Duikertjie in Faerie Glen se stadstrate gered PDF Print E-mail
News - Artikels
Monday, 24 November 2014 21:49
Untitled Document

‘n Verskrikte grys duikertjie is op Sondag 5 Oktober in Selikatsweg, Faerie Glen gewaar. Die My Faerie Glen-buurtwag het gesorg dat die bokkie gevang word en na die Valley Farm Dierehospitaal geneem is.

Hencke Marais van Tshwane Natuurbewaring het haar daar gaan haal en na Onderstepoort geneem waar sy op Maandag 6 Oktober deur dr Johan Steyl geopereer is en behandel is vir ‘n geskeurde spier en ligament aan haar been.


Die duikertjie voor haar vrylating
Foto: VFGNR

Die veeartse het vasgestel dat die bokkie dragtig is en het besluit om haar so gou as moontlik na haar natuurlike habitat terug te neem om verdere spanning te verhoed. Sy is op Dinsdag 7 Oktober deur Hencke Marais in die Faerie Glen Natuurreservaat, vrygelaat. Hy is bygestaan deur Alf Joubert en Jacques van Rooyen, wat altwee lede van Vriende van die Faerie Glen Natuurreservaat (VFGNR) en die My Faerie Glen-buurtwag is.


Hencke Marais, links, van Tshwane Natuurbewaring by die hok wat gebruik is om die duiker te vervoer. Alf Joubert, Markus en Mieke-Marie van Rooyen, het gehelp om die duiker vry te laat
Foto: VFGNR

Die veeartsrekening is deur VFGNR betaal, met die hulp van skenkings deur die gemeenskap.

Die duikertjie is nie die eerste bok wat hierdie jaar in ‘n besige straat beland het nie. In Julie het Tshwane Natuurbewaring vir die eerste keer in die reservaat se geskiedenis, rooibokke, rooi hartbeeste en sebras in die veld vrygelaat.


Alf, Markus en Mieke-Marie kyk hoe die duiker ooitjie wegsluip
Foto: VFGNR

Ongelukkig wou dié diere so gou as moontlik huis toe gaan. Hulle het van Moreletakloof Natuurreservaat gekom en het stroom-op begin beweeg en onderdeur die Manitobastraat-brug gekom. Natuurbewaring moes hulle terug jaag na die Faerie Glen Natuurreservaat en het ‘n heining onder die brug opgesit.

‘n Hartbeeskoei het agtergebly en kon nie in die reservaat terugkom nie. Daar is later vasgestel dat sy uit die afgekampte stuk veld langs die spruit ontsnap het en in Garsfontein beland het. Sy het met die voorstedelike strate in Garsfontein aanbeweeg en het probeer om Atterburyweg oor te steek.


Die rooihartbees wat vroeër vanjaar in Atterburyweg getref is
Foto: Johan Basson

Die koei is op 4 Augustus voor die Faerie Glen Hospitaal doodgery. Sy het reg onder Johan Basson se Toyota Fortuner beland nadat ’n Mercedes-Benz haar getref het.

Vriende van die Faerie Glen Natuurreservaat vra mense om hulle te help om die grensdrade rondom die reservaat dop te hou en uit te kyk vir strikke. Die publiek word ook gevra om telling te hou van die wild wat hulle sien. Stuur jou tellings van die soorte wild wat jy gesien het saam met die datum en tyd na This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online