Afrika se grootste misgeboorte PDF Print E-mail
News - Kommentaar
Monday, 27 October 2014 21:15
Untitled Document

Na wie, of wat kan die vinger werklik gewys word oor die misgeboorte van ‘Afrika se grootste musiekfees’?

Dat groot skade (geldelik en reputasiegewys) deur ‘n aantal rolspelers gely is, staan voor geen twyfel nie. Miskien die hartseerste van die hele aborsie, is dat die inspuiting (finansieel en infrastruktuurgewys) wat die fees belowe het om vir die plattelandse gebied en sy mense te bring, uiteindelik net ‘n windeier was.

Beskuldigings en verskonings is heen en weer geslinger oor die Tribe One Fees net ‘n week voor die afskopdatum, sonder seremonie gekanselleer is. Beskuldigings en verskonings wat vir ons nie almal lekker sin maak nie.

Vir die metroraad van Tshwane het dit R65 miljoen in die water beteken. Verskoning, dit moet eintlik lees: Vir die belastingbetaler van die gebied (ek en jy) het dit R65 miljoen in die water beteken.

Die organiseerders, Rockstar 4000 en Sony Music, sê die fees is afgelas omdat die raad nie die infrastruktuur op die beoogde terrein buite Cullinan gereed gehad het nie.

Die raad sê bog, die terrein was gereed, maar in dieselfde asem maak die raad ‘n ontstigtende verskoning oor die terrein nie betyds gereed was nie. Hulle, sê die raad, het nie geweet bykans helfte van die terreingrond behoort nie aan hulle nie, maar aan die myn. ‘n Mens wil dadelik in stomme verbasing vra: Kan dit moontlik wees? As ‘n mens na ander gevalle in hierdie raad se rekord gaan kyk, is die antwoord ongelukkig: Ja, dit kan. As jy gaan kyk na die verlate ‘terrein’ is die ander vraag wat met reg gevra kan word: Op wat (of is dit wie?) het die raad R40 miljoen hier uitgegee?

Die organiseerders, aan die ander kant, het van meet af aan gespog dat ‘Afrika se grootste musiekfees’ 100 000 feesgangers gaan lok. Die feit dat net 4 000 kaartjies (hulle het belowe om die kaartjiehouers se geld terug te gee) ‘n enkele week voor die grootse gebeurtenis verkoop is laat nog vrae ontstaan:
Het die oorsese en ander kunstenaars wat ten duurste vir die fees bespreek het, werklik in die smaak van die tradisionele musiekfeesgangers van die land geval?

Sou die werklike rede vir die aflasting van ‘Afrika se grootste musiekfees’ nie bloot ‘n gebrek aan belangstelling wees nie?

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online