Geharde boom teen brand bestand PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 24 November 2014 23:58
Untitled Document

Is daar regtig ‘n boom wat brandbestand is? Daar word gesê dat die knoppiesdoring nie net droogte- en termiet-bestand is nie, maar dat hy ook nie deur veldbrande doodgebrand word nie.

Die knoppiesdoring, Acacia nigrescens, kry sy naam van die kenmerkende knoppe wat dorings dra op sy stam. Die naam ‘Acacia’ is afgelei van die Griekse woord ‘akis’, wat ‘punt’ beteken en verwys na die dorings wat alle Suid-Afrikaanse Acacia-spesies dra. Dié spesie het reeds in die 16de eeu die Latynse vorm, ‘acacia’, van die Griekse naam, ‘akakia’, begin dra.


Dit is waar die knoppiesdoring sy naam vandaan kry
Foto: Leigh-Ann

Die ‘nigrescens’ deel van sy naam beteken ‘om swart te word’ en verwys na die kleur van sy peule of dorings.

Die knoppiesdoring is ‘n bladwisselende boom wat vyf tot 18 meter hoog word met ‘n lang, silindriese vorm en geronde kroon. Hy dra tussen Augustus en November welriekende blommetjies wat as rooibruin knoppies begin en dan ‘n romerige wit kleur word wanneer hulle oopgegaan het. Dié blommetjies word gevolg deur peule van omtrent 100 mm lank en 13-25 mm breed, wat swart word as hulle ryp is.


Peule
Foto: Wikipedia

Gebruike
Hulle sê dat knoppiesdoringhout goeie braaihout is omdat sy kole so lank warm bly. Die hout is baie hard en omdat dit termiet-bestand is, word dit as heiningpale en stutte in myne gebruik. Tog word die hout nie eintlik gebruik om meubels te maak nie, omdat dit so moeilik is om te bewerk.

Die boom se blare en peule word deur olifante, kameelperde, koedoes, duikers, rooibokke en steenbokke gevreet. Kameelperde, ape en bobbejane is veral lief vir die blommetjies, wat omtrent drie keer so veel tannien as die blare bevat.


Blomme
Foto: Wikipedia

Groei
Die knoppiesdoring maak ‘n lieflike skaduboom en kan van saad gekweek word. Die saad moet oornag in warm water geweek word en kan die volgende dag in aparte plastiese sakkies geplant word.

Saailinge moet in groter sakke oorgeplant word as hulle penwortels begin vorm. Hulle plant maklik oor.
Dié boom groei tot 700 mm per jaar. Hy oorleef droogtes, maar is sensitief vir ryp.


Dié bladwisselende boom word vyf tot 18 meter hoog
Foto: Wikipedia

 

© 2019 Die/The Bronberger