Lankalse verlanggoed PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Thursday, 25 September 2014 16:56
Untitled Document

Hulle sê ek moet ‘n ‘samestelling’ van ou plotpraatjies uit die Bronnie se 12 jare op hierdie ou ondermaanse maak. Maar selfs dié lywige verjaardag-uitgawe sou nie die nodige plek daarvoor hê nie. Toe loop haal ek maar weer lankalse verlang-goed uit die Bronnie se tweede uitgawe van sy heel eerste jaar:

Ou Oompie Botha en sy vrou, tannie Oompie, was toentertyd die trotse eienaars van ‘n regte ou plaaswinkel, genaamd ‘General Dealer & Post Office’.

Op ‘n groot tuisgeboude advertensiebord, neffens die bruin Boxer Tabak-prentjie, het in groot pienk letters gepryk: ‘Probeer ons vir Grouseries’. Die wat onthou, sê daardie letters was donkiejare gelede bloedrooi.

Voor die afgetrapte sementstêppies van die rooigepoetste winkelstoep het drie handpompe getoring: Een vir petrol, een vir kragparaffien en een vir gewone paraffien. Op die kruin van elke pomptoring was ‘n vurige, vlieënde blikperd wat met uitgespande vlerke skuins die hemele binnemik. Onder die opstygende perd was twee langwerpige glassilinders. En as ou Kierie die handslinger met reëlmatige ritme heen-en-weer werk, loop die twee silinders om die beurt vol-en-leeg, vol-en-leeg, om dit dan elke keer met ‘n musikale ‘pienngg’ aan te kondig as een van die glashouers sy versadigpunt bereik.

Rondom die dieselpomp is ‘n swart olierige sirkel op die rooibruin klippiesgrond geverf en dit het daardie reuk wat soos niks anders in die wêreld ruik nie. Oompie-hulle se winkel binne het geruik op blouseep met smakies van twak, leer, lampolie, meel en materiaalstof daarby ingemeng.

Op die breë, donkerhout toonbank (die kounter, het Oompie dit genoem) langs die gietyster kasregister, staan ‘n ry boepensbottels – elk gevul met sy eiesoortige, soet bekoring. Kinderhemel. Jy kon kies uit die veelkleurige ‘niekerbôls’, die rooiwang appelkooslekkers, hartjieswiets met boodskappies op, ‘n opgerolde string drop – ook bekend as ‘liekeries’ – of die blinkbleek skilfers van die suikersuur ‘swiets’ wat sonder skroom k…..blits genoem is. Dis by die vuisvol in ‘n bruinpapierkardoesie gegooi en dan vir die geldskade op ‘n staanskaaltjie gemeet.

Die droë bestanddele het in stewige, skewekop blikhouers teen een muur gestaan. Met ‘n blikskop is die meel, rys, suiker, koring en die kaboe- of stampmielies geskep en gemeet. Jy het ‘n sekere bedrag per skoppie betaal.

Op daardie einste ‘houtkounter’ was ‘n koper maatstok vasgeskroef. Langs dié maatstok af kon tannie Oompie ‘n rol materiaal met ‘n moeitelose gewrigaksie afrol en meet om die verlangde hoeveelheid ‘jaartse’ te bepaal. Dan het sy dit met ‘n groot skêr met swart ore van die moederrol afgeswiep. Jy kan dit nie afknip noem nie, want tannie Oompie het die materiaal net so tussen die twee skêrlemme vasgeknyp en dit dan met een beweging afgestreep. Loodreguit.

Van die dakbalke af het rieme, swepe, tooms, halters en saals, fietswiele en fietsrame en ‘n ploegskaar of drie gehang. Maar dit is in die vertoonkas (sjoukys, het tannie Oompie gesê) in die hoek waar die ware skatte verskuil gelê het.

Daar, netjies uitgestal op groen fluweelstof, kon jy die Joseph Roger’s knipmesse sien. Ander, minderwaardiger knipmesse is ook op dieselfde ‘sjoukysrak’ vertoon. Hiervan was die Okapimes die gewildste verkoper en ook die oorsaak van die meeste naweekongevalle in die omgewing.

Horlosies is op ‘n ander kasrak in drie afdelings gerangskik: Zobo sakhorlosies aan dié kant, Westclocks wekkers agter en die polshorlosies was Climax – nes die windpomp.

In Oompie en tannie Oompie se ‘sjoukys’ kon jy ook ‘Baaisiekel’ speelkaarte gestapel sien lê. Die Zippo sigaretaanstekers het almal ‘laaiters’ genoem en hulle was destyds nog goedkoop genoeg vir ‘n stout kind om dit te kon bekostig, maar Oompie het sy voet dwars gesit en hy wou ook nie glo dat jy die pakkie tien Texan vir jou oom wou aankoop nie.

Op ‘n ander ‘sjoukysrak’ was blink kettinkies en ringetjies van alle soorte en oorbelle en borsspelde en ‘kaflienks’ en goed. Porselein hondjies en katjies en veelkleurige voëltjies, sout-en-peperpotjies met gesiggies het op ‘n ander rak gepronk. En ‘n gesigbierbeker van ‘n kwaai oom met ‘n plat hoed het in die hoek gestaan.

Ai, die dae . . .

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online