Ou vriend opgespoor PDF Print E-mail
News - Briewe
Monday, 27 October 2014 21:11
Untitled Document

Ek het per toeval ‘n ou Bronberger opgetel. Dit was die tiende gedenkuitgawe gewees. Het dit nogal geniet, maar toe begin ek sukkel om die volgende een te kry. Op laas het ek julle geskakel en julle het gesê die naaste aflaaipunt aan my was Padlangs, maar hier was ek ongelukkig. Het elke keer daar aangekom nadat die laaste een geneem is.

En toe is ek gelukkig om die September-uitgawe te kry en glo dit as jy wil, ek loop in dié uitgawe ook twee ou bekendes raak. Bekendes wat ek al amper vergeet het, maar wie ek nou weer gaan probeer kontak.

Die eerste is my ou vriend Francois Breytenbach. Kan nog goed onthou toe hy nog verteenwoordiger was vir ‘n groot maatskappy hier in Pretoria. Kan ook onthou as hy by my aangekom het, het hy reguit na die koffiemasjien gestap, twee koppies koffie gemaak en my dan na my kantoor geroep en dan het hy my sy lys van spesiale aanbiedings gewys en ek kon besluit wat ek wou hê en hy het dan ‘n bestelling uitgeskryf en ek het geteken.

Eers daarna het ons gekuier. Francois het my vertel dat hy nou behoorlik moeg was vir hierdie ‘rat race’ want hy is mos nie ‘n rot nie. So het dit vir etlike maande aangegaan tot Francois weer een oggend ingestap het en nadat ons sy lys deurgegaan het, het Francois terug geleun en toe sê hy vir my hy is nou klaar, hy hardloop nie meer saam nie. Die rotte kan nou maar hulle wedren vat en daarmee maak net wat hulle wil.

Vra toe vir hom wat hy nou gaan doen en sy antwoord het die wind so ‘n effe uit my seile geneem. Hy het gesê hy gaan dinge nou stadiger vat sodat hy die blomme kan ruik. Wou toe weet as hy die blomme gaan ruik, waarvan leef ‘n mens en sy antwoord was dat hy maar sal sien.

‘n Paar maande later was ek genoodsaak om vir Francois te gaan opsoek. Ek wou tegniese inligting by hom kry. Ek het gehoor hy werk vanaf ‘n plaaswinkel buite Pretoria en was gelukkig genoeg om hom op te spoor.

Die eerste oggend toe ek daar aankom was net sy vrou daar en toe ek haar vra waar Francois is, het sy gesê sy sal my sê, maar ek moet belowe ek sal nie lag nie. Natuurlik het ek belowe. Sy het toe vir my gesê: “Hy het gaan blomme ruik.”

Eers het ek gedink sy spot, maar kom toe agter sy is ernstig. Sy het my ‘n koppie koffie aangebied en ek het aangeneem. Dit was eers nadat ek die koffie klaar gedrink het, dat ek besef het in al die tyd wat ons mekaar ken, was dit die eerste koppie koffie wat op Francois se rekening geplaas word.

Hoor toe ‘n motorfiets voor die winkel. Francois en sy Scrambler. Geen valhelm en geen skoene en ‘n hempie so dun, jy kan amper sê geen hempie. Toe ek hom vra of hy nie bang is hy kry longontsteking nie, het hy gesê jy kan nie die blomme ruik met ‘n valhelm op jou kop en ‘n woljas om jou lyf nie.

Hy vat my toe na sy werkswinkel en wys my wat hy daar doen. Hy gebruik ‘n dikkerige koperdraad en dié word dan platgeslaan. Op die twee punte word daar hakies ingevyl; die platgeslaande draad word gekrul sodat hy ‘n armband vorm; en ‘n fabrikaatsnommer word ingeslaan. Hy doen net met boetieks besigheid en hy kan nie voorbly om te voorsien in die aanvraag nie.

Ek tel toe een van die koperdraad armbandjies op met die idee om ‘n ou vriend te ondersteun. ‘n Geskenk vir die baas. Vra hom toe wat dit kos. Hy sê vir my die prys is op die kaartjie. Ek het gedink dit is die fabrieksnommer, want daar was baie nommers. Toe dit tot my deurdring wat die koperdraadjie kos, het ek hom uiters versigtig neergesit. Dit was duidelik dat hierdie ou in ‘n week meer geld maak as wat ek in ‘n maand bymekaar kon skraap. En dan het hy nog tyd om die blomme te gaan ruik.

Met dank aan Die Bronberger gaan ek nou weer poog om ‘n ou kennis te gaan opsoek.

 

© 2019 Die/The Bronberger