Raaisel oor toringhuis op rif PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 27 October 2014 23:50
Untitled Document

Die toringhuis op die Bronbergrif het Vriende van die Faerie Glen Natuurreservaat die harnas in. Hulle sê dat dié vyf-verdieping residensiële huis teen alle beginsels van omgewingsbewaring indruis.

Die huis is ‘n oortreding van die omgewingsbestuursplan en die Gautengse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling (GDLLO) se beleid, sê Jaco Engelbrecht en Louise Kritzinger van Vriende van die Faerie Glen Natuurreservaat.

Die Vriende, ‘n gemeenskapsgebaseerde groep wat verbind is aan die Wild en Omgewingsvereniging van Suid-Afrika, is oorval deur klagtes toe die huis op erf 30/506 Lynnwoodrif Uitbreiding 12, vroeër vanjaar begin bou is. Met die ondersteuning van Tshwane Natuurbewaring en wyksraadslede het hulle vrae begin vra.


Die voltooide huis op die Bronbergrif, aangrensend aan die Faerie Glen Natuurreservaat
Foto’s: Louise Kritzinger

Beleid
Verskeie ekoloë het hulle vertel dat dié gebied beskerm word deur GDLLO se beleid oor ontwikkeling op die Bronbergrif. Volgens Michele Pfab, wetenskaplike koördineerder by die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsvereniging, is die Bronberg in 2009 deur Buyelwa Sonjica, minister van die Departement van Omgewingsake, as ‘n krities bedreigde ekosisteem in terme van die Nasionale Omgewingsbestuur: Biodiversiteitswet van 2004 verklaar.

Die Vriende het op 11 Februarie ‘n brief aan almal gestuur wat dalk betrokke kon wees by die goedkeuring van dié bouproses. Die televisieprogram, 50/50, het selfs in April ‘n program oor die bouery gedoen, maar steeds is dit nie stopgesit nie.

GDLLO is besig met ‘n lang tegniese ondersoek oor hoekom hulle beleid nie nagevolg is nie. Die grootste onbeantwoorde vraag is hoekom die Tshwane Metroraad en ander die bouplanne goedgekeur het.


Dié foto, wat in Februarie geneem is, wys hoe die struktuur reeds bo die bome in die
natuurreservaat uitsteek

Plan
Volgens die Vriende sou die ontwikkeling aanvanklik Saambou Sakekantore en ‘n dorpstigting gewees het. In 2001 is ‘n omgewingsbestuursplan voorberei om volgens die destydse Departement van Landbou, Bewaring, die Omgewing en Landelike Sake se beleid, vryskelding van omgewingsimpakstudiewetgewing te bekom.

Dieselfde omgewingsbestuursplan was ook nodig vir vryskelding van die omgewingsimpakstudie-wetgewing vir dorpstigting op gedeelte een van erf 506.

Die omgewingsbestuursplan dui aan dat geboue nie hoër as twee verdiepings mag wees nie en nie op die horison sigbaar moet wees nie. In Oktober 2001 is dié plan deur die departement aanvaar met verskeie voorwaardes, onder andere dat die omgewingsbestuursplan deur ‘n omgewingsbeheeroffisier afgedwing moet word..


Konstruksiewerk in Mei

Hersoneer
In September 2003 het die metroraad Lynnwoodrif Uitbreiding 12 gehersoneer na groepsbehuising. Die hersoneringsdokument dui aan dat toestemming by die Departement van Landbou, Bewaring, die Omgewing en Landelike Sake verkry moet word vir die voorgestelde ontwikkeling op die rif. Bewys van die departement se goedkeuring moet aan die omgewingsbeplanningsafdeling voorgelê word voor wysigings oorweeg sal word. Dié kennisgewing is in die Provinsiale Staatskoerant van 25 Februarie 2004 gepubliseer.

Jaco sê die Vriende verstaan nie hoe die bou van ‘n vyf-verdieping huis verby al dié regulasies kon kom nie. Hy sê dat hoë-digtheid behuising so naby aan die horison siglyn nooit goedgekeur moes word nie.
Hy sê dat die boubeheeroffisier die huis op 20 Februarie vanjaar geïnspekteer het en bevind het dat alles volgens die goedgekeurde plan verloop. Beteken dit dat die goedgekeurde plan nie die hoogtebeperking insluit nie?


Die konstruksie van die vyf-verdieping huis in Februarie. Dit was reeds duidelik dat twee verdiepings bokant die Bronberg se riflyn gaan uitsteek

Ondersoek
Jaco vra hoekom GDDLO se rifbeleid nie deur die metroraad nagevolg is nie. Hy sê dat alle argitekte waarmee die Vriende gepraat het, bewus was dat riwwe in die metroraad beskerm word.

Volgens GDLLO se woordvoerder, Andile Gumede, ondersoek die departement die saak nog en die ondersoek sal vasstel wie toestemming gegee het om die huis te bou. Hy sê die feit dat die oorspronklike ontwikkelaars gelikwideer is, maak die saak meer gekompliseerd omdat dit nie duidelik is wie die ontwikkelingsregte oorgeneem het nie.

Jaco sê dat die Saambou-kantore nie gerealiseer het nie en dat die Gift Acres-sentrum gebou is. Hy sê die oorspronklike ontwikkelaar was Enorco.

Volgens Andile kan die eienaar van die huis se naam nie bekend gemaak word nie, omdat dit deel van die ondersoek vorm.


Die boonste verdieping is bo-op die rif gebou

Klagtes
Die Vriende het ook verskeie ander klagtes oor die bouery ontvang. Bourommel van die konstruksieperseel beland diep in die reservaat en daar is gesien hoe bouwerkers rommel aspris oor die draad gooi. Daar is ook klagtes dat die konstruksiewerkers klein diertjies in die reservaat in wippe vang en eet.

Klein diere, reptiele en slange word gereeld onder die omheining vasgevang en gaan daar dood, terwyl een van die Departement van Landbou, Bewaring, die Omgewing en Landelike Sake se stipulasies was dat die omheining kleiner dierspesies moet toelaat om vrylik deur te beweeg.

Verskeie huise in dié ontwikkeling word binne een meter van die reservaat gebou, wat beteken dat Tshwane Natuurbewaring nie ‘n voorbrand-strook op die reservaatgrens kan maak nie.


Só sien besoekers aan die natuurreservaat die voltooide toringhuis bo die rif uitsteek

 

© 2019 Die/The Bronberger