‘Toeka se dae’ is een van die gewildste afdelings in Die Bronberger. Hier bied
ons ’n terugblik oor die ‘toekas’ wat in ons sesde jaar die lig gesien het – van
die eerste sirkusse wat Pretoria in die 1800’s besoek het tot ’n openbare teregstelling,
van die spog-villa uit die 1800’s wat nou nog trots in Donkerhoek
staan tot Cullinan se sinkhuisies en Willem Prinsloo se historiese werf.
Narre en ’n
troetelleeu
In November 2007 vertel ons van
die eerste sirkusse wat Pretoria
besoek het. In die laat 1800’s was
dit Fillis se Sirkus, bedryf deur
Frank Fillis wat bygestaan is deur
sy vrou, bekend as Madame Eliza
of Lazel, en sy drie kinders, Frank,
Adele en Cecil. Van 1905 af het
Pagel se Sirkus hier begin toer,
onder eienaarskap van Herr
William Pagel en sy streng
Yorkshire-vrou, Mary Dingdale, wat
oral met haar troetel-leeu
rondgestap het. Later kom die
Boswell Broers Sirkus, ’n familie
wat sedert die 1800’s in Engeland
se sirkusse doenig was. ’n
Afstammeling van dié Boswells,
wat sy bedryf Brian se Sirkus
noem, besoek Pretoria vandag
nog.
Honderd jaar
later
’n Eeu gelede was die Bronberggebied
nog yl bevolk met net ’n
opstal hier en daar. Wêreldnuus
het ons mense maar stadig bereik
en min opstal-bewoners sou dadelik
weet van stemregjuffers se
optogte daardie Desember of van
die paniek in die Amerikaanse aandelemark
wat banke laat vou het.
In Desember 2007 het ons vertel
van ’n paar gebeure uit Desember
1907 wat ’n honderd jaar later nog
onthou word.
Lang Piet se
diep spore
In die middel
tot laat
1800’s het
Lang Piet
Marais, ’n
oom van
die digter
Eugene
Marais, se
naam voortdurend
in
die koerante
verskyn.
In Januarie
het ons
terug gekyk
na die doen
en late van
dié langste
man in
Pretoria. Hy was een van die veroordeeldes
wat met die burgeroorlog
in 1863 bedags in die blok,
wat in die koelte van ’n groot seringboom
agter die Goewermentsgebou
gestaan het, opgesluit is. Hy
het die lang ure van die dagverkort met sy vioolspel. Lang Piet
het in ’n Volksraadsverkiesing met
vyf stemme verloor; ’n mynmaatskappy
gestig en later direkteur
van die Lydenburg Gold Prospecting
Co en aandeelhouer in
Transvaal Mining geword.
Openbare
teregstelling
In Februarie vertel ons van die
enigste openbare teregstelling wat
in Pretoria gehou is, so ver bekend.
Die Bapedi kaptein, Mampuru,
is in November 1883 ten
aanskoue van mede-gevangenis
tereggestel. Hy het sy halfbroer,
Sekoekoenis, hoofman van die
Bapedi, vermoor, geweier om hom
aan die Transvaal se owerheid te
onderwerp en by ’n naburige stam
gaan skuiling soek. Generaal Piet
Joubert het in Oktober 1882 twee
duisend man opgekommandeer,
die skuilplek omsingel en die voortvlugtige
kapteins uitgehonger.
Teen die winter van 1883 het albei
kapteins oorgegee.
Hy herdoop
kamera
Al ooit gehoor van ’n fotograaf wat
die kamera herdoop het na homself?
In 1878 kondig Henri Ferdinand
Gros, die eerste fotograaf
wat sy eie ateljee in Pretoria gevestig
het, aan dat hy nie ’n kamera
gebruik nie, maar ’n ‘Grososcope’.
In April vertel ons dat Gros die
eerste fotograaf was wat ’n permanente
ateljee in Pretoria kom vestig
het. Hy het ’n erf op die suidwestelike
hoek van Kerk- en Van
der Waltstraat gekoop in 1877. In
1878 adverteer hy as volg: “The
South African Photographic Studio
is now open”. Dit was een van die
eerste dubbelverdiepinggeboue in
Pretoria. Gros het ’n belangrike
deel van Pretoria se geskiedenis
met die Eerste Vryheidsoorlog vasgelê.
Dié foto’s is later gebind in
die versamelstuk genaamd ’news
of the Camp’ (1880-81).
Sesjarige
sien goudontdekking
In Mei berig ons dat tannie Willa
Dreyer, die Laerskool Witpoort se
oudste oorlewende leerling in ons
omgewing, se pa gesien het hoe
goud aan die Witwatersrand ontdek
is. Wyle Hans van Staden, wat
later die plaas Onbekend gekoop
het, was ’n skaapwagtertjie wat in
1886 op sesjarige ouderdom
nuuskierig saamgedraf het toe die
eerste goud ontdek is op die plaas
Langlaagte. Oom Hans het jare na
dié gebeurtenis vir koerante vertel
dat die ontdekker nie die veelgeroemde
George Harrison was
nie, maar ’n boer.
Waar’s Pretoria
se goud?
Wie sou nou kon raai dat goud in
1875 in Pretoria ontdek is. In Mei
vertel ons dat die 14-jarige Bernard
Meintjes, seun van JJ Meintjes,
Registrateur van Akte, ’n klippie
met ’n geel stippel opgetel het wat
groot opgewondenheid in toeka se
Pretoria veroorsaak het. Dié klippie
het gelei na verdere ontdekkings
van goud in Pretoria wat nooit in
die geskiedenisboeke opgeteken is
nie. Pretorianers het ’n openbare
vergadering gehou en ’n komitee
gekies, met Frank Zeiler as sekretaris,
om geld in te samel wat die
prospekteerdery sou finansier. Die
enigste verdere verwysing na Pretoria
se goud was op 9 Mei 1877
in ’n koerantberig oor die slegte
toestand van die paaie. Dié berig
sê dat daar heelwat diep gate is op
die plekke waar vir ’n paar jaar
hard na goud gesoek is.
Donkerhoek
se villa
In Junie vertel ons van ’n swierige
ou villa uit die 1800’s wat teen
groot moeite en koste deur ’n destydse
lid van Paul Kruger se volksraad,
JMA (Donkie) Wolmarans
gebou is. Die trotse ou opstal
staan vandag steeds teen die hange
van die Magaliesberg in Donkerhoek.
In 1916 is die gedeelte
van die plaas met die huis op deur’n seun van Donkie, Jacobus Wolmarans,
aan ’n sakevennoot van
Sammy Marks, ene J Levin, verkoop.
Die huis en grond is in 1924
deur JB Wouda gekoop en sedertdien
woon sy nageslagte nog daar.
JB Wouda was Dave Brink, wat sy
hele lewe nog daar bly, se oupa. ’n
Agterkleinkind, Ian McDoogle en
sy vrou Suzette, bly ook in die ou
villa en is besig om die huis te restoureer.
Tuks gebore in
koerantman se
huis
Vir diegene wat nog altyd gewonder
het waar die Universiteit van
Pretoria se bynaam, Tuks, vandaan
kom, is die raaisel met vanjaar se
eeufeesviering opgelos. In Julie vertel
ons dat die universiteit gegroei
het uit die Pretoria-sentrum van die
Transvaal Universiteitskollege
(TUK) wat in 1908 sy deure vir studente
geopen het in Kya Rosa, ’n
vier-slaapkamer huis in Skinnerstraat.
Dié huis is laat bou deur ’n
windmaker joernalis, Leo Weinthal,
redakteur van die destydse ‘The
Press’ en stigter van ‘The Pretoria
News’. Hy was bevriend met
President Paul Kruger, JB Robinson,
die Randse myn magnaat,
entrepreneur Sammy Marks, beeldhouer
Anton van Wouw en finansierder
AH Nellmapius. Kya Rosa is
ná die Anglo-Boere-oorlog in 1902
deur die nuwe koloniale administrasie
oorgeneem en is vir opvoedkundige
doeleindes geoormerk.
Die huis is in die mid 1980’s
na die universiteit se hoofkampus
in Hatfield verskuif.
Suikerbossiestraat
se
sinkhuise
Cullinan word gekenmerk deur sy
sink- en sandsteenhuise uit die
vroeë 1900’s. Alle historiese
geboue in dié dorp is as nasionale
erfenis verklaar. In Julie het ons ’n
draai gaan maak by die inwoners
van Suikerbossiestraat se sinkhuise
en gehoor dat die myn in ongeveer
1907 vir sy amptenare besonderse
sinkhuise in Mountain-rylaan,
of Suikerbossiestraat soos dit
vandag bekend staan, gebou het.
Hulle word nog almal bewoon.
Ons het vertel dat Suikerbossiestraat
nommer 10 die huis is waar
die destydse TV-reeks Mattewis en
Meraai geskiet is. Die stasietjie
waar almal op-en-afgeklim het, was
sommer tydelik gebou van hout op
die treinspoor na die myn wat
ongeveer 25 tree voor die huis is,
en vandag nog in myngebruik is.
Union Jack
gekis en
begrawe
Vreemder verskynsels as ’n
kamma-begrafnis vir ’n vlag het
seker al in Pretoria gebeur. Maar
as dié begrafnis knap op die hakke
van ’n skynhofsaak, wat sy oorsprong
in ’n hotel-kroeg blyk te
gehad het, volg . . . wel, dan is dit
geen wonder dat ons bykans 130
jaar daarna nog in verwondering
na die foto van die kamma-grafsteen
staar nie. In Augustus vertel
ons dat Pretoria se Engelse onderdane
só die josie in was toe
Brittanje, ná die slag van Majuba,
Transvaal teruggee aan die Boere,
dat hulle formeel ’n begrafnis vir
die Union Jack gehou het.
Willem Prinsloo
se werf
In Augustus het ons vertel dat oud
en jonk jaarliks saamtrek op die
plaas van die destydse raakvatboer,
Willem (Wragtag) Prinsloo,
vir ’n plaasfees. Willem het in
1896, die noordelike deel van die
plaas Elandsfontein gekoop. Dit is
op ’n koppie op dié plaas waar
Thomas Cullinan ’n ryk vulkaniese
pyp kimberliet vol diamante ontdek
het. Hy het The Premier
Syndicate Limited in November
1902 geregistreer, wat kort daarna
The Premier (Transvaal) Diamond
Mining Company geword het.
Vandag word die geskiedkundige
plaaswerf, bekend as die Willem
Prinsloo Landboumuseum, en die
diamantmyn, bekend as Cullinan
Diamond Mine, steeds bedryf en
as gerekende kultuurskatte deur
menige entoesiastiese toeriste
besoek.
|