Hanteer hom baie versigtig PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 27 October 2014 23:21
Untitled Document

As jy dié boompie nie versigtig hanteer nie, sal jy die gevolge dra. So waarsku sy naam, vuurdoring. Die struik, of klein boompie wat tot vier meter hoog kan word, staan ook as die branddoring, baster-pendoring of valspendoring bekend.


Die vuurdoring word tot vier meter hoog
Foto: Joan Young

Die vuurdoring, Putterlickia pyracantha, is bekend daarvoor dat hy bye, vlinders, insekte en voëls na tuine lok. Min mense weet egter van die nuwe navorsing wat oor dié boompie gedoen is. Dit wys dat hy ‘n breë spektrum kankerbevegtende middel, genaamd ‘maytansine’, wat blykbaar DNS sintese inhibeer, bevat.


Só lyk die oopgebreekte vrugte
Foto: vynbos

Dié boompie is gewild onder tuiniers omdat sy glansige donkergroen blare ‘n rooi of wynrooi skynsel het, wat hom ‘n goeie kontrasplant maak. Hy is veelstammig en die bas is ‘n gladde gryserige bruin, terwyl die jong takke rooierig tot pers-bruin vertoon.

Die vuurdoring dra van November tot Januarie klein roomkleurige tot wit blommetjies, wat deur suurlemoen-geel of rooierige vruggies gevolg word.


Die blommetjies
Foto: Kumbula

Omdat dié boom sulke gevaarlike dorings het, maak hy ‘n veilige nesbouplek vir voëltjies, veral vir dié wat deur die vrugte nader gelok word. Hy maak ook ‘n ondeurdringbare veiligheidsheining en word deesdae gereeld in natuurtuine of ‘wilde’ tuine aangeplant.


Die vuurdoring se vrugte
Foto: Joan Young

Plant die vuurdoring in goed gedreineerde grond met kompos en ‘n goeie deklaag. Verdere toedienings van kompos of organiese kunsmis sal hom vinniger laat groei. Jy kan hom in die son of semi-skadu plant en met gereelde snoeiwerk sal hy ‘n digte vorm behou.

 

© 2019 Die/The Bronberger