‘Groen’ manier om kragonderbrekings te fnuik PDF Print E-mail
News - Artikels
Monday, 24 November 2014 21:50
Untitled Document

Theuns Verster van Die Wilgers is ’n afgetrede elektriese ingenieur. Hy sê dat ons almal meer aan kragonderbrekings blootgestel gaan wees, en beskryf ‘n ‘groen’ manier om ‘n gedeelte van jou huishouding se verbruik self te produseer, en beveilig te word teen onverwagte kragonderbrekings.

In Suid-Afrika is huishoudings slegs vir omtrent 18% van die daaglikse elektrisiteitsverbruik verantwoordelik. In piek-aanvraagtye, soggens en saans, styg dit egter na 30%, wat vir Eskom ernstige kapasiteitsprobleme skep, en vir die gebruiker onsekerheid bring oor moontlike kragonderbrekings.  
Heelwat huishoudings het reeds son-geysers installeer vir water-verwarming, wat gemiddeld vir net meer as ‘n derde van jou elektrisiteitsverbruik verantwoordelik is.

Om die orige twee-derdes volledig oor te skakel na sonkrag vir die hele huishouding sal nog relatief duur wees. ‘n Kleiner stelsel, wat meer bekostigbaar is en omtrent soveel soos ‘n son-geyser kos, kan egter beplan word.

So ‘n stelsel kan gemoedsrus verskaf onder omstandighede waar beurtkrag vir die volgende paar jaar ‘n konstante bedreiging is; waar daar onvoorspelbare kragonderbrekings weens kabeldiefstal is; en kragonderbrekings weens weerlig of instandhoudingsgebreke.


Theuns Verster by ‘n fotovoltaïese (PV) paneel, wat ‘n stewige 24 V battery kan laai

Ligte
Dié faktore het almal te doen met die onsekerheid oor wanneer jou huis skielik in donkerte gehul gaan word. Indien al die ligte in die huis altyd funksioneel bly, asook enkele toestelle soos die TV, rekenaar, radio of koordlose foon, kan die lewe vir huisbewoners amper normaal voortgaan.

Om so ‘n situasie te bewerkstellig, moet dit aanvaar word dat apparate soos die stoof, mikrogolf, verwarmer, skottelgoedwasser, en selfs yskas/vrieskas vir ‘n hele paar uur afgeskakel kan bly sonder nadelige gevolge, omdat alles nie deur ‘n klein stelsel ondersteun kan word nie. Die huisbewoners sal self moet besluit oor ‘n eie strategie.

Voordele van ‘n klein sonkragstelsel is dat dit ook permanent ‘n gedeelte van die huishoudelike elektrisiteitsgebruik kan voorsien, in plaas van om net in noodgevalle aangeskakel te word soos klein petrol- of diesel-aangedrewe kragopwekkers, wat op hulle beurt ‘n steurnis vir die omgewing kan wees.


Die 24 V battery staan onopsigtelik op die bodem van ‘n klerekas in die huis

Voorbeeld
‘n Praktiese voorbeeld van so ‘n stelsel in ‘n familiewoning in Die Wilgers, en die gebruikservaring daarmee, kan van nader bekyk word. Die huis is ‘n enkelverdieping met vier slaapkamers, ‘n groot tuin en swembad, wat verbind is aan waterverwarmingspanele op ‘n afdak, waardeur swembadwater sirkuleer om deur die son verhit te word.

Die sonkragstelsel is beplan om die noodsaaklike deel van die aandgebruik van elektrisiteit, soos ligte, te voorsien, en ook die benodigde elektrisiteit bedags te verskaf vir die bedryf van die swembadapparate – filtrering, chlorinering, outomatiese skoonmaker en verhittingsirkulasie.

‘n Fotovoltaïese (PV) paneel van 470 Watt piek-kapasiteit, wanneer die son loodreg op die paneel skyn, is op die dak monteer. Hy laai ‘n stewige 24 V battery, wat onopsigtelik op die bodem van ‘n klerekas in die huis staan, saam met die elektroniese omsetter wat 24 V gelykspanning in 230 V wisselspanning omsit, en met ‘n kabel aan die elektriese verdeelbord in die huis verbind is.

Wanneer die klerekasdeur toegemaak word, sien of hoor ‘n mens niks van die stelsel nie. Oorskakeling van Eskom-krag na battery-krag, wanneer ‘n kragonderbreking voorkom, gebeur outomaties, en vereis geen aksie van die huisbewoners nie.

Omdat groot PV panele en batterye redelik duur is, is dit belangrik om in die aanloop van beplanning eers energie-besparende apparate in die huis te installeer, sodat ‘n relatiewe klein sonkragstelsel gebruik kan word. Dit is meer koste-effektief as om al die bestaande apparate in die huis net so te probeer behou.

In dié betrokke huis is al die ligte, insluitend CFL ligte en buisligte, met 4 Watt LED liggies vervang. Dié ligte is individueel gerig om belangrike werkvlakke in elke vertrek voldoende te belig. Daar is 25 sulke liggies geïnstalleer, wat ‘n totale kragverbruik van 100 W verteenwoordig. Tien jaar gelede was soveel Watts nodig vir een gloeilamp; nou verlig dit die hele huis.


Die 4 Watt LED liggies is individueel gerig om belangrike werkvlakke in elke vertrek te belig

Swembad
Die tweede stap was om die swembadpomp te vervang. In die ou dae was onnodige sterk induksiemotors vir dié doel geïnstalleer, en dit word steeds op groot skaal gedoen, al is daar ‘n nuwe soort swembadpomp, wat gestel kan word om net genoeg te pomp vir enige grootte swembad se behoeftes.

Gemiddeld 85% minder elektrisiteit is nodig as wat deur bestaande standaard swembad-installasies gebruik word. ‘n Klein sonkragstelsel vir die huis kan ook die swembad aandryf. Eintlik werk dit ideaal uit want in sonskynure is daar ‘n oorproduksie van energie, wat direk deur die swembad benut word, terwyl daar nog voldoende energie beskikbaar is om die battery vir die aand-aanvraag te laai.

Op bewolkte dae word die swembadpomp afgeskakel. Vir ‘n tweede of derde bewolkte dag kan na Eskom-elektrisiteit oorgeskakel word, maar dit sal relatief selde nodig wees in die verloop van vier seisoene. As ‘n kragonderbreking in bewolkte weer voorkom, is die verminderde opbrengs van die PV panele nog steeds genoeg om die battery gelaai te hou vir ligte saans.


Onnodige sterk induksiemotors word met ‘n nuwe soort swembadpomp vervang

Proef
Die klein sonkragstelsel, saam met die veranderinge aan toerusting in die huis en die swembad, is vir ‘n paar maande voltyds in bedryf gestel om alles te beproef. Behalwe die gerusstelling oor kragonderbrekings is omtrent 60 kWu/maand se elektrisiteit uit die son benut.

Daar is op sonskyndae ook sowat 80 kWu/dag hitte-energie verniet via ‘n 21 m² son-mat vir swembadwater-verwarming verkry, alles met lae pomp-energie. Ironies genoeg het daar ook die besef gekom dat die groot vermindering in kragverbruik (320 kWu/maand) nie uit die opwekking van eie elektrisiteit kom nie, maar uit die voorafgaande omskakeling na LED ligte en ‘n instelbare swembadpomp.

Mense wat grootliks op vermindering van maandelikse elektrisiteitkoste wil fokus, hoef slegs die eerste helfte van die proses te deurloop. As hulle gemoedsrus ook wil hê, moet hulle minstens die battery en omsetter installeer, dan laai die battery vanaf Eskom-krag.

Met die toevoeging van PV panele word volle onafhanklikheid bemoontlik vir ‘n baie belangrike gedeelte van die huishouding. Die aankoopkoste van sonkragstelsels se onderdele is besig om te daal, en al hoe meer huishoudings sal dié pad begin loop.

‘n Klein sonkragstelsel kan ook maklik op afgeleë plekke soos plase, boskampe en natuur-reservate, geïnstalleer word, waar dit bedags ander soort take, in plaas van om ‘n swembad te bedryf, moontlik maak.

Benewens slegs ligte in die aand, kan aktiwiteite soos ‘n klein werkswinkel met ligte kraggereedskap, of ‘n kantoor met rekenaars en drukkers, bedags van elektrisiteit voorsien word.

Die relatiewe groottes van PV panele en battery kan aangepas word. As die hoofgebruik bedags is het jy meer paneel en minder battery nodig. As dit saans is het jy minder paneel en meer battery nodig.

As die battery-kapasiteit voldoende is om nie op ‘n daaglikse basis meer as 50% te ontlaai en herlaai nie, kan ‘n duursaamheid van etlike jare verseker word.

Dié manier bied gemoedsrus, en is ook koste-effektief, omdat dit nie net ‘n noodkragopwekker is nie, maar op ‘n buigsame manier daagliks gebruik kan word om ‘n gedeelte van die benodigde elektrisiteit met langtermyn kostebesparing te voorsien.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online