Markuitstallers kry skielik trekpas PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 24 November 2014 21:59
Untitled Document

Cullinan se Under The Oaks-mark is in Oktober toegemaak. Organiseerder, Lilo Weideman, is deur die Cullinanse Kamer van Koophandel se toerisme-afdeling laat weet dat die mark met onmiddellike effek moet sluit en dat dié besluit deur Ettienne Coetzee van Petra-myn en die dorp se Erfenisvereniging geneem is.

John Lincoln van die Erfenisvereniging het gesê dat die besluit om die mark onmiddellik te sluit nie deur die vereniging geneem is nie. Hy sê die vereniging het aangedui dat hulle die mark aan die Kamer sou oorhandig wanneer die Kamer gereed sou wees om oor te neem.

Die mark is baie jare in Oaklaan voor die McHardy Huismuseum, wat deur die Cullinanse Erfenisvereniging onderhou word, gehou.


Die Under The Oaks-mark is met onmiddellike effek toegemaak

“Ons keur die manier waarop die uitstallers behandel is ten sterkste af,” het John gesê.

Jarelange uitstallers van die Under The Oaks-mark en inwoners waarmee gepraat is, was verstom en omgekrap oor die mark se skielike sluiting. “Die mark het bygedra tot toerisme in die dorp. Waarom iets toemaak wat werk,” het een sakeman gesê.

Volgens ‘n skrywe wat Louw Allan en Gordon Webb van die Kamer van Koophandel aan John Lincoln en Louwrens Koen van die Erfenisvereniging gerig het, was die Kamer se voorneme nie om die mark op die lange duur te sluit nie, maar om die mark te omskep in een wat plaaslike kuns en handwerk uit Cullinan, Refilwe, Onverwacht en Rayton bevorder.

Die handwerk-mark wat die Kamer beoog sal dié mense help deur geriewe en stoorplek te bied. Hulle sal ook gazebo’s en tafels aan uitstallers voorsien.


Die onderste deel van Oaklaan met sy historiese mynskakelhuisies

Die plan is om die onderste deel van Oaklaan toe te maak om verkeer uit te hou en ‘n baan vir noodvoertuie en toer-operateurs oop te hou. Die Kamer sal iemand voorsien om die hek na dié afgekampte deel te beman. Dié persoon sal ook kaarte en pamflette aan toeriste uitdeel.

Die Kamer gaan aansoekvorms en kriteria-lyste aan uitstallers beskikbaar stel in hulle kantore in Oaklaan. Uitstallers sal deur ‘n komitee wat deur die Kamer aangestel word, goedgekeur moet word.

 

© 2019 Die/The Bronberger