Ken jy die neddikkie se alarmroep? PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 24 November 2014 23:57
Untitled Document

Ken jy die geluid van ‘n vingernael wat vinnig oor ‘n kam se tande getrek word? Dié tiktiktitik’-geluid is die neddikkie se alarmroep. Hy swiep sy stert heen en weer as hy sy alarm laat afgaan en sal na ‘n hoë sitplek in ‘n boom opvlieg.

Die neddikkie is gewoonlik op die grond te siene waar hy rondhop op soek na insekte. Hy bly in die grasryke ondervlak van boswêreld, savanne en plantasies van eksotiese boomspesies. Dié voëltjies vermy digte woude en word gewoonlik in pare of as individue gesien waar hulle rondom die basis van ‘n boom na prooi soek.

Die neddikkie, Cisticola fulvicapilla, is 11 cm lank en word maklik aan sy kastaiingbruin mus uitgeken. Die suidelike ras het ‘n gryserige borskant en eenvormig bruinerige rugkant, terwyl die noordelike ras se borskant meer dofgeel is en hulle ‘n langer stert het. Die jong voël is ‘n bietjie meer geel as volwassenes.


Die Neddikkie
Foto: Buckham Birding

Dié algemene standvoël se sang is ‘n eentonige ‘whieep’ of ‘tseep’. Hulle broei van September tot Maart met ‘n piek van Oktober tot Januarie, en die nessie word eiehandig deur die wyfie gebou. Sy bou hom baie laag in ‘n doringagtige struik of in dik gras naby die grond en hy is gewoonlik ‘n ovaal- of balvorm, maar kan ook koppievormig gebou word.

Die wyfie bou die nes uit droë gras wat met spinnerakke aanmekaar gebind word. Sy voer die nessie met sagte plantmateriaal uit en sit dit ook onder die kantingang as ‘n soort deurmatjie.

Sy lê twee tot vyf eiers wat vir 12 tot 15 dae lank uitgebroei word. Die kuikens verlaat die nes na ongeveer twee weke.

 

© 2019 Die/The Bronberger