Print E-mail
News - Briewe
Monday, 24 November 2014 23:35
Untitled Document

Buks Barnard van Cullinan skryf:
Daar was vandag twee lelike veldbrande in ons omgewing. Die jongmanne het gesê ek sal net in die pad wees; ek moet by die huis bly en gereed wees om die vee voor die vuur te verwyder as dit nodig sou word, maar hulle kon my nie keer om die heeltyd oor die tweerigtingradio te luister hoe hulle teen die vuur baklei nie.

En toe besef ek: Wat die barbare wat ons veld so aan die brand steek nie besef nie, is dat die vuurvegtery enige gemeenskap, nie net ons nie, meer paraat maak. Dit leer ons hoe om tweerigtingradio’s doeltreffend te gebruik; hoe om op te hou om van op en af en hier en daar te praat, maar van noord, suid, oos en wes; dit leer ons mekaar en ons gebied ken; dit leer ons selfs wie met ons is en wie nie; op wie gereken kan word en op wie nie; watter van ons leierseienskappe het en watter ander bekwaamhede elkeen het.

En as die misdadigers volgende keer wil kom steel of moor, is ons veel, veel meer gereed vir hulle as wat ons sou gewees het sonder die oefening wat hulle brandstigting ons besorg het.
 

© 2020 Die/The Bronberger