerd wordt. Laat men nu zeggen dat wij niet up to date zijn in Afrika: zoo iets heeft men in Europa niet eens, wed ik!”

Dan vertel Karel van die tipiese geld-leen prosedure onder Potchefstroomse boere:
Eers is daar ’n relaas oor die familie, met die voortreflikhede van sus en so; maar toe kom daar teëspoed; die mielies kon nie behoorlik verkoop word nie, en “die ou'vrouw is baing ziek, en die kinders die loop maar rond en krijg geen kost, en dan broer Jaapie's beeste hulle is allemaal dood . . .”


Dié Pretoria-foto van die De Nederlandsche Bank en Credietvereeniging voor Zuid-Afrika is
rondom 1900 geneem

Gees
Terug in Pretoria vervies Karel hom liederlik vir die anti-Hollandergees. In reaksie gaan hy, as sekretaris van die Nederlandse Vereniging, en mede-Hollanders groot met Wilhelmina se kroning tot Nederland se koningin op 31 Augustus 1898. Hulle feesvieringe het die sing van ‘Piet Heintje’ en ‘Wilhelmus’ ingesluit.

Blykbaar het die meeste Pretorianers die Nederlandse immigrante as beterweterig en arrogant beskou. Hulle het niks daarvan gehou dat Paul Kruger soveel Hollanders in leiersposisies in die staatsdiens aangestel het nie.

Die Hollanders in Pretoria en Johannesburg het glo klieks gevorm wat min met mekaar gemeng het en Karel se giftige pen beskryf die visekonsul as “zoo'n droge, dood van Yperenachtige kakkerlak”.

Karel was van mening dat Pretoria sonder kuns was omdat almal na geld of bevordering gejaag het. Tog was hy in 1898 by ‘n spogbal waar die Pretoriase Orkestvereeniging opgetree het. Hy skryf egter dat hulle al te vals gespeel het.

Oorlog
In die Engelse Oorlog het Karel onder Hendrik Christiaan Jorissen, die hoofagent van dié bank, in Pretoria gewerk. Hendrik was EJP Jorissen, oud-Staatsekretaris en oud-hoofregter van die ZAR, se tweede seun.

Toe die oorlog in 1899 uitbreek, het die bank se direksie, onder leiding van bestuurder Jorissen, lank reeds die nodige voorsorg getref, maar kon min uitrig om die bank te beveilig.

Op 1 Oktober 1899 skryf Karel vir sy ouers dat die land aan die vooraand van ’n oorlog staan. In sy entoesiasme meld hy hom nie by die Hollandse vrywilligers aan nie, maar – tot sy ouers se groot ontsteltenis – word hy daar en dan ‘n Transvaalse burger en storm na die oorlogsgebied in Natal.


De Nederlandsche Bank en Credietvereeniging voor Zuid-Afrika se gebou is in Januarie 1898 in gebruik geneem. Argitek, WJ de Zwaan, het die gebou in die Nederlandse Neo-Renaissance boustyl ontwerp
Foto: C de Jong, 1964

Oorlog
Karel het op 16 Oktober 1899 Transvaalse burgerskap aanvaar en op die kommandotrein na Volksrust geklim. As lid van die Pretoriase kommando veg dié eers-verfynde Hollander by Dundee en ’n paar weke later in die omgewing van Ladysmith in Natal.

Karel skryf: “De zaak van de Boeren is mij sympathiek genoeg . . . wij vinden het iets ignobels, dat een onafhankelijke staat alleen door het perfide machtsmisbruik van een anderen staat plotseling op moet houden te bestaan.”

Die paar briewe wat oor dié tyd gaan, vertel van die wreedhede van die oorlog, van sy frontwedervaringe, en dat die oorlog die mens hard maak.

In Dundee het hy in ’n verlate Britse kamp op ‘n Britse soldaat se dagboekie afgekom en besef dat dié soldaat moontlik sy eie neef was. Hy skryf dat dit nou een van die resultate van Chamberlain se werk is – dat twee neefs, wat geen rede het om mekaar te vermoor nie, in ’n oorlog teenoor mekaar te staan kom.

Intussen het Karel se erg bekommerde ouers ‘n paar toutjies getrek en is hy na Pretoria herroep. ’n Lasbrief vir uitvoering van die consul generaal het hom bereik, gestuur op las van sy meerderes by die bank, wat weer gehandel het in opdrag van pappa en mamma Van den Berg. Karel was op 25 November terug by sy werk en sy ouers het hom vroeg in 1900 na Nederland laat terugkeer.


‘Beste Ouders! Brieven uit de Transvaal’ van Karel van den Berg, 1896-1900

Latere lewe
Terug in Europa, het Karel aktief in die bevordering van die kulturele bande tussen Nederland en Suid-Afrika gebly, onder meer as bestuurslid van die Nederlands-Zuid-Afrikaanse Vereniging, ’n organisasie wat vandag nog bestaan.

In die jare daarna het hy ’n suksesvolle bankiersloopbaan in Europa en die Verre-Ooste gevolg. Hy is met Arendina Charlotte Marie, ‘n nooi Geertsema, getroud en is in 1912 in die bestuur van die Javasche Bank in Batavia, waar hy tot 1924 betrokke was, opgeneem.

Karel het Suid-Afrika nog ‘n paar keer besoek, veral omdat een van sy seuns hom hier gevestig het. Hy is in 1948 in Wassenaar in die provinsie van Suid-Holland oorlede.

 

© 2020 Die/The Bronberger