Die sous was die sukkel werd PDF Print E-mail
News - Vreethans
Monday, 27 October 2014 21:51
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Soms, net soms, gebeur die verkeerde dinge om die regte rede: Met ‘n onlangse kuiertoggie kom ons drie keer voor dooie man se deur te staan, maar tog was die sous uiteindelik meer as die kool werd, kan jy maar sê. Dit het só gebeur:
Ons mik op ‘n goeie Sondag in die rigting van Bapsfontein. Met die wingerdstok langs het ons gehoor ‘n lekker plekkie met die naam van ‘Village Kitchen’ het sy deure in die nuwe, verbeterde Bapsfontein oopgemaak.

Die hoop beskaam: Dié ‘village’ se ‘kitchen’ lyk wel na ‘n lekker plekkie op die buite-oog af, maar sy deure is op ‘n Sondag totaal-en-al toe. Maar hier ís ons nou en ons besluite is ook nie in klip gekap nie: Ons sit ‘n entjie verder met die gatpad af na die legendariese ou Bapsfontein Hotel. Dié het mos na jare se verval weer uit die as uit opgestaan, het ons gehoor.

Wat ons daar kry is ‘n wonderlike stukkie opknappingswerk wat aan die baie ruim kroeg gemaak is. Die blonde kroegdame ontvang ons gul. Op ‘n vraag of ons iets te ete aldaar kan kry, sê sy: “Ja, maar net as dit tjips of biltong is.” Teen biltong het ek niks en teen ‘tjips’ het Metgesel ook niks, maar ons het iets van meer substansie in gedagte.


Die grasdakgebou wat LJ’s huisves

Ons draai die Moembaaibussie se neus weer noord en beweeg op ons spoor terug. Dié keer swenk ons links by Garstfonteinweg-verlenging.

Op die sosiale media het ons by herhaling gelees hoe die dinge nou kook by ‘Zebra’s’, oorkant die Grootfontein Landgoed se hek. Teen hierdie tyd is ons redelik honger en ons is onredelik dors. Metgesel se koffietelling grens aan gevaarlik laag.

Met die intrapslag hoor ons die tromme en ek onthou: Die sosiale media-advertensie het melding gemaak van ‘live entertainment’. Dit het ook iets gesê van ‘yummie’ kos.

Ons neem plaas by ‘n buite-tafel waar die ‘live entertainment’ se oorverdowendheid nie so alles-oorheersend is as in die binnewerke van die plek nie. En net daar het ons ‘n ongemaklike ewigheid in ons eensaamheid gesit en wonder of ons nie dalk die enigste (ongenooide) gaste by ‘n private partytjie is wat nog nie regtig begin het nie.

Net ná die orkes hulle snare en tromstokke neergesit het en net voor ons besluit om maar eerder aan te beweeg gestalte kon kry, draf ‘n vriendelik kelnerkêrel nader: Hulle het nie koffie nie, sê hy. En hulle het ook nie kos nie, sê hy. Want, vertel hy ons, die ou met die ‘koskaravaan’ het nie opgedaag nie. En hy is jammer, maar die ‘band’ is ook nou klaar, want hulle moet nou op ‘n ander plek gaan speel. Die bruisdrankie en koeldrank wat ons bestel en geniet het was koud. Dis ‘n entjie ná een en ons trek weer op ons voetspore terug: LJ’s toe.


‘n Hoender schnitzel met ‘n perfekte krummel

Sedert Karin en wyle Eddie Saffy dié kuierplek in Tierpoort baie jare gelede oopgemaak het, het dit al baie eienaars en baie name gehad. Ons was nog nie daar vandat dit LJ’s geword het nie. Maar nou is ons daar en nou is ons goed honger.

Natuurlik kan ons iets eet, sê ‘n vriendelike eienaar, Hannes. Die kombuis maak op Sondag drie-uur toe, sê Hannes en hy bring spyskaarte en skink ‘n glasie van rooi. Ons voel ons tuis. Eenkant by die kroeg sit ‘n groepie ‘locals’ en gesels. Hulle gesels ook met ons, soos dit plattelanders betaam.
Ons neem by ‘n netjiese tafeltjie plaas. Ougoed en mooigoed is oral stylvol teen die mure gehang en in die vertrek maak staan.

Die spyskaart bied nie ‘n baie groot verskeidenheid nie, maar tog is die keuses uiteenlopend en interessant. Jy kan ‘n ‘Farmhouse’ ontbyt teen R48 bestel of ‘n keuse van roosterbroodjies teen vlak minder of vlak meer as R30. Die spyskaart sê die hamburgers (hoender of bees) is ‘jumbo’. Hulle kos R48 of R50 met ‘n ietsie ekstra vir ‘n sousie, ‘n slaai of skyfies daarby.

LJ’s het ‘n afdeling vir die ‘not so hungry’ en al tel ek nie onder hulle nie, sê my binneste vir my ek moet die vis en skyfies teen R45 probeer. Ek sou later my ‘binneste’ innig dankbaar wees. Jy kan onder dié afdeling ook ‘n Frankfurter met skyfies teen R30 en nog allerlei bestel.

Metgesel sien ‘n hoender schnitzel onder die vleiskeuses raak en sy bestel hom. Hy kos R60 en kom ook saam met skyfies en ‘n slaaitjie. Jy kan hier ondermeer ook ‘n T-been en tjips teen R75 of ‘n kruisskyf (rump) met twee eiers teen R80 bestel. Die gepekelde Eisbein weeg in teen R105. Jy kan ook ‘n ‘pub lunch’ teen R60 bestel.

My stokvis is ‘n billike porsie en die skyfies is regte tjips wat self uit regte aartappels gesny is en vir my perfek voorberei is. Maar dis die sousie wat in ‘n bakkie saamkom waaroor ek gaande is.

Onbeskryflik heerlik, is dié dekadente sous. Hannes sê later hy kan nie vir my die resep gee nie, want dis Margaret van die kombuis se geheim. En sy verklap dit nie. Hy sê ook baie van sy gaste bestel die vis net vir daai sousie en ek kan verstaan hoekom.

Die twee hoender schnitzels is volgens Metgesel perfek gekrummel en baie smaaklik.

Ons is bly dat al die dooiemansdeure ons by LJ’s laat beland het. Die sous was die sukkel werd, kan jy maar sê.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online