Die Mitchellstraatse Mannekoor PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Monday, 24 November 2014 21:59
Untitled Document

Wie dit presies was wat die eerste keer die naam ‘Mitchellstraat Mannekoor’ aan hulle klompie kuierbasse toegedig het, kan hy nie met sekerheid sê nie, sê Gert Mossie.

Dit kon enige een van ‘n kerngroepie Oggendbladters gewees het wat geesdriftig meegedoen het aan die gereelde sing-en-kuier-sessies in die ná-nagure, verby saktyd van die koerant.

Hy wil onthou dat dit Kobus (Blikkies) Blignaut was, of dalk Koos (Doep) du Plessis. Koos Doep was erg partydig vir bynaam-gee en nogal vaardig daarmee.

Ander in die kerngroep van die kuierspan was; Etienne (Etjan) Kriel, Louis (Lood) Roux, Pieter (Pietie) Schoombee, Chris (Boetman) Louw en Gert Mossie – die uwe, sê Gert. Nog kollegas het sporadies saam gekuier, saam oorlede Perskor en die wêreld se probleme bespreek en opgelos en saam gesing. Maar dié sewe was die hart van die Mitchellstraatse Mannekoor, kan jy maar sê.

In die begin is gekuier om ‘n ‘fles’ in die nagkantoor of subkantoor. Die fles is dikwels deur oom Jule van die ‘fabriek’ voorsien. Oom Jule was ‘n geheelonthouer met begrip vir die terapeutiese noodsaak van die sosiale interaksie tussen koerantmanne, ná die slag van nog ‘n uitgawe gelewer is.

Dan het Koos sy kitaar opgeneem en vir hulle ‘n voorskou gegee van sy (ou) liedjies, wat eers heelwat later volksbesit sou word. En soos die tonge en die stembande losser geraak het, het almal begin saamsing. Koos se liedjies, rakbieliedjies, ander se liedjies en hulle eie liedjies, vertel Gert Mossie.

Die kitaarspel is gedeel deur Louis Roux en Kobus Blignaut, wat baie musieklik was en ‘n magdom instrumente kon bespeel. Louis Roux sou insit met ‘Anna Jordaan’ (die ou vaalkop korhaan), of sy verwerking van ‘Skadu’s teen die muur’ (“en die rotte k. . . op die solder . . .”) en die res van die mannekoor sou uit volle bors inval.

Die manne se stemme het vernuftig getrou. Wat hulle voortgebring het, was vir hulle verskriklik mooi. En om dié gawe onder Mitchellstraat se maatemmer te los, sou aan sonde grens, sê Gert.

Die mannekoor het sy vlerke begin sprei. Die ‘optredes’ is uitgebrei en die horisonne is verbreed. Hulle het ‘onwettig’ ná ure by die Hoekie (‘n ou hotelletjie in Mitchellstraat) begin optree, waar hulle met wisselvallige welslae deur die ‘onwettige’ gehoor begroet is.

Daar, waar ‘n tandelose tante met krullers in haar hare en hare op haar bene vir Koos Doep ná ‘n solonommer gesê het: “My boetie, jy klink dan nes die draadloos!” Dit was net ná ‘Kinders van die wind’ begin lugtyd kry het.

Die mannekoor het die geduld van die uitgelese inwoners en die toegeeflike nagbestuurder, Mick Jagger (regtig), van die land se eerste ‘internasionale’ hotel, Die Boulevard, tot die uiterste toe beproef. Hier het hulle die luukse van ‘n klavier en deurnag-‘kamerdiens’ geniet. Tot een rampspoedige aand . . .

Soos dit maar gaan, was genoeg naderhand te min en was dit onvermydelik dat ‘braai’ by hulle kuier-sing-en-suip-lys gevoeg sou word, sê Gert. Hy sê hulle het ‘n suksesvolle proeflopie met Perskor se Krismishoenders op Mitchellstraat se brandtrappe gehad en ‘n redelike een onder die ou peperboom in die plek se parkeerplek.

‘n Paar minder suksesvolles by getroude koorlede se wonings het gevolg. Net getroude ouens het destyds wonings gehad en hulle was gebelgd om te moes vasstel dat getroude vrouens nie noodwendig musiek waardeer nie.

‘n Vindingryke mannekoorlid, hy wil onthou dit was Piet Schoombee, kom toe met die logiese oplossing vorendag: Hulle sal by die Fonteine loop braai en kuier en na hartelus sing en g’n veiligheidswag, hotelgas, hotelbestuurder, of iemand se getroude vrou sal kan inmeng nie.

Die koor en sy gaste het ‘n aantal genoeglike en vervullende na-nagte, tot ligdag toe, by die Fonteine ingewerk. Nêrens het hulle beter gesing as juis daar in die oopte langs die Apies nie. En nêrens het hulle lekkerder gesels en gebraai en geniet nie. Spanbou soos min, sê Gert Mossie.

Maar hulle het besef dat die wêreld te klein word, toe hulle genoeglikheid een vroegoggend wreed ontwrig word. Midde in ‘n meesterlike weergawe van ‘Harre, harre, lekker . . .’ begin vreemde, vlieënde voorwerpe om en op hulle neer-reën.

Bottels; Leë bierbottels en drankbottels van uiteenlopende aard fluit letterlik deur die lug en daarmee saam hoor hulle die skreestemme uit die bosse: “Hou op so (knoopwoord) raas. Hier is mense wat wil (vloekwoord) slaap! Gaan (kruwoord) huis (kragwoord) toe. (Nog knoopwoorde) . . . off. Iets allervreesliks, sê Gert.

Die Fonteine van destyds was ‘n veilige hawe. Nie net vir die Mitchellstraatse Mannekoor nie, sien? Maar ook vir ander hawelose drommels, boemelaars en vredesoekers wat nie ‘n ander verbruikersvriendelike kuierplek gehad het nie, sê Gert Mossie.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online