Kapings neem toe in gebied PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 27 October 2014 23:22
Untitled Document

Kapings in die groter Bronberg-gebied neem toe. Gemeenskapsveiligheidsgroepe het die afgelope maand kapings by Zonkolol, Rayton en op die Ou Bronkhorstspruitpad aangemeld.

Zonkolol
Johan Smith is Saterdagaand 4 Oktober by sy Zonkolol-plot se plaashek gekaap en later by Ekangala uit die bakkie gegooi. Hy is ongedeerd maar die Ford bakkie is weg.

Sy huismense het onraad vermoed toe hy nie by die huis opdaag nie en het na hom gaan soek. Hulle het sy selfoon en bankkaart by die hek gekry en ‘n soektog op tou gesit. Van die boere wat help soek het, het Johan langs die pad by Ekangala gekry en hom polisiestasie toe geneem.

Johan sê dat ‘n voertuig hom agtervolg het, vermoedelik vanaf die vierrigtingstop van die Rayton/Cullinanpad en die Ou Bronkhorstspruitpad. Toe die voertuig agter hom by die plaaspad indraai, het hy gedink dit was bure en het soos gewoonlik by die plaashek uitgeklim.

‘n Wapen is teen sy kop gedruk en drie van die boewe het hom oorval. In dié proses het sy selfoon en bankkaart uit sy sak geval. Hulle het sy hande vasgebind, hom by die agtersitplek ingedwing en sy kop agter die voorste sitplek ingedruk.

Terwyl hulle gery het, het die een ’n oproep gemaak en gesê dat hulle die ‘parcel’ (vermoedelik die spesifieke Ford bakkie) gekry het. Duur nagsig-toerusting, wat Johan met plaaspatrollies gebruik het, was ook in die bakkie.


Corrie van Jaarsveldt van Rayton

Welbekend
Net soos Johan, is oom Jordaan van plot 14 Rietfontein, in die Welbekend-distrik by sy hek aangeval. Hy is op 9 Oktober om 6 vm oorval toe hy sy hek gaan oopsluit het. Daar was vyf rowers waarvan twee gewapen was. Die bejaarde oom en tannie is oor die kop geslaan. Drie wapens is gesteel; niks anders nie.

Rayton
Corrie van Jaarsveldt (64) van Rayton is laat in September op die Nooitgedachtpad in die been geskiet en beroof.

Corrie, ’n radiobeheerder van die plaas­like gemeenskapspolisiërings­forum, was op pad huis toe van die bank, waar sy glo ’n groot bedrag kontant getrek het. Sy is klaarblyklik agtervolg en vier gewapende mans in ’n grys Volkswagen Polo het haar motor van die pad gedruk.

Haar man, Barry, sê dat Corrie op die R515 was toe sy gesien het dat ’n kar van agter op haar afjaag. Die kar het dwars voor haar gestop en die rowers het die deure oopgepluk en gedreig om haar dogter, Clarissa (24), te skiet.

Die rowers het met ’n banksak met duisende rande daarin, asook Corrie en Clarissa se handsakke, gevlug.

Corrie is aanvanklik in die waaksaal van die Zuid-Afrikaans-hospitaal opgeneem en moes ’n operasie vir ’n bloedklont wat deur die koeëlwond veroorsaak is, ondergaan.


Wees versigtig as jy by ‘n verkeerslig of stopstraat moet stilhou

R104
‘n Man is op Woensdag 24 September by die verkeerslig by Hans Strijdomrylaan (Solomon Mahlangu) se kruising met die Ou Bronkhorstspruitpad gekaap. Hy is geslaan, sy selfoon, geld en bankkaart is gesteel en die boewe het met dié kaart gaan geld trek.

Agt rowers het by die voertuig ingespring toe hy by die verkeerslig gestop het. Die man is getraumatiseer, maar nie erg beseer nie.

Dieselfde modus operandi, soos in Julie vanjaar toe Gerrie Dippenaar daar naby van die Ou Bronkhorstspruitpad afgetrek het en aangerand is, is gevolg. Gerrie is met ‘n pistool in die gesig begroet en moes saam met die man in sy bakkie na ’n bosagtige gebied ry waar 17 ander mans hom ingewag het, aangerand het, vasgebind het en sy bankbesonderhede gevra het.

Christoffel Engelbrecht van Rayton is dieselfde week in Julie by die bosse langs die ou Bronkhorstspruitpad, wes van die Sammy Marks-museum, gekaap.

Raad
Kenners sê dat alle voertuigfabrikate van tyd tot tyd op die kapers se lys is. Nuwe voertuie word soms op bestelling gekaap en ouer voertuie vir onderdele.

Kapings gebeur baie keer by die huis. Maak seker dat niemand agter struike, mure of in bome naby jou hek skuil nie.

In baie gevalle kan motorkapings verhoed word as die bestuurder oplettend is. Wees op die uitkyk vir verdagte voertuie en mense as jy by ‘n stopstraat of verkeerslig moet stop. Kyk gereeld of ‘n voertuig jou nie volg nie en indien wel, ry na die naaste polisiestasie.

Probeer om nooit by ‘n verlate plek geld te trek nie en maak seker dat niemand jou dophou wanneer jy geld trek nie.

 

© 2019 Die/The Bronberger