Natweerkeuse by ou hotel PDF Print E-mail
News - Vreethans
Monday, 24 November 2014 21:59
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Toe die blye tyding ons enkele maande gelede bereik dat Cullinan se geskiedkundige ou hotel weer uit die asse uit opgestaan het, is die vaste besluit geneem: Ons sal so gou die geleentheid hom voordoen, daar loop draai.

Op ‘n natweer-Woensdag in November stap ons die imposante voorportaal van die ou Premier Hotel binne. Ons word vriendelik by die ontvangstoonbank ontvang en na die keurige eetvertrek daarneffens begelei.

Die begeleier sê ons kan ook onder in die kelder aansit en ons gaan kyk. Steil trappies af. Netjies ingerig. Te toe en vensterloos vir ‘n ou wat effe met engtevrees gepla is. Ons neem plaas by ‘n baie mooi, baie stylvol-gedekte, egte ou swaarhout-eetkamertafel.


‘n Egte, ou gedekte eetkamertafel

Soos dit ‘n deftige herberg uit die beginjare van die vorige eeu betaam, is die glase en ander breekware met die hotel se naam en wapen gebrandmerk. Ek dink so in my enigheid dat hulle hier sal moet ligloop vir toeriste wat ‘souvenirs’ versamel. Oudhede en aardighede is, terloops, in ‘n hotelsaaltjie aan die anderkant van die voorportaal te sien en te koop.

Met die koffie bestel (die kelner het gevra of ons ‘normal’ koffie wil hê en ons wou) trek ons die spyskaarte nader. Die hand van die bekende Cullinanse koskunstenaar, Lientjie Wessels Denton, is dadelik duidelik te bespeur as jy met die oë oor die geregkeuses dwaal. Lientjie was betrokke met die opstel van die spyskaart en met die touwysmaak van die sjef oor die voorbereiding van sekere disse, het ons gehoor.

Die ontbytkeuses is verbeeldingryk en uiteenlopend van aard, al is dit nie oormatig wyd nie. Jy kan ontbyt op ‘bruschetta’ (‘n Italiaanse braaibroodjie) bestel: Twee eiers, ontbytspek, braaitamatie, vars kruie onder gerasperde parmesaankaas op die bruschetta saam met gekapte slaai. Dit kos R60. Ook die Engelse ontbyt en die Franse roosterbroodjie ‘with a twist’ kan jy teen R60 aankoop.

Die Franse eierbroodjie se ‘twist’ behels geroosterde brie- en mozzarellakaas, bros ontbytspek en heuning met ‘n gekapte slaai daarneffens. ‘n Omelette met ham, kaas en Italiaanse kruie saam met die slaaitjie kos R55 en ‘n vrugteslaai met Griekse jogurt, R45.


Die netjiese nuwe kroeg in die ou hotel

Maar dis middag en dis nat en koud en ons is lekker honger. Middagete is waarna ons op jag is. Met die aantog het ek al in die geestesoog iets hutspotterigs gesien: Gepas vir die reënweer.

Ek pik met die oë verby die kinderkeuses (nogal wyd), die ligte etes (soos Turkse sesam-saad-platbrood met hoenderlewer, pekanneut-pâté en tiemie-appelkonfyt), die voorgeregte (bobotie ‘spring rolls’ is opvallend), die slaaie (gerookte salmslaai lyk belowend), tot waar ek met meer aandag by die hoofgeregte bly talm.

Maudie, die hotelbaas, het ‘n plaat op die antieke His Masters Voice-spelertjie in die eetvertrek se hoek gesit, die binnegoed van die ou kontrepsie met die opwenslinger styfgedraai en nou kom die hartseerklanke van Marlene Dietrich se ‘Auf Wiedersehen’ oor die eetsaal aangesweef. Dis lekker hier.

Metgesel het ‘n vislus in die nat weer ontwikkel. Sy bestel die geroosterde Noorweegse Salm met wilde rys (nie wild soos in woes nie, maar soos in ‘nie mak nie’) en met die groente van die dag daarby. Dis ‘n stewige snysel salmvis en volgens Metgesel net reg gaargerooster. Sy geniet veral die skywe warm beet wat saam met ‘n soet pampoen, die groente van die dag is. Die salm kos R120. Jy kan ook stokvis teen R60 bestel, sou jy wou.

Die lam en bees frikkadelle gemaak, soos die Noord-Afrikane dit glo maak, trek my aandag. Dit kom saam met ‘n couscous wat opgetoor is met neute, vrugte en suurlemoenpreserv en bedek met geklopte feta met za’atar en dukka: Vra dit . . .


Die ingang na Cullinan se geskiedkundige Premier Hotel

Jy kan ‘n Premier Burger van bees of van hoender bestel of  ‘Lady Francis’ se broodlose burger met camembert en karamel-uie tussen twee skywe gebraaide suurlemoen-eiervrug. Die meer konvensionele burgers kos R75 en word saam met skyfies bedien. Lady Francis s’n kos ook R75, maar kry ‘n groenslaai by.

T-Been van 500 g, of beeshaas (fillet) van 200 g kos R110 en hier het jy ‘n keuse van ‘n aantal dekadente souse daarmee saam.

My koue-natweerkeuse van die dag val op die ‘Provencal style beef’. Dit is gestoofde beesvleisblokkies in ‘n kruiesous, soos wat die mense van Provence in Frankryk dit maak. Ja, ek het ook vir ‘n oomblik gedink iemand het ‘provincial’ nie lekker gespel nie. Dit is die naaste aan ‘n hutspot wat ek op die spyskaart raaklees en is ek bly oor my keuse. Die geurige vleisblokkies is sag, maar nie papsag nie en word bedien op lekker gelerige kapokaartappels met pietersielie. Die vullende porsie weeg in teen R110.

Die nuwe, ou Premier Hotel is ‘n besoek of drie werd. Jy kan hulle bel by 071-154-2401 of
083-601-2494.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online