Ontmoet die mense wat die Bronnie bou Print E-mail
News - Ons Mense
Wednesday, 17 September 2008 23:45
Untitled Document

Ontmoet Die Bronberger se redaksie en advertensiespan. Dié gemeenskapstydskrif is in September 2002 sonder die rugsteuning van enige publikasiegroep begin.

Van toe af word, tensy anders vermeld, alle berigte en artikels in Die Bronberger geskryf en alle foto’s geneem deur die Zwavelpoortgebaseerde Gerhard en Angie Kleijn. Dit is ook die rede hoekom die Bronnie sonder ‘bylines’ begin is. Dit is tog sinneloos om dieselfde twee name herhaaldelik onder elke berig en artikel en by elke foto te plaas.

Oor die jare het die Bronnie onafhanklike medewerkers, soos die Mooiplaats-gebaseerde Breytie Breytenbach met sy gemeenskapsveiligheid rubrieke, begin bykry. Dit is hoekom slegs dié medewerkers se name by hulle werk verskyn. Hopelik los dit ook die talle lesersnavrae op oor wie rubrieke soos ‘ou poon se plotpraatjies’ en ‘the final word’ skryf en hoekom die skrywers se name nie daarby verskyn nie. Gerhard skryf ‘ou poon’ en Angie ‘the final word’.

Jeanette Janse van Rensburg was van die Bronnie se heel eerste uitgawe betrokke by die uitleg. Met die eerste vier uitgawes het sy Thariza Steyn bygestaan, maar van 2003 het Jeanette, as Vintage Graphic Designs, die uitlegwerk in sy totaliteit oorgeneem. Dit is sy wat die advertensies en die redaksionele blaaie opmaak.

Tania Potgieter het in Januarie 2005 as onafhanklike bemarker saam aan dié gemeenskapspublikasie begin werk vanuit haar Tierpoort- kantoor. Adverteerders gaan ’n klein bietjie minder van Tania sien in Oktober– sy verwag haar en John se tweede dogtertjie aan die einde van September.

In April vanjaar het Die Bronberger sy reikgebeid uitgebrei om die Cullinan en Rayton-distrik in te sluit en in die proses advertensie- en redaksie-bydraes begin kry by Elsabé en Jack Maré. Met die Augustus-uitgawe het Marianne van Staden as onafhanklike bemarker bydraes begin maak vanuit haar Wapadrand-kantoor.

Tog sou nie een lid van dié groep bydraers iets kon uitrig as dit nie vir die volgehoue ondersteuning van die gemeenskap wat ons dien, die eiesoortige mense van die Bronberg-gebied, was nie. Vir julle sê ons dankie. Dit is danksy julle dat Die Bronberger, as onafhanklike publikasie, nou sy sesde bestaansjaar betree.


Kloksgewys van nege uur af is Gerhard Kleijn, redaksie, Marianne van Staden en Tania Potgieter aan die oorkant van die tafel, advertensies, Jeanette Janse van Rensburg, uitleg, en Angie Kleijn, redaksie.


Elsabé en Jack Maré wat advertensies en nuus in die Cullinan en Rayton-omgewing hanteer.

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2020 Die/The Bronberger