Wilde veldbrand bedreig kinders en perde PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 27 October 2014 23:26
Untitled Document

’n Verwoestende veldbrand op Rietfontein in die Rayton-omgewing het die eerste dag van die Nasionale Perdryvereniging (Sanesa) se skole-perdrykampioenskap by Misty Meadows-perdelandgoed tot stilstand gebring.

Die brand het op Donderdag 9 Oktober rondom 2.30 nm ontstaan en is deur ’n sterk wind versprei. Ruiters en perde is na die teerpad ontruim en in die chaos het motors teen mekaar gebots en brandweerwaens gesukkel om by die hek in te kom. Tussen 500 en 2 000 mense besoek dié kampioenskappe daagliks en daar is sowat 500 deelnemers. 


Ontruimde kinders en perde langs die Ou Bronkhorstspruitpad

Brandbestryders uit die gemeenskap en drie stasies se brandweerwaens was op die toneel en het probeer om die brand te beheer, maar die vlamme het die stalle, waar die kinders gekamp het, teen
5 nm bereik. Mense het gehelp om tente en besittings te ontruim.

Johan Pieterse, woordvoerder van die nooddienste in Pretoria, het gesê geen mense of perde is volgens hul inligting beseer nie en geen strukture het afgebrand nie. Gemeenskapslede het berig dat drie beeste doodgebrand het.


Die perde moes inderhaas na veiligheid geneem word
Foto: Theana Breugem

Die kampioenskappe het die volgende dag voortgegaan. Volgens ruiter, Anneke Roodt, moet alle ruiters, stalknegte, ouers, ondersteuningspanne en die Misty Meadows-span geluk gewens word dat hulle die situasie so goed hanteer het. Sy sê dit is verstommend hoe goed die kinders hulle perde hanteer het en hoe gehoorsaam die perde was.

Volgens Anneke het die spanleiers beheer oorgeneem en hulle spanne uit gevaar gelei. Adriaan en Rika van Vuuren, eienaars van Misty Meadows, beaam dié feit. “Ons het gesien hoe mense die probleem dadelik verstaan en as ‘n span saamwerk.”


Die gemeenskap het ingespring om te help vuurveg
Foto: Theana Breugem

Hulle sê dat hulle met dié onverwagte uitdaging besef het wat alles vermag kan word as ‘n gemeenskap en ‘n span mense saamwerk om ‘n krisis te hanteer.

 

© 2019 Die/The Bronberger