Met dié terugblik oor ‘n dosyn toeka-stories wat in ons 12 jaar die lig gesien het, onthou ons weer die Slag van Witpoort, perde se hartseer lot en vrouens in veldslae. Ons kyk ook terug na karakters soos Pretoria se bekendste boemelaar, die wilde Boer, baas-spioen Johanna en die Swart Luiperd.
Slag van Witpoort
In Mei 2003 vertel ons dat die klipverskansings wat vandag nog op die Bronbergrif vanaf Zwavelpoort en Tierpoort tot by Witpoort staan, almal in die oploop tot die eendaagse veldslag van Witpoort op 16 Julie 1900, gebruik is.
Ná die slag van Diamond Hill, van 11 tot 13 Junie, het die Boere ooswaarts langs die Delagoabaai spoorlyn onder leiding van generaal Louis Botha beweeg. Hulle het by Balmoral, net buite Bronkhorstspruit, hergroepeer en begin terugbeweeg na Pretoria.
Op 10 Julie het generaal French met 7 500 kakies die Boere al langs die Bronberg aangeval. Hulle het net na 1 nm op Witpoort aangekom, toe die Boere afbeweeg het na die Elandsrivierstasie.
In die nag van 15 Julie het generaal Ben Viljoen se kommando, onder skuiling van die mis wat in dié winternag van die spruit, wat deur die poort loop, opgestyg het, nader beweeg aan die oostelike Britse stellings by die poort van Witpoort.
Teen dagbreek het hulle uit drie verskillende rigtings ‘n aanval op die Britse posisies op die heuwel begin. Die Boere kon tot reg bo-op die heuwel, waar die Britte agter hulle verskansings geskuil het, kom en net een man – Willem Morkel du Toit – is doodgeskiet.
In dié hele veldslag is net twee Boere doodgeskiet en sewe gewond. Voor die Kanadese se teenaanval vanaf die suide van die rif het Ben Viljoen se magte so naby aan majoor Munn se posisie gekom dat hulle herhaaldelik na hom geroep het om oor te gee.
Tog, teen 2 uur daardie middag het majoor-generaal Hutton al sy beskikbare troepe in daardie rigting beweeg en teen sononder was die slag van Witpoort verby en die Boere na Bronkhorstspruit verdryf.
Hulle is verneuk
Hans en Hannie van Staden het die plaas Onbekend in 1924 gekoop. In Junie 2004 het ons vir die eerste keer by hulle dogter, Willa Dreyer, wat toe 86 jaar oud was, gaan kuier.
Volgens tannie Willa is haar familie uit hulle regmatige rykdom verneuk. Haar pa Hans was ses jaar oud toe hy gesien het hoe die hoofgoudrif aan die Witwatersrand in 1886 ontdek is op sy oupa, Gerhardus Cornelis Oosthuizen, se plaas Langlaagte. Die feit dat die goud daar ontdek is deur sy skoonseun, Hermanus Johannes van Staden, was vir jare lank onbekend. Daar is geglo dat Peter Bernardus de Ville dié goud ontdek het.
Die Paarlse Sindikaat het die plaas van Gerhardus Cornelis Oosthuizen vir £6 000 gekoop en de Ville was een van die mans wat namens die sindikaat sake gedoen het. Die sindikaat het vir oupa Oosthuizen ’n pragtige Bybel, versier met egte goud wat uit die plaas gehaal is, gegee. Selfs dié goud het hulle verloor toe oupa ’n tweede keer met ’n Bester-vrou, wat na sy dood vort is met die Bybel, getrou het.
Perde se treurige lot
Daar is meer as 450 000 Britse perde, na raming een perd elke 31 myl, in die Engelse Oorlog dood, vertel ons in Julie 2005.
Na die val van Pretoria op 5 Junie 1900, was daar net 196 werkende Britse perde oor, maar hulle het aan erge uitputting gelei. Vroeg in Junie het die Britse regimente 556 vars Hongaarse perde – die sogenaamde ‘remounts’ – gekry en is met dié perde agter die Boeremagte aan.
In twee dae se trek van 20 myl ‘n dag na Donkerhoek, is 31 van die Hongaarse perde dood, 20 is langs die pad gelos en 72 na ‘n veldhospitaal vir perde gestuur. Die Britse troepe het drie perde per myl afgeskryf.
Na die slag van Donkerhoek, het die Britte die Boere in ‘n oostelike rigting agterna gesit. In die trek van 120 myl is 64 van die Hongaarse perde dood en 130 afgeskryf. In Januarie 1901 het hulle 406 nuwe Noord-Amerikaanse perde gekry.
Op 9 November 1901 is die laaste oorspronklike Britse troepperd in aksie doodgeskiet. Teen die laaste maande van die oorlog is 3 061 nuwe perde slagveld toe gestuur en op 30 Junie 1902 was daar net 540 van hulle oor.
Die Britte het blykbaar slegs 222 perde in die veld buit gemaak.
|
In Maart 2006 vertel ons dat Graaf de Villebois Mareuil een van die bekendste Fransmanne was wat hierheen gekom het om teen die Britte te veg. Die rede daarvoor was blykbaar ‘n kombinasie van sy bewondering vir die Boere en sy haat vir die Britte.
De Villebois Mareuil was van die begin af deel van die Engelse Oorlog. In 1899 is hy benoem as militêre adviseur tot die kommandant-generaal van die Transvaal. In Februarie 1900 het hy toestemming gekry om ‘n Vreemdelingelegioen saam te stel wat saam met die Boere geveg het.
De Villebois Mareuil het die enigste buitelander geword wat ooit in die oorlog bevorder is tot die rang van veggeneraal deur Presidente Steyn en Kruger.
Op 5 April 1900 is dié Vreemdelingelegioen by Tweefontein in die Boshof-distrik, 53 km oos van Kimberley, deur die Britse Generaal Methuen oorwin. De Villebois Mareuil het saam met ses van sy manne gesneuwel. Hy is in die Boshof begraafplaas begrawe, maar sy oorskot is in 1971 by die militêre begraafplaas by Magersfontein herbegrawe. |
|
Ou Moes se voorliefde vir drank en mooi meisies het hom op ’n jong ouderdom reeds die afdraande pad laat loop. In Augustus 2007 vertel ons die verhaal van Paul August Moes, ou Pretoria se bekendste boemelaar.
Moes is in die Wes-Indiese eilande as die erfgenaam van ’n sigaarfabriek, wat hy amper weggedrink het, gebore. Sy familie het hom weggestuur na Suid-Afrika waar hy as tolk ingespan is. Hy was Nederlands, Duits, Frans, Engels en ’n bietjie Spaans magtig.
Met die afsterwe van ’n drinkebroer het die skilder Hendrik Pierneef vir Ou Moes gevra of hy besef dat sy vriend dood is van te veel drink. Ou Moes se kommentaar was: “Ga, dat heb’t je nu van amateurs!”
Later het dit so sleg met die verslete Ou Moes gegaan dat hy snags in ’n leë klavierkas geslaap het. Op die vraag of die muskiete hom nie te veel pla nie, het hy gesê: “Nee, nooit. Jy sien, in die eerste helfte van die nag is ek te dronk, en in die tweede helfte van die nag is hulle te dronk.” |
|
In Januarie 2008 het ons terug gekyk na die doen en late van dié langste man in Pretoria. In die middel tot laat 1800’s het Lang Piet Marais, ’n oom van die digter Eugene Marais, se naam voortdurend in die koerante verskyn. Hy was een van die veroordeeldes wat met die burgeroorlog in 1863 bedags in die blok, wat in die koelte van ’n groot seringboom agter die Goewermentsgebou gestaan het, opgesluit is. Hy het die lang ure van die dag verkort met sy vioolspel. Lang Piet het in ’n Volksraadsverkiesing met vyf stemme verloor; ’n mynmaatskappy gestig en direkteur van die Lydenburg Gold Prospecting Co en aandeelhouer in Transvaal Mining geword. |
Skrywer se geheim
Generasies skoolkinders het Henry Rider Haggard as avontuurskrywer van boeke soos ‘King Solomon’s mines’ en ‘She’ leer ken. Ander ken hom uit die geskiedenisboeke as Britse koloniale amptenaar en landbouhervormer. ’n Minder bekende feit is dat Henry, toe hy in die 1870’s Pretoria toe gekom het, ’n buite-egtelike babadogtertjie in Kerkstraat se begraafplaas agtergelaat het.
In April 2009 vertel ons dat dié dogtertjie nie eers twee maande oud geword het nie en dat haar graffie vandag nog in die geskiedkundige ou begraafplaas in Kerkstraat gesien kan word. Henry het dié graffie meer as dertig jaar later opgesoek toe hy as Sir H Rider Haggard weer Pretoria toe gekom het.
Henry en sy vriend, Arthur Cochrane, het ’n erf in die buitewyke van Pretoria gekoop en daar vir hulle ’n sinkdakhuisie, bestaande uit twee kamers en ’n kombuis, gebou wat hulle spottenderwys “The Palatial” gedoop het. Dié huis het later as Jess’s Cottage, na aanleiding van Henry se boek ‘Jess’, bekend gestaan. Maar nee, ‘Jess’ was nie die ma van Henry se dogtertjie nie. Blykbaar was Jess Eugène Marias se suster, Gezina Constantia Marais, wat later met Rex getroud is.
Die ma van Henry se dogtertjie was glo ’n getroude vrou, Johanna Catharina, ’n nooi Lehmkuhl, wat met Lewis Peter Ford getroud was. Ethel Rider Ford is op 16 September 1879 gebore en is in die St Alban’s Anglikaanse Kerk in Pretoria op 25 Oktober 1879 gedoop. Die twee getuies wat by die doop geteken het was Henry Rider Haggard en sy vriend Arthur Cochrane. Ethel is op 5 November 1879 oorlede.
Vrouens in veldslae
In Julie 2010 vertel ons van die vrouens wat in die Engelse Oorlog saam met hulle mans in die loopgrawe geveg het, dié wat daar gesneuwel het en die wat saam is na krygsgevangenekampe.
Daar was ‘n verskeidenheid vrouevegters-in-rokke, soos Sarah Raal, wat by ’n korporaalskap van 20 mans aangesluit het en help skiet het. Baie vrouens het egter besluit om as ‘mans’ slagveld toe te gaan. Helena Herbst Wagner van Zeerust het vir vyf maande in die laers en loopgrawe geleef voor daar uitgevind is dat sy ’n vrou is. In sommige gevalle is daar eers weke ná die vroue in die tronk gesit is of nadat hulle gesneuwel het, ontdek dat hulle nie mans is nie.
In die begin van die oorlog was dit nie ongewoon dat vrouens hulle mans slagveld toe vergesel het nie. Kommandant-generaal Piet Joubert het die voorbeeld gestel toe hy sy vrou, Hendrina, op kommando saamgeneem het. Na die slag van Paardeberg in Februarie 1900, toe daar 50 vrouens en kinders in Piet Cronje se laer was, het generaal Christiaan de Wet vrouens verbied om hul mans front toe te volg.
Toe Louis Botha kommandant-generaal van die weermag word, het hy ’n bevel uitgereik dat vrouens nie eers toegelaat moet word om die laers te besoek nie. Ironies genoeg was sy wederhelfte, wie se foto hier verskyn – Annie, ’n nooi Emmet – een van die vrouens wat heldhaftige pogings aangewend het om die kommando’s te besoek om hulle te bemoedig.
Baas-spioen Johanna
In November 2011 vertel ons dat niemand vermoed het dat Johanna Brandt en haar ma die Engelse Oorlog se suksesvolste spioenasie-ring vlak onder die Britte se neuse bedryf het nie. Spioen, siener, sieketrooster en skrywer, Johanna Brandt, was een van die min oorlogstydse geheime diens-werkers wat nooit uitgevang is nie.
Die spioenasiering is op Johanna se ma, die weduwee Maria van Warmelo, se Pretoria-plot, Harmonie, waar die Normaalkollege se koshuise later gebou is, gestig. Dié plot was omring deur Britse troepe en Lord Kitchener, Lord Roberts en die hertog van Westminster se hoofkwartiere was ‘n klipgooi ver.
‘n Tydverdryf om die Britte te uitoorlê en ongesensorde briewe na Johanna se suster in die Kaap en haar verloofde, Ernst, in Nederland te stuur, het vinnig tot ‘n spioenasie-ring gegroei.
Eers is briewe in porseleinpoppe se lywe of vals bodems in geskenkkassies en sigarethouers weggesteek. Later het hulle wit koeverte versigtig oopgestoom en ‘n brief in suurlemoensap aan die binnekant van die koevert geskryf. Die koevert is dan weer aanmekaargeplak, en ‘n onskuldige brief is daarin geplaas. Die onsigbare brief sou sigbaar word as jy met ‘n warm yster daaroor stryk. Paul Kruger, wat toe in Holland was, het só inligting oor wat in Pretoria aangaan, gekry.
Maria en Johanna het ook gehelp om jong mans uit Pretoria te smokkel om by die kommando’s aan te sluit. Hulle witkoevert-briewe het inligting oor Britse troepe-bewegings en ammunisie aan die kommando’s besorg.
Rudolph se troetel-leeu
In Desember 2012 vertel ons dat die storie van Rudolph Gustavus Coetsee en Oubaas die leeu destyds soveel opspraak verwek het dat selfs Eugène Marais ‘n artikel oor hulle geskryf het.
Rudolph was ‘n prokureur en ons storie speel af toe hy en sy gesin op Cullinan gewoon het. Hy was die eerste private persoon in die land wat ‘n rolprentkamera en projektor besit het en Rudolph het films gemaak wat hy gratis by skole vertoon het.
Met een van die jagtogte wat Rudolph onderneem het, het ‘n leeuwyfie ‘n swart man gevang en hulle moes die wyfie bo-op die man doodskiet. Sy het welpies gehad en Rudolph het die mannetjie gevat, hom Oubaas gedoop, mak grootgemaak en ‘n film, ‘Logogotu’, oor Oubaas se lewe gemaak.
Die dag toe Oubaas een van die myn se trekmuile beetgekry het, was die gort gaar. Oubaas moes dieretuin toe, maar hy moes daar afgelewer word. Die eerste probeerslag met ‘n motorfiets en sy-waentjie het nie gewerk nie en die Coetsees het Oubaas in hulle Oldsmobile gelaai.
Vir jare het Rudolph altyd in Oubaas se dieretuinhok gaan sit as hy vir sy sake moes voorberei en dan het die leeu tjoepstil met sy groot ou kop op die prokureur se skoot gelê.
Oubaas het twintig jaar oud geword en Rudolph het ‘n kiekie van Oubaas tot die dag van sy dood, op 9 Januarie 1977, in sy beursie rondgedra.
‘Swart luiperd’ sink Kitchener
‘Swart Luiperd’ was die kode-naam van ‘n sjarmante spioen wat Lord Kitchener, die argitek van konsentrasiekampe en die verskroeide aarde-beleid, se dood veroorsaak het.
Hy was ‘n Boeresoldaat, krygsgevangene, grootwildjagter, joernalis, oorlogskorrespondent, makelaar, saboteur, avonturier en was baie gewild onder die vroue. Hy kon sewe tale praat en het ook bekend gestaan as: Boris Zakrevsky, kaptein Claude Stoughton, Frederick Fredericks, majoor Frederick Craven, kolonel Beza, Piet Niacud en het die kodenaam Dunn onder Duitsers gehad.
Sy regte naam was Frederick (Fritz) Joubert Duquesne, gebore op 21 September 1877. In Januarie 2013 vertel ons dat Fritz by sy oom, generaal Piet Joubert, se kommando aangesluit het toe die Engelse Oorlog in Oktober 1899 uitbreek het. In dié oorlog het Fritz se merkwaardige ontsnappingsvermoë vir die eerste keer na vore begin kom. Hy het deur sy lewe uit interneringskampe en tronke dwarsoor die wêreld ontsnap, baie keer met die hulp van vroue.
Dit is in die Engelse Oorlog, toe hy ‘n draai op sy familie-plaas naby Nylstroom gaan maak het, en uitgevind het dat die plaas afgebrand is, sy suster verkrag en vermoor is en sy ma sterwend in ‘n konsentrasiekamp in Germiston was, wat Fritz homself belowe het dat hy die man wat dié verskroeide aardebeleid ingestel het, Lord Kitchener, eendag sal laat betaal. Dit het hom 15 jaar geneem om reg te kry.
Koos praat Europa plat
In Maart 2014 vertel ons die verhaal van ‘n eksentrieke man wat waarskynlik een van die kranigste grootpraters was wat die wêreld nog gesien het. Koos Jooste se grootpratery het vir hom groot sukses in Duitsland gebring. Natuurlik was die meeste van sy stories op die waarheid gegrond, maar vir sommige van die stories wat dié kampioen-fietsryer in Europa kwytgeraak het, was net sy eie weergawe bekend.
Hy het vir dekades ná die Engelse Oorlog nog as sogenaamde Boere-kommandant in Europa ‘n bestaan uit praatjies, poskaarte en blaadjies gemaak. Hy het meer as 8 000 lesings gelewer en die meeste van sy self-gepubliseerde traktaatjies en poskaarte wys hom in allerhande heldhaftige posisies in die oorlog. Sommige van hulle het ook sy handtekening op gehad.
Net voor die Engelse Oorlog het Koos en sy groot vriend, die Krugersdorpse prokureur Danie Theron, vir generaal Piet Joubert met die plan om ‘n fietsryerskorps te begin, genader. Die wielryerskorps is op die been gebring en Danie het later die kapteinskap daarvan aan Koos oorgedra.
Koos se eenheid is in Mei 1900 in Pretoria ontbind en hy het op 26 Mei, tien dae voor Lord Roberts Pretoria binnegeval het, die dorp verlaat en na Europa gevlug. In Europa het Koos eers in Holland en daarna in Duitsland getoer, aanvanklik om fondse vir die Boere in te samel, en later vir die weduwees en weeskinders wat in die oorlog agtergelaat is. Vyf-en-veertig jaar later was Koos steeds in Duitsland. |