Polisie-optrede kan taan oor min aanmelding PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 24 November 2014 21:41
Untitled Document

Mense in die Cullinan-Rayton-distrik huiwer om misdaad aan te meld. Inwoners se negatiwiteit is so erg dat Cullinan glo in Junie as die veiligste stad in die land in terme van misdaadstatistiek, verklaar is.

Tog neem misdaadvoorvalle in die groter gebied nie af nie. Op 12 November was daar ‘n huisroof by Elandshoek, plot 48, en plot 46 se heining is geknip. Drie verdagtes met ‘n wapen het by werknemers se huis ingebreek en selfone, ‘n baadjie en horlosie gesteel.

Hulle wou glo ‘n televisiestel en fiets ook vat, maar die voertuig was te vol, wat mag beteken dat hulle elders ook ingebreek het. Een van die inbrekers het ‘n paar boeie gehad. Niemand is beseer nie.

Op 12 November was daar ook ‘n gewapende roof by ‘n winkel in Refilwe waar een mens dood is en een in ‘n kritiese toestand in die hospitaal opgeneem is. Drie gewapende mans het ‘n gat in die winkel se dak gesny, ingeklim en sigarette, kontant en selfoon-lugtyd gesteel. Toe hulle uitstap het hulle die winkeleienaar geskiet. Dié drie het in ‘n donkergroen Golf gevlug.

Op 31 Oktober om 4:45 vm was daar ’n gewapende roof in Rietfontein naby Rayton. Huisware en ‘n voertuig is gesteel, maar te danke aan Tracker is die verdagtes in Mamelodi vasgetrek.


Die gemeenskap het in Maart ‘n memorandum met hulle griewe by die Cullinan-Polisiestasie ingehandig

Plaasaanval
Drie vermeende gewapende rowers is op 31 Oktober kort ná ’n plaasaanval naby Cullinan vasgetrek. Niemand is ernstig in die voorval beseer nie.

Drie mans het ongeveer 3:45 vm ’n venster gebreek en toegang tot die huis verkry. Die vrou het geslaap en haar man was nie tuis nie. Die rowers het die 34-jarige vrou voor haar twee laerskoolkinders uit die bed gepluk en vasgebind.

Items wat geroof is sluit ’n plasma-televisiestel, ’n skootrekenaar en haar beursie in. Die boewe het in haar motor gevlug, maar is kort daarna in Mamelodi-Oos deur die polisie vasgetrek. 
Hulle het op twee handwapens beslag gelê en al die gesteelde artikels teruggekry.

Die boewe het in die Cullinan-landdroshof op aanklagte van gewapende roof en die besit van gesteelde goedere verskyn.

Volgens Johannes Japhta, polisiewoordvoerder by die Cullinan-Polisiestasie, hoop die polisie om dié drie met ander rooftogte wat onlangs in die omgewing plaasgevind het te verbind.

Johannes het gesê dat gemeenskapslede in die Cullinan-omgewing rooftogte moet rapporteer sodat die polisie die verdagtes moontlik met meer voorvalle kan verbind.

Vergadering
Met ‘n landelike veiligheidsvergadering wat op 21 Oktober gehou is, is die feit dat baie min insidente by die Cullinan-Polisiestasie aangemeld word, bespreek. Dié vergadering is deur Dirk Hanekom, HUB van Agri Gauteng, Ian Cameron van Afriforum, Henri Combrink van TLU, die Rayton/Cullinan Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) se voorsitter, Karin Yssel, Afriforum streeksvoorsitter, Dawie Badenhorst, die Rayton Gemeenskap Assosiasie en sektorleiers van ander streke bygewoon.

Op die vergadering is die Cullinan-Polisiestasie as onbevoeg en onbekwaam om beheer en leierskap in die gebied uit te voer, beskryf. Tog is inwoners aangemoedig om alle misdade aan te meld en ’n verwysingsnommer te kry, al is dit ’n week na die voorval. Die GPF het statistieke nodig om die saak te beveg en daar is besluit om ‘n groter poging aan te wend om al die sektore by ’n groter kommunikasie-netwerk, groter statistiek-verslagdoening en meer gesamentlike misdaadvoorkomingsaksies te betrek.

Daar is besluit dat die sektore nie meer die landelike veiligheidvergaderings saam met SAPD gaan bywoon tot die bevel- en beheerstruktuur verander het nie en om hulle eie vergaderings te hou om misdaadvoorvalle in die gebied te bespreek.

Ignoreer
Die gemeenskapsgroepe het gesê dat hulle self meer patrollies in die nag doen omdat hulle versoeke vir meer Polisie-patrollies, -voertuie en mannekrag geïgnoreer is.

Hulle het gesê dat die situasie terug dateer na Maart toe Das Venter vermoor is. Die gemeenskap, bygestaan deur Afriforum, het op 21 Maart ‘n memorandum met hulle griewe by die Cullinan-Polisiestasie ingehandig, maar die stasiebevelvoerder was nie teenwoordig om dit te ontvang nie.

Opvolg vergaderings is gehou wat ook deur maj gen Phumzo Gela, brig Kweyame, lt kol Mthimunye, die Tshwane Metropolisie en blitspatrollie bygewoon is. Die gemeenskap is belowe dat die saak aangespreek sal word en terugvoer gegee sal word. Volgens die gemeenskap het dit nog nie gebeur nie.

Die gemeenskap rapporteer dat wanneer polisie patrollievoertuie gevra word om te reageer, hulle ingelig word dat daar net een voertuig vir die ongeveer 2 000 vierkante kilometer gebied beskikbaar is. In die nag word hulle vertel dat daar net drie polisiemanne aan diens is.


Johannes Japhta

Skrywe
Die gemeenskap het op 8 Oktober ‘n skrywe aan genl Monoo, die offisier in beheer van alle speurtakke in Gauteng, gerig om hulle teleurstelling oor die aantal sake wat nie opgelos word nie, uit te druk. Elke speurder in Cullinan het glo tussen 120 en 150 sake om te hanteer.

Omdat die gemeenskap geen terugvoer en ondersteuning van die SAPD kry nie, dring hulle aan dat die Cullinan-stasiebevelvoerder, lt kol Mthimunye, vervang moet word. Hulle sê die gemeenskap weet dat daar polisielede by dié stasie is wat hulle werk goed doen, maar dat die stasie beter sal doen onder beter bestuur.

Japhta
Volgens Johannes Japhta, kommunikasie-amptenaar by die Cullinan-Polisiestasie, doen dié stasie alles wat hulle kan om misdaad in die gebied te beveg. Hy sê dat die GPF en ander gemeenskapsinstansies op hoogte gehou word van misdaad tendense en patrone.

Hy sê dat alle sake wat gerapporteer is, ondersoek word. Johannes vra dat die gemeenskap na vore moet kom met enige inligting wat die polisie kan help om skuldiges aan te keer.

Volgens Johannes het die Cullinan-polisiestasie die ondersteuning van ‘n provinsiale span onder leiding van maj gen Phumzo Gela, adjunk provinsiale bevelvoerder van sigbare polisiëring.

Johannes sê dat polisiëring nie net deur die polisie gedoen kan word nie en vra die gemeenskap om die polisie se oë en ore te wees. Stuur inligting oor verdagte aktiwiteite aan Crime Stop by 08600-10111 of stuur ‘n teksboodskap na 32211.

 

© 2019 Die/The Bronberger