Bronbergers in kollig by Percheronfees PDF Print E-mail
News - Artikels
Monday, 27 October 2014 21:28
Untitled Document

Dit is die Percherontelersgenootskap van SA se 75ste bestaansjaar en die afsluiting van dié vieringe in die hart van die Overberg is deur die Bronberg se eie Klipkop-gebaseerde Summerwind Stoet behartig met 'n uitstalling van die Franse Percheron hings, Tennessy Cauvelliere. 

Chester Williams, voormalige Springbokrugbyspeler, het die eerste eksemplaar van die Genootskap se 75 Jaar Gedenkuitgawe van Johan van der Merwe in ontvangs geneem.

Die Wes-Kaapse Percheron veiling is in samewerking met BKB in die Santam ouditorium op Vrydag 19 September aangebied. 'n Reunperd, Montago's Davy, is aan LINE Boerdery, Ottery vir R35 000 verkoop. Twee merries van die Elsenburg Stoetery is verkoop: Elsenburg Leila vir R25 000 aan Daan du Toit van Caledon, en Elsenburg Minda vir R40 000 aan Louis Gertenbach van Mooikloof.

Die genootskap se galafunksie is op 20 September by Windmeul Kelder, Agter-Paarl gehou. Vyf Percheron pioniers, Piet Naude, Bennie Lesch, Albertus Hanekom, PJ van der Merwe en Jan September, is by die geleentheid in postuum vereer. 


Chester Williams ontvang ‘n Gedenkuitgawe van Johan van der Merwe, President Percheron SA

Geskiedenis
Die genootskap is op 26 Mei 1939 gestig en het met ‘n ledetal van 23 begin. Die genootskap is op 23 Augustus daardie jaar by die SA Stamboek geaffilieer, en toe was daar reeds 50 lede, wat die Landboukolleges Grootfontein, Glen en Elsenburg ingesluit het.

JH Bosch was die eerste voorsitter en daarna het FJ van Zyl, B Kasselman, W Naudé en D Potgieter oor die eerste drie dekades as voorsitters gedien.


Chester Williams, Tennessy Cauvelliere en  Johan Henning (sekretaris)

Piet Naudé van Overhex, buite Worcester, het dié posisie tot in 1982 beklee. Frans Badenhorst van Venterstad het hom opgevolg en was voorsitter vir 22 jaar lank, tot in 2005. Hierdie was uiters moeilike tye, onthou Lettie Kruger, wat vanaf 1963 tot vroeg in die eeu sekretariële dienste vir die genootskap gelewer het.

Toe Johan van der Merwe, kleinseun van die alombekende Albertus Hanekom van Elsenburg, die leisels oorgeneem het, is drastiese stappe gedoen om die bedryf weer op koers te kry. Daar is veral gepoog om die teel van Percherons, wat oor jare al hoe kleiner geword het, weer na normaliteit te laat terugkeer. Ook het groter bemarkingsaksies gevolg en mikroskyfies het brandmerk vir die identifisering van perde vervang.


Voorblad van die gedenkuitgawe

Jan Engelbrecht van Klipkop is vier jaar gelede tot president verkies en het die administrasie van die genootskap opgeskerp en die grondwet hersien.

Vanjaar is Johan van der Merwe van Paarl verkies as president, Louis Gertenbach van Mooikloof as vise-president, Sampie Marais van Heilbron en Lettie La Gange van Graaff-Reinet as raadslede en Johan Henning van Klipkop as sekretaris. 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online