Suksesverhaal gekelder PDF Print E-mail
News - Kommentaar
Monday, 24 November 2014 21:39
Untitled Document

In die Bronnie se bestaanstyd van meer as twaalf jaar het ons baie vlooimarkte in die gebied gesien kom en ons het baie gesien gaan.

Self het ons ‘n aantal jare gelede ‘n kontreimark begin en vir ‘n tydperk redelik suksesvol bedryf.

Daarom is dit ondervinding wat praat as ons sê dat dit baie bloedsweet kos om ‘n mark van enige aard op die been te bring en baie vasbyt en geduld verg om dit suksesvol aan die gang te hou.

Statistiek sal wys dat net enkeles vir ‘n redelike tydperk oorleef. Trouens, ons kan aan slegs een in ons verspreidingsgebied dink wat dit tot dusver reggekry het. En dit is die een wat nou toegemaak is: Nie deur die toedoen van die organiseerders of die uitstallers nie, maar deur ‘n burokratiese besluit van buite.

Cullinan se ‘Under the Oaks’ mark is jare gelede deur Lilo Weideman in die dorpie se Oaklaan op die been gebring. Dit het ‘n staanplek gekry voor die McHardy Huismuseum, wat deur die dorp se Erfenisvereniging onderhou en bedryf word.

Soos met alle markte van hierdie aard, het dit soms broekskeur gegaan. Maar met volharding het die mark in gewildheid gegroei en geblom tot ‘n instelling wat ‘n aanwins vir die dorp se toerismebedryf geword het.

Soos met enige ander onderneming is dié suksesverhaal moontlik gemaak deur die basiese beginsels wat volhoubaarheid bepaal: Vraag en aanbod.

Eenvoudig gestel: Daar was ‘n behoefte by besoekers en inwoners na die produkte van ‘Under the Oaks’ se kraampies.

Hoekom dan die plek toemaak en wie se besluit was dit?

Die mark se organiseerders is deur Cullinan se Kamer van Koophandel laat weet dat die mark onmiddellik moet sluit. Die Kamer sê dat die besluit deur Petra Myn se Ettienne Coetzee en die Erfenisvereniging geneem is. Die perseel waarop die mark bedryf is, behoort aan die myn. John Lincoln van die Erfenisvereniging het ontken dat die vereniging betrokke was by die besluit om die mark onmiddellik te sluit. Sy vereniging het die manier waarop die uitstallers behandel is, “ten sterkste” afgekeur.

Die rede vir die sluiting? Die Kamer sê dit is nie die plan om die mark “op die lange duur” te sluit nie. Hulle gaan dit weer oopmaak, maar verder af in Oaklaan en hulle wil dan die mark bevolk met die kuns en handwerk van mense uit die onmiddellike omgewing.

Mense wat by die nuwe mark wil uitstal, sal deur die Kamer goedgekeur moet word. Klink vir ons onwaarskynlik dat plek gevind sal word vir die uitstallers wat van ‘Under the Oaks’ ‘n sukses gemaak het. Selfs al sou hulle weer toegelaat word, sou hulle teen oopmaaktyd groot inkomsteskade gely het.

Cullinan (Oaklaan se onderkant ingesluit) is deurspek met die werke van plaaslike kunstenaars en handvaardiges. Tuisprodukte, soos dié wat by die verdoemde mark aangehou is, is andersins skaars in die dorp. Die besluit maak nie vir ons logiese sin nie. Selfs al sou dit sin maak, is dit moeilik om te begryp waarom die uitstallers nie minstens die kans gegun is om aan te bly tot tyd en wyl die nuwe planne gestalte gekry het nie.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online